Sestig nuwe Atterbury-beursstudente het sopas hulle universiteitsloopbaan begin, terwyl amper 60 ander alumni studente nou die regte wêreld aanpak nadat hulle graad gevang het. Ons hoor hoe dit gaan by twee van ons alumni.

Ulrich Paul is 21 en het in 2014 sy BCom Beleggingsbestuur graad aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Hoe het jy destyds van die Atterbury-beurs te hore gekom?
Ons het deur die Rapport geblaai en afgekom op die Atterbury Trust artikel … en dadelik aansoek gedoen!

Wat is die plan nou dat jy graad gekry het?
Ek het nou begin werk by ‘n maatskappy met die naam Share Direct, ek is ’n verkoopskonsultant. Ons verkoop kursusse om individue te leer om suksesvol op die aandelemark te verhandel. Ek glo verkope is essensieël tot enige besigheid se sukses en dis ’n veld waarin ek my nou wil bekwaam. Dan wil ek graag binne die volgende twee jaar my eie besigheid begin, en die plan is dat daar nog besighede sal volg. My drie-jaar graad het my geleer dat daar altyd ’n manier is om iets op ’n unieke manier te doen; en ook dat beleggings een van die belangrikste finansiële keuses is wat iemand kan maak. Een van my ander besigheidsidees is om ’n maatskappy te stig wat basiese finansiële opvoeding aanbied om mense te help om suksesvol oor geld te dink.

Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was en hoe lyk daardie prentjie nou?
Vandat ek klein was wou ek nog altyd ’n entrepreneur geword het soos my pa – hy het ’n onderneming gehad wat optiese-vesel kabels verskaf het. Wat my gefassineer het was die manier hoe ’n besigheid werk, nie soseer die spesifieke kabelbesigheid nie. Ek het later begin droom om eendag in ’n posisie te wees waar ek veelvuldige maatskappye bou en werkers finansiële stabiliteit bied, en dis steeds wat ek wil doen – ek wil lewens beïnvloed.

Wat dink jy gaan jy die meeste mis van die studentelewe?
Op universiteit leer mens soveel nuwe mense ken en word blootgestel aan verskillende denkwyses; en daarna kom jy nooit weer met presies so ’n wye verskeidenheid mense in aanraking nie. Ek sal dit mis, en as ek vir enige student kan raadgee sal dit wees om soveel nuwe mense te leer ken en te verstaan as wat moontlik is.

 

Percival

Percival van der Walt is ook 21 en het verlede jaar sy BSc Eiendomswese by Tukkies behaal.

Hoe het die Atterbury Trustbeurs destyds op jou pad gekom?
Ek het destyds van Atterbury gehoor deur Coenie Bezuidenhout, wat vir die maatskappy werk. Hy het gehoor ek soek finansiële hulp en het my van die beurslenings vertel.

Wat is die plan nou dat jy graad gekry het?
Ek pak vanjaar my honneurs aan, ek ek is ook besig om te registreer by die South African Property Evaluations Council for Property Evaluators, sodat ek deeltyds kan werk in die waardasiebedryf terwyl ek swot. Met die honneurs wil ek in konstruksieprojekbestuur ingaan en in daardie rigting spesialiseer.

Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was en hoe lyk daardie prentjie nou?
Ek wou nog altyd In die boubedryf wees, en ek het vanaf ‘n jong ouderdom dinge in die agterplaas gebou en klomp gate laat grawe vir die sogenaamde strukture! Ek wou aanvanklik elektriese ingenieurswese swot, maar dis net omdat my ouers gesê het dat dit ‘n goeie rigting is!

Wat reken jy gaan jy die meeste mis van die studentelewe?
Die vriende wat mens maak as student. Ek dink binne ‘n tydperk van drie jaar kan mens regtig lewenslange vriendskapsbande smee, en ek dink die geselskap en lag is wat ek die meeste sal mis.

En die minste?
Hehe, ek sal bly wees om die studentebegroting agter te laat!