Skip to content
Menu
Menu

‘n Jong ingenieur se liefde vir sêr

Atterbury Trust Acappella is gebore omdat studente-sêrgroepe graag met mekaar wou meeding, en dit was te danke aan die passie van een Atterbury Trust beursalumnus. Ons het gesels met die veelsydige Altus Bisschoff.

Ons moet vir jou dankie sê dat daar nou weer ’n nasionale platform is vir studente sêrgroepe, nadat jy die Trust so paar jaar gelede genader het om te help. Wat was jou rol by Atterbury Trust Acappella 2025?
Die idee vir ’n nasionale sêrplatform het ontstaan uit ’n behoefte om weer ruimte te skep waar studente sêrgroepe hul talent, kreatiwiteit en kultuur kan uitleef – veral ná die pandemie en ook ná die vorige nasionale kompetisie ongelukkig tot ’n einde gekom het in 2016. Ek was van die begin af betrokke by die konseptualisering en organisasie van die kompetisie, saam met die Atterbury Trust-span. My rol fokus hoofsaaklik op die raamwerk van die kompetisie – beoordelingskriteria en logistiek. Dis vir my ongelooflik om te sien hoe dit in net drie jaar gegroei het tot een van die hoogtepunte op die studente-kultuurkalender.

Hoe groot is die sêr-fenomeen by Suid-Afrikaanse tersiëre instellings? Waar kom jou eie liefde vir sêr vandaan?
Sêr is steeds een van die mees geliefde kulturele tradisies aan Suid-Afrikaanse universiteite. Dit bring studente van uiteenlopende agtergronde bymekaar en leer hulle spanwerk, dissipline en kreatiwiteit. My eie liefde vir sêr het begin toe ek as student deel was van my Sonop koshuis se sêrgroep. Ek was bevoorreg dat ons twee keer die Universiteit van Pretoria se interne kompetisie gewen het, en ek het ook later die kompetisie gewen as afrigter. Daardie eerste ervaring van harmonie, verhoogenergie en kameraadskap het my dadelik aangegryp.

Altus Bisschoff (regs) saam met sy mede-beoordelaars by Atterbury Trust Acappella 2025
Altus Bisschoff (regs) saam met sy mede-beoordelaars by Atterbury Trust Acappella 2025

Hoe het vanjaar se kompetisie afgeloop? Is almal wat betrokke was tevrede, en wat was die terugvoer van die deelnemers?
Dit was sonder twyfel ons grootste en mees professionele aanbieding tot dusver. Daar was ‘n rekordaantal inskrywings waaruit ons kon kies, die standaard van die deelnemende groepe was uitsonderlik hoog, en die tegniese afhandeling het baie positief verloop. Die terugvoer van deelnemers was oorweldigend goed – baie het genoem dat hulle dit as ’n hoogtepunt van hul jaar beleef het. Ons is trots daarop dat dit nie net ’n kompetisie is nie, maar ook ’n viering van gemeenskap en talent.

Wat was vir jou persoonlik die hoogtepunt of hoogtepunte?
Die grootste hoogtepunt vir my is altyd wanneer die eerste groep op die verhoog stap en jy die energie in die Atterbury Teater voel – daardie mengsel van spanning, trots en opgewondenheid. Nog ’n besonderse oomblik is altyd die uitslae, wanneer jy sien hoe groepe mekaar ondersteun en saam die sukses vier.

Vertel ons meer van jou paadjie as ’n Atterbury Trust beurshouer, en waar jy jou vandag bevind.
Ek was vanaf 2015 tot 2018 deel van die Atterbury Trust-beursprogram tydens my studie aan die Universiteit van Pretoria, waar ek my graad in Meganiese Ingenieurswese voltooi het. Vandag werk ek as projekbestuurder in die mynboubedryf, by Fraser McGill in Fourways, waar ek verantwoordelik is vir groot infrastruktuur- en ontwerp-projekte. Tans is ek besig op die Mponeng Deepening projek net buite Carltonville waar ons die wêreld se diepste myn nog dieper maak.

Wat het die Atterbury Trust-beurs vir jou beteken? En wat voel jy beteken Atterbury Trust vir die breër kultuurgemeenskap?
Die Atterbury Trust het ’n geleentheid geskep. Sonder hul ondersteuning sou baie van ons nie die kans gehad het om te studeer of ons talente ten volle te ontwikkel nie. Hulle glo in mense – nie net in akademiese prestasie nie, maar in karakter, drome en bydrae tot die gemeenskap. Vir die breër kultuurgemeenskap beteken Atterbury Trust hoop en volhoubare belegging in die volgende generasie kunstenaars en leiers. Atterbury bou nie net geboue nie – hulle bou mense.

Atterbury Trust is afhanklik van die donasies van weldoeners om programme soos die beurslenings vir verdienstelike studente soos Altus, Afrikaanse kultuurprojekte soos Acappella, en nog baie ander omgeeprogramme te befonds. Vind meer uit oor die moontlikhede: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/