Skip to content
Menu
Menu

’n Klavier-virtuoso met groot drome

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is uniek in die sin dat dit Suid-Afrika se enigste musiekkompetisie eksklusief vir Suid-Afrikaanse jong pianiste is. Ons het gesels met vanjaar se wenner, Hermanus Schmidt, ’n Graad 11-leerder by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Baie geluk met jou ongelooflike prestasie! Wat het deur jou kop gegaan toe jy hoor jy is nie net die wenner van jou afdeling nie, maar die algehele kampioen van die kompetisie?

Ek het gevoel dat ek die heel beste werk wat ek kon vir die kompetisie gelewer het, so ek was ongelooflik bly om beloon te word met eerste prys, alhoewel mens altyd moet bewus wees dat die uitslag net ’n bonus is in kompetisies op hierdie vlak.

Jy het in soveel verskillende style uitgeblink – Klassiek, Romanties én Modern. Is daar een styl waarin jy die meeste tuis voel, of geniet jy juis die afwisseling?

Ek is lief vir al die style solank die musiek effektief is, maar in dié kompetisie het ek die meeste tuis gevoel in die Romantiese afdeling, met die Liszt- en Scriabin-stukke.

Girl

 

Baie mense sê klavierspel is net soveel oor gevoel as oor tegniek. Hoe kry jy dit reg om die balans te hou tussen perfek speel en regtig iets te “sê” met jou musiek?

Ek glo dat goeie tegniek vir jou net ’n platform skep om nog meer ekspressief te wees. As jy nie behoorlike tegniek het nie, is dit onmoontlik vir jou om dít wat binne in jou is aan jou gehoor uit te straal. Daarom moet mens hard en streng werk op tegniek, maar nooit vergeet waarom jy so hard werk nie.

Om vir so ’n groot kompetisie voor te berei vra seker baie tyd en harde werk. Hoe lyk jou oefenroetine, en hoe hou jy jouself gemotiveerd as jy moeg of gefrustreerd raak?

Dit vat definitief tyd en harde werk. My oefenroetine hang van die dag se skedule af, maar in die weke voor die kompetisie tel die ure aansienlik meer op. Daar is tye waar ek moeg word, maar dan is rus al wat ‘n mens kan doen, en dan maar weer begin. My motivering kom van my passie vir die musiek en die instrument, en dit sal nooit opraak nie.

dude

 

Jy het nou al twee groot kompetisies gewen – Atterbury én Johann Vos. Wat’s volgende vir jou? Droom jy van internasionale studies of optredes, en wie inspireer jou die meeste as pianis?

Ek gaan binnekort weer deelneem, die Nasionale Jeugmusiekkompetisie vind vroeg in Desember plaas; en sal ook volgende jaar weer inskryf vir soveel as moontlik kompetisies. Dit is vir my ’n droom om eendag oorsee mee te ding en dalk ook te studeer, om soveel as moontlik opleiding en ervaring op te doen. ’n Pianis wat my onlangs baie geïnspireer het was die jong Koreaan Yuncham Lim, wat op 18 die jongste wenner nog geword het van die Van Cliburn Internasionale Klavierkompetisie, en wat al klaar ’n wêreldklas pianis is met ’n wêreldklas repertorium.

Main

 

ATTERBURY NASIONALE KLAVIERKOMPETISIE 2025 UITSLAE:

Wenner: Hermanus Schmidt

Naaswenner: Jason Shi

Derde prys: Agnes Huang

Kategoriewenners

12 jaar en jonger: Agnes Huang

15 jaar en jonger: Jason Shi

19 jaar en jonger: Hermanus Schmidt

Gehoorgunsteling: Hermanus Schmidt

Beste uitvoering van ’n Barokwerk in die eerste rondte: Jason Shi

Beste uitvoering van ’n Romantiese werk in die eerste rondte: Hermanus Schmidt

Beste uitvoering van ’n Klassieke werk in die tweede rondte: Hermanus Schmidt

Beste uitvoering van ’n Moderne/Impressionistiese/Suid-Afrikaanse werk in die tweede rondte: Hermanus Schmidt

Beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse werk in die derde/vierde rondte: Victor le Du

Atterbury Trust is ’n trotse ondersteuner van die kuns en kultuur in Suid-Afrika. Indien jy ’n donasie wil maak om ons werk uit te brei, klik op skakel: DONASIEWINKEL ONDERSTEUN DIE KUNSTE