Heindrich Wyngaard is ‘n meningsvormer, skrywer, en direkteur van die Atterbury Foundation. Hy is al vir lank by Afrikaanse taalinisiatiewe en burgerregte betrokke. Hy vertel van sy besondere trots vir die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) en die tasbare verskil wat Atterbury Foundation se werk maak.
Jy het oor baie jare Suid-Afrika se uitdagings en geleenthede van naby beleef. Wat het jou gemotiveer om by die Atterbury Foundation betrokke te raak?
Dis aan my vertel dat my werk onder Afrikaanse organisasies en taalinisiatiewe, waaronder die bevordering van moedertaalonderrig, onder die aandag gekom het van ons groot motiveerder, inspireerder en mentor Francois van Niekerk. Dit was daaruit dat ek die voorreg gekry het om deel van die AF-familie van verskilmakers te word.
Van al die projekte of mense wat jy deur die Foundation ontmoet het, is daar een storie wat jou besonder geraak het?
My primêre belangstelling was van die begin af nie individuele projekte of deelnemers nie, maar die waarde wat deur die MOI-inisiatief belê en toegevoeg word tot kinders uit die MOI-teikengemeenskappe. Om waar te neem hoedat die aanvanklike onsekerheid omskep word in opgewondenheid en selfversekerde deelname, het my oorvertelverhaal oor MOI geword.
Jy praat gereeld oor hoop en die toekoms van Suid-Afrika. Wat gee jóú vandag rede om hoopvol te bly?
Wat my hoop gee, is dat daar – te midde van al die redes vir mismoedigheid – nog genoeg individue en instellings is wat soggens opstaan en met ywer die taak van hoopskepping aanpak. Om saam met sulke mense te kan werk, versterk ook my eie geloof in die toekoms en my eie ingesteldheid om ander te help om op dieselfde vlak van nooit moed opgee nie te kom.
Wat dink jy verstaan mense nog nie ten volle van die werk wat die Atterbury Foundation doen nie?
Miskien wil ’n mens die vraag omdraai: waarom dink mense soms ’n stigting soos die Atterbury Foundation se primêre taak is om geld uit ’n maatskappy se korporatiewe maatskaplike beleggingsbegroting te bestee? Die rede is dalk dat ons nie altyd bereid is om aan die buitewêreld te wys wat ons doen nie. Wanneer mense eers die volle impak van projekte sien, sal hulle anders dink oor die werk van ’n organisasie soos die Atterbury Foundation.
As jy met ’n sakeleier of potensiële vennoot kon gesels wat nog wonder of hulle betrokke moet raak, wat sou jy vir hulle sê?
Ek sou sê dit is ’n wanindruk dat ’n organisasie soos Atterbury Foundation nie eksterne ondersteuning nodig het nie; en dat potensiële donateurs ’n groot verskil kan maak om ons programme te laat groei en te verseker dat ons meer uitskieters in die teikengemeenskappe kan help om hul volle potensiaal te bereik.
Jy het oor die jare baie stories vertel. Vandag help jy om nuwe stories van hoop moontlik te maak. Hoe het daardie verskuiwing jou eie perspektief verander?
Die beste vir my is om ’n deel van my eie lewensverhaal met jongmense te kan deel – ’n verhaal (as ek die digter Lionel Sheldon se woorde kan gebruik) van ’n ‘landelike verwaarloosde’, meegebring deur armoede en hongerte, wat danksy die hulp van ander en my eie harde werk iewers in die lewe kon kom. Hoe meer sulke verhale gedeel kan word, hoe groter is die moontlikheid om meer gesinne uit ellende te help ontsnap. Die jongmense wat voordeel uit Atterbury Foundation se werk trek, besef hopelik hoe belangrik dit is dat hulle daaraan moet meewerk deur die skep van hul eie suksesverhale.