Dit was vroeg in die dag op Blouberg se strand. Ek moes seker geweet het dat ’n spesiale dag op my wag, toe ek vroegoggend onverwags die bloedrooi maan deur die gastehuis se venster oor die see sien hang het. Ek is donkeroggend, net voor ses, af strand toe. Die dag gaan groet langs die see. ’n Stappie gestap – op Blouberg se strand. ’n Koelronde grys klippie in die oseaan gegooi. En gevra vir insig en krag vir die dag.

Ek vat die R27, Weskuspad, Atlantis toe en dink hoe bevoorreg ek is dat dít vandag my pad werk toe is. Langs die pad sien ek lappies geel en pienk – die laaste van die lenteblomme. Dis my tweede besoek aan Atlantis, die eerste keer dat ek self ry.  Ek verdwaal so bietjie tussen al die fabrieke aan die suidekant van die dorp. Met Rudi se hulp, vind ek die pad weer redelik vinnig, verby die Weskus Kollege tot ek die Atlantis kliniek se teken sien. By die CPA se kantoortjie aangekom, sien ek al ’n klompie jongmense wag. Ek sien hartseer in die oë, maar voel tog die hoop in hulle harte aan. Party kyk my direk in die oë, ander meer skugter en hier en daar bespeur ek ’n bietjie agterdog, is dit nou regtig? Ek sien ook vir Caroline, mooi getooi in pers en swart, wat my met ’n breë glimlag en ’n hartlike druk inwag. En aunty Hellen met ’n nuwe blikkie Ricoffy, spesiaal vir vandag gaan koop. Rudi, Gerald, Issie en oom Pieter – hulle voel al soos ou bekendes. Opgewondenheid hang in die lug, want vandag gaan ons die eerste beursonderhoude doen. Hulle wag al lank vir hierdie dag. Twintig jaar al.

Die vorige dag is daar ’n dankdiens in Atlantis gehou. Vir wat nou by Richmond Park gaan gebeur. Selfoonvideo’s word gewys. Hulle spog met “ons eie” kinders wat die musiek gemaak het – gesing het, keybord gespeel het. Onder aan die program staan: “As God vir Richmond is, wie kan teen ons wees.” Ek glo dit ook.

Dan begin die onderhoude – en soos die een na die ander kind deur die deur stap, begin ek iets verstaan van hierdie mense se wêreld. Van Ma’s wat hulle werk verloor het toe die klerefabrieke gesluit het, van Pa’s wat net nog nooit daar was nie. ’n Hardwerkende Oupa wat al meer as 30 jaar in Saldanha werk, ’n Ouma wat Ma of Pa se rol oorgeneem het as hulle nie meer kon of wou nie. Ek hoor van skole waar geen sport aangebied word nie, van “gangsters”, kinders wat bang is om alleen in die strate te loop, dwelms, matriek wat gedop is en lewens wat omgedraai het.

Daar is ’n hele paar blinkoogkinders. Party het reeds begin studeer. As ek vra waar die geld vandaan gekom het, hoor ek van planne. Die kleuterskool waar Rozanne gewerk het, het ’n braai gereël om haar Unisa registrasiegeld te betaal. Rasminah se Ma betaal so stuk-stuk soos sy kan. Melorey maak sakke uit ou denims en sy “upcycle” mense se ou grimering. Charney is bereid om verniet “home-care” te doen. Sy het ’n agt maande sertifikaat gedoen, maar sy wil vreeslik ’n regte verpleegster word.

Rehano se storie raak my regtig aan. Hy werk al vir twee jaar sonder enige vergoeding by Robinvale Hoërskool in Atlantis. Administratiewe werk, help met afrigting. Hy wil graag verder by ETA in sportafrigting studeer. My oog vang sy ID-dokument en ek werk uit hy word vandag 21. Op sy 21ste verjaarsdag wag hy reeds geduldigvir meer as vyf ure vir sy onderhoud. Sy Pa het onlangs gekwalifiseer as Wiskunde-onderwyser. Hy wil ook êrens kom.

Ons vergeet skoon om te eet. Laatmiddag bring hulle snoek en skyfies. My plekmatjie is ’n oorbly stukkie dondergrys matteël – dié word netjies reggeskuif onder my bord. Ek geniet hierdie eenvoudige maal saam met die mense van die CPA en voel nederig, dankbaar, bevoorreg en vreeslik opgewonde om deel te kan hê aan hierdie nuwe stukkie geskiedenis wat geskryf word in ons land.

IMG_6867

FullSizeRender