Triomf Kliniek is so gelukkig om die dienste van ‘n nuwe dermatoloog te kon bykry. Dr Bonolo Mushiana spesialiseer in die behandeling van velkanker en nie-kwaadaardige velkondisies, en sy doen algemene, snykundige en kosmetiese dermatologie. Ons het gesels met hierdie engeldokter wat haar tyd en kundigheid vir die kliniek se behoeftige pasiënte skenk.

Hoe het dit gebeur dat jy in dermatologie gespesialiseer het – het jy altyd belanggestel in die vel en sy kondisies?

Ja, dit was van die begin af my plan om in dermatologie te spesialiseer, en omdat daar beperkte poste in die openbare sektor was, het ek sewe jaar gewag vir die opleidingspos by Pretoria Universiteit Steve Biko Hospitaal. In hierdie tyd het ek in die mediese afdelings in verskeie staatshospitale geroteer, en onder andere in ginekologie en so meer gewerk. Ek het nog altyd daarvan gehou om velkondisies te behandel en ’n verskil te maak in mense se lewens, veral dié met velprobleme wat hul selfbeeld en lewensgehalte affekteer. Ek is betrokke by groepe vir mense met albinisme en vitiligo, en doen praatjies om inligting te deel en mense op te voed oor dié kondisies.

Hoe het jou pad met Triomf Kliniek s’n gekruis en wat het jou laat besluit om betrokke te raak?

Ek het deur kollegas van die kliniek gehoor, en omdat ek veral belangstel in die behandeling van velkankers wou ek graag help. Ek het toe na Dr Marc Roscher uitgereik en het begin om minstens een keer per maand by die kliniek te werk, waar ek dan pasiënte ondersoek, klein prosedures uitvoer en wanneer ek het, ook sonskerm-middels uitdeel.

Kan jy ons meer vertel van een geval wat jou besonder geraak het?

Daar was een jong pasiënt met veelvuldige velkankers op sy arms, bors en gesig. Onbehandel sou dit baie ernstige gevolge kon hê – die gevaar bestaan dat dit kan versprei na die limfstelsel en verder. Dié pasiënt sal met my volgende besoek geopereer word om die letsels te verwyder.

Dan was daar ’n ander pasiënt by wie ek ’n onverwante probleem raakgesien het wat niks met dermatologie te doen gehad het nie, en waarvan sy heeltemal onbewus was. Ek kon haar toe verwys na die regte spesialis sodat sy dringend die nodige behandeling kon kry. Sy was so dankbaar, en dit het soveel vir my beteken om ’n ware verskil te kon maak in iemand se lewe wat andersins onnodig sou gely het.

Is daar enige ontwikkelinge in jou veld wat bydra tot jou vermoë om jou pasiënte te behandel?

Daar is heelwat ontwikkelinge, en ek het die geleentheid gehad om in Colombië met kollegas wat spesialiseer in velkanker-operasies te werk, waar ek baie waardevolle nuwe inligting eerstehands kon inwin.

Wie is Dr Bonolo as sy by die huis is?

Ek is getroud met Mphedzi Mushiana en ons het twee kinders – Muungulwa is 23 en Masindi is 13. Ons reis graag saam as ’n gesin, dis so lekker om so mooi herinneringe saam te skep, of ons nou in Suid-Afrika of oorsee reis.

Jou betrokkenheid by Triomf Kliniek word so waardeer. Wat is jou boodskap vir ander medici?

Dit is baie belangrik vir spesialiste om terug te ploeg in die gemeenskap, en dit is ook baie bevredigend. Ek kan almal aanraai om betrokke te raak!