Zahn se kouewaterswem teen groeibelemmering
Uitvoerende Trustee Zahn Hulme het onlangs weer die koue Kaapse seewater aangedurf in die GROOTSwem, om geld in te samel vir die Startwell voedingsprojek. Sy vertel ons meer van hierdie besonderse ervaring.
Hoe het vanjaar se GROOTSwem vergelyk met 2023, toe dit jou eerste keer was?
Ek het veel beter geweet wat die GROOTSwem alles behels as met my eerste Robbeneilandswem in 2023. Van die skoenlappers op die maag as ’n mens donkeroggend by Oceana op die rubberboottjies klim tot die eerste stukkie swem deur digte kelp tot by die rotse van Robbeneiland van waar die eintlike GROOTSwem begin.
Die seetoestande op die dag was baie gunstig vanjaar. Met die vorige swem is ons gekortwiek deur ’n baie sterk seestroom vir die laaste twee kilometer van die swem. As jy reeds vir amper twee ure in die water is en jou kragte minder word, moet jy beide fisies en emosioneel sterk staan om klaar te maak. Ek het baie sterker gevoel toe ek die sand onder my voete voel by Bloubergstrand. Met die vorige keer het my bene amper onder my ingevou, maar hierdie keer kon ek uitdraf deur die vlak branders. En my tyd was amper 50 minute minder as in 2023!
Ons 12-weke oefenprogram het ook reeds in Januarie afgeskop – ek het beslis gevoel ek het meer stamina opgebou met die langer oefentyd. My liggaam raak ook geleidelik meer gewoond aan die koue water. Angus Taylor, my medeswemmer van my eerste Robbeneilandswem, het vir my ’n proteïnaanvulling aanbeveel wat spesifiek vir uithou-sportgeleenthede ontwikkel is. Ek het dit reeds tydens oefensessies gebruik asook ook elke halfuur gedurende die swem wanneer dit ons geskeduleerde voedingstye was. Al hierdie faktore het definitief bygedra tot ’n baie lekker tweede GROOTSwem.

Ons wil weet – wat sien jy alles onder die water as jy deur sulke diep water swem (brrrrr)?
Ons is met dagbreek so net na 06:00 die see in met die rubberbootjies en dit was lieflik om die eerste sagte lig so silwer oor die branders te sien deurbreek. Met die rit na Robbeneiland het ons dolfyne, robbe en seevoëls gesien. Dit was redelik bewolk op die dag en die see was so ’n groengrou kleur. Ek kon dus nie ver onder my sien nie. Van my medeswemmers het jellievisse gesien, maar ek het vanjaar absoluut niks onder die donker water gesien nie. Net die majestueuse Tafelberg met elke tweede asemhaal na regs.
Hoeveel van julle het almal geswem, en wat was jou finale tyd?
Daar was vanjaar 19 brawe swemmers, van jongmanne tot ’n paar oueres en die vroueverteenwoordiging raak ook sterker – daar was vanjaar vyf vroue-swemmers, teenoor slegs twee in 2023. Ek was die oudste swemmer in die groep op die dag en my tyd was 2:32.
Ons het gesien jy eet Startwell-pap vir energie voor julle die swemtog aangepak het. Die hele poging was ten bate van Startwell, so dit was baie gepas – het dit jou die nodige energie gegee?
Startwell se gebalanseerde hoë-protein ontbytpap wat ’n verskeidenheid grane, peulgewasse, vitamienes en minerale bevat, gee langdurige energie. Dit is ook nie swaar om vroegoggend te eet nie. Elke swemmer het met die vorige dag se bymekaarkoms en inligtingsessie ’n boks Startwell ontvang van Org van der Wath van Startwell en ek het gevoel dis simbolies belangrik om my Startwellpap voor die GROOTSwem te eet – dit was tog ons doel vir die lang swem op die dag.
Ek het deurgaans goed gevoel, nooit te moeg of dat my kragte minder geraak het nie. Ek drink ook van die Startwell “shakes” as ek nie tyd vir ’n behoorlike maaltyd het nie en ek vind dat ek versadig bly en terselftertyd al die nodige voedingstowwe, vitamienes, minerale en aminosure inneem.
Hoeveel geld kon jy individueel en julle almal saam vir Startwell insamel?
Ek is baie dankbaar vir Atterbury Trust, my ouers, twee sussies, vriende en kollegas wat my poging finansieel ondersteun het. Ek het in total R59 360 ingesamel. Daar is in totaal R1,057 miljoen vir Startwell ingesamel, wat beteken dat daar meer as 1 000 kinders vir die hele volgende jaar elke dag ’n porsie Startwell ontvang. Daar is ook groot bewustheid vir groeibelemmering in Suid-Afrika op ’n verskeidenheid platforms geskep wat verdere momentum aan die poging verleen.
Watter planne het julle by Atterbury Trust vir vanjaar om die Startwell-projek te groei?
Ons het tans 2 303 kleuters op ons Startwellprojek wat grotendeels deur WeBuyCars en Outsurance befonds word. Die reikwydte is tans 64 kleuterskole in ses provinsies. Daar word voortdurend nog nuwe donateurs gesoek en die Trustspan is kliphard besig met bemarking.
Ons het nou ook die eerste ses maande se resultate wat gemonitor is soos die kinders op die program vorder, en dis verblydend om eerstehands die daadwerklike verskil wat gemaak word, te sien. Die eerste reeks resultate het aangedui dat groeibelemmering in kinders wat reeds groeibelemmerd was met 19% afgeneem het en dat kinders met ’n risiko van potensiële groeibelemmering se risiko met 45% verlaag het. Daar is dus ’n goeie storie om te vertel wat verder ondersteun word met wetenskaplik gefundeerde resultate.
En hou jy aan swem noudat die uitdaging vir eers verby is? Waar swem jy die graagste?
Ek hou definitief aan om te swem, dit is so deel van my menswees en werklik tyd vir my om te reflekteer en gelyktydig lekker fiks te bly. Ek swem deesdae die graagste in die Swartvleimeer by Sedgefield. Ek hou daarvan dat die water helder is, en is deurentyd bewus van die mooie natuur rondom my. Dit is ook baie veilig en enige tyd van die dag toeganklik! Vir ’n tweede beste bly die swembad by Virgin Active in Stellenbosch ’n goeie opsie,
Die GROOTSwem is verby, maar jy kan steeds ’n baie welkome skenking maak aan die Startwell projek, en ’n kleuter se voeding borg: https://atterburytrust.org/shop/voed-n-kleuter-vir-n-jaar/
