Atterbury Foundation is baie opgewonde oor die bekwame nuwe direkteur wat pas by die stigting aangesluit het. Ons leer vir Merlyn van der Rheede beter ken.
Jy is passievol oor Afrikaans en het al diep gekyk in die gebruik van die taal om gemeenskappe te bemagtig. Hoe sal jy jou analise verwoord in twee of drie sinne? Is daar hoop vir Afrikaans onder die grootste groep moedertaalsprekers, hier met sy 100ste bestaansjaar net agter die rug?
Afrikaans is nie net ’n taal nie, maar ’n draer van identiteit en gemeenskapswaarde. Navorsing en praktyk wys dat wanneer mense hul moedertaal as ’n bate ervaar – veral in onderrig – dit selfvertroue, gesag en sosiale mobiliteit versterk. Ja, daar ís hoop vir Afrikaans onder sy grootste groep moedertaalsprekers, mits ons doelbewus belê in opvoeding, inklusiwiteit en toegang, én die diverse wortels van Afrikaans erken en koester.
Hoe het jou paadjie as pedagoog jou gebring tot by die Atterbury Foundation?
My loopbaan as pedagoog het my voortdurend gekonfronteer met die realiteite van ongelyke toegang tot gehalte-onderrig. Deur my werk in onderwys, gemeenskapsontwikkeling en navorsing het ek besef volhoubare verandering begin vroeg – by kinders, onderwysers en ouers. Hierdie pad het my organies gelei na instellings soos die Atterbury Foundation waar opvoeding, taal en menswaardigheid saamvloei en waar ek hoop om deur die Foundation my passie vir groter toeganklikheid in voorheen benadeelde gemeenskappe verder te kan uitleef.
Wat was dit omtrent die Foundation wat jou aangetrek het, en hoekom het jy ingestem om aan te sluit as direkteur?
Wat my die meeste aangetrek het, is die Foundation se duidelike fokus op Afrikaanse gemeenskappe, en spesifiek op onderwys en beurse aan behoeftige studente wat andersins nie toegang tot tersiêre onderwys sou hê nie. Vir my gaan dit oor gehalte-onderrig, volhoubare vennootskappe en tasbare impak – om te help bou aan ’n toekoms waar taal en onderwys geleenthede oopmaak vir die breër samelewing.
Atterbury Trust en Atterbury Foundation glo vas in die voordele van moedertaalonderrig. Hoe sluit jy hierby aan; wat het jou ervaring jou geleer?
My ervaring, sowel as navorsing, bevestig dat moedertaalonderrig nie ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir kognitiewe ontwikkeling. Kinders leer beter, dink meer krities en bou ’n sterker selfbeeld wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word. Dit lê ’n stewige fondament vir meertaligheid en lewenslange leer. Die enigste volhoubare weg uit armoede is opvoeding.
Watter bydrae hoop jy om te maak in hierdie rol – wat is jou hoop vir die stigting en die kinders wat deur hierdie program gaan?
Ek hoop om by te dra tot strategiese verdieping, volhoubare vennootskappe en groter sigbaarheid vir die Foundation se werk. My wens is dat elke kind wat deur hierdie program geraak word, nie net akademiese vaardighede ontwikkel nie, maar ook ’n gevoel van behoort en samehorigheid. Uiteindelik gaan dit oor hoop – vir kinders, gesinne en gemeenskappe.
Jy is ‘n Kapenaar wat al etlike jare in die Noorde woon en Pretoria jou tuiste gemaak het. Uit ’n Afrikaanse oogpunt, kan jy vir skeptici ‘n rede gee hoekom elke stad ’n spesiale plek in jou hart het?
Die Wes-Kaap is my wortels – die plek waar my taal en wêreldbeskouing gevorm is. Pretoria het my gevorm in ’n ander fase van my lewe en my ’n nuwe perspektief op taal en mense gegee. Uit ’n Afrikaanse oogpunt verteenwoordig albei stede die ryk diversiteit van Afrikaans en wys dat die taal nie aan één plek behoort nie, maar oral leef waar mense dit met trots gebruik. Die Kaap en sy mense gee aan Afrikaans sy veelstemmigheid en kleur, terwyl Pretoria se tradisionele Afrikaans ’n ander, ewe belangrike anker vir die taal bied. Ek is dankbaar om weer terug te wees in die mooie Kaap.
Jy is ook toegewy tot die ontginning van jong vroue se potensiaal. Hoe reken jy kan Atterbury Foundation in hierdie verband aangewend word?
Ek glo sterk dat jong vroue se potensiaal ontsluit word wanneer hulle geleenthede gegee en ondersteun word. Die Atterbury Foundation kan hier ’n rol speel deur veilige leeromgewings te skep, rolmodelle sigbaar te maak en meisies se selfvertroue en leierskap reeds op ’n jong ouderdom te ontwikkel. Onderwys is ’n kragtige hefboom vir vroulike bemagtiging. Elke vrou het ’n unieke stem en die vermoë om ’n betekenisvolle invloed in haar gemeenskap uit te oefen. Jong vroue het mentors nodig – ouer vroue na wie hulle kan opkyk, wat deur hul voorbeeld ’n verskil maak en leiding gee. Wanneer vroue versterk word, word ook gesinne en gemeenskappe versterk.
Laastens, vertel ons iets oor Merlyn as sy by die huis is. Wat doen jy en jou gesin graag in julle vrye tyd?
By die huis is ek eerstens ’n vrou, ma en lewensmaat. Ek is getroud en het twee kinders wat my nederig hou en perspektief gee. In my vrye tyd geniet ek familie-oomblikke, lees, die see en buitelewe en reis wanneer ek kan. Ek is passievol oor gemeenskapsontwikkeling en dit herinner my hoekom ek die werk doen, en hoekom dit saak maak.