Soos jy Atterbury se hoofkantoor, Die Klubhuis, in Pretoria nader, sien jy hom skuins oorkant die straat staan… hy tuur ver met ’n ysterkyk, ’n massiewe figuur wat drie keer ’n man se hoogte bo die sypaadjie uittroon. Hy is die Son of the Soil – Kinders van hierdie Klippe, en hy is geskep uit Afrikarots wat miljarde jare oud is. Beeldhouer Angus Taylor vertel ons alles omtrent sy jongste openbare kunswerk wat  befonds is deur ’n kommissie van Atterbury.

’n Paar jaar gelede het ek begin werk aan ’n saamgestelde portretstudie wat gebaseer is op die algemene mates en kenmerke van die mense wat my help om my werk te skep. Die evolusie van hierdie portret gaan steeds voort met elke beeldhouwerk wat ek skep.

In die filmindustrie word almal wat bydra, tot die teeskinker, erken; maar met beeldende en skone kunste word alles toegeskryf aan die briljante enkeling in die ateljee. En dis nie soos dit werk nie, veral nie met beeldhouwerk nie. Miskien omdat ek in Afrika grootgeword het, is ek meer geneig tot ’n kollektiewe kultuur, eerder as ’n suiwer individualistiese aanslag. Soos die Afrika-spreekwoord sê: Motho ke motho ka batho babang (“’n mens is ’n mens danksy ander mense”).  Ek is, danksy die span met wie ek werk (en hulle, danksy my).

Die portret verteenwoordig derhalwe die kollektiewe groep mense betrokke by my DSW ateljee, wat in 1996 gestig is. Hulle almal woon in en om Pretoria en oor die laaste twee dekades het ons beduidend bygedra tot die hele streek se openbare kunsskat, wat weer moontlik gemaak is deur die ondersteuning van beskermhere soos Atterbury.

Openbare kuns kan ’n geskenk wees aan ’n gemeenskap, indien dit reg beskou word. As dit geskep word vir die staat of politieke ideologieë of kerk, kan dit faal. Kuns praat. Dit kan iets baie diepgaande sê of doen as dit visueel leesbaar is.

Hoewel daar baie lae van betekenis en vele oorwegings in die Kinders van Hierdie Klippe belê is, bly die werk oop vir interpretasie deur die kyker.

Ek deel wel graag ’n paar van die gedagtes wat gelei het tot die verwesenliking van die werk.

Geologie verteenwoordig vir my ’n begrip van die tasbare merkers om ons en hulle stories binne tyd se diepste lae. Die stories wat mens uit ’n stuk rots kan aflei is merkwaardig – byvoorbeeld ’n 3.6 miljard-jare oue stuk verharde prehistoriese strand, wat bestaan het toe die maan sy siklus om die aarde binne 15 dae voltooi het pleks van vandag se 28 dae. Dit was daar toe baie min landmassa en lig bestaan het, en voor enigiets wat sellulêr kompleks was. Daar was byna geen suurstof nie. En tog, hier staan jy en hou hierdie prehistoriese strand in jou hand – ’n gedagte wat ’n mens se kop laat spin. Hierdie stuk rots is net ’n klip, as jy nie dieper verstaan nie. Maar as jy weet dat dit ’n duisend keer ouer is as jy as ’n hominied, voel jy nederig.

Dit laat my nie nihilisties dink nie; ek vind dit inteendeel inspirerend, asof die klip sê, “Jy het hierdie kort oomblik binne die konteks van tyd; ’n gawe… wat gaan jy daarmee doen?” Gaan jy selfdienend en gedryf deur ego mededingendheid najaag, of gaan jy op ’n dieper vlak omgaan met jou bestaan?

In jou oomblik kan jy betekenis kry deur jou wêreld positief te transformeer, om beter te wees. Die betrokkenheid kan deur verhoudings, mense of idees plaasvind, of die interaksie met jou fisiese wêreld en sy materiale. ’n Mens kan probeer om idees oor te dra wat versprei behoort te word, begrip te kweek wat andere en ook jouself kan help, of jy kan mik om mense te inspireer om beter te doen deur jou eie heel beste te doen.

Die standbeeld is groot en kan intimiderend wees, maar dit het hopelik ’n kalmerende effek – peinsend en diep in gedagte – wat die toeskouer sal toelaat om dieselfde te doen. Nog ’n interpretasie-laag is dat dit hopelik met kalm sekerheid die skoonheid wat ons as vanselfsprekend aanvaar, uitspreek: die aarde waarop ons loop, die grond waarin ons grawe om ’n boom te plant of  ’n fondasie te lê, of iemand te begrawe. Ons is omdat die grond is – dis so ’n eenvoudige feit, maar ons blyk te vergeet dat as ons daarmee mors (soos byvoorbeeld deur hidrobreking, of fracking), ons alles op die oppervlak kan verloor.

Omdat dié rots is, kan die spesifieke grond wees, en daarom kan die spesifieke plante groei, en die spesifieke diere kan wei, en daarom kan ons wees. Die rots verteenwoordig die fondament van die lewe.

Die klipsoorte wat in “Kinders van Hierdie Klippe” gebruik is, is meestal harder as sewe op die Mohsskaal van hardheid. Om die konteks te verstaan:  marmer en beton lees vier op die Mohsskaal, die Gabbro (wat algemeen bekend is as Belfast-graniet) lees as sewe, maar die Rooi Jaspis en Tieroog is op nege. Diamante lees 10 op die Mohsskaal. Dis dus nie vir sissies nie.

Nog ’n betekenislaag het te doen met die feit dat klip ’n tasbare, onweerlegbare waarheid verteenwoordig. Dit wat is, is. Dit klink weereens dalk basies, maar dink aan die volgende:

In 2016 was die Oxford-woordeboek se woord van die jaar “post-truth”. Hoe ontsenuend! As mens ’n stuk klip bestudeer, kan jy so baie inligting daaruit te wete kom:  die minerale, die komposisie, die omgewing, die ouderdom daarvan. Dit staan direk teenoor opinie of kollektiewe indrukke wat op feite gebaseer mag wees, of ook nie. Klip kan letterlik jou gedagtes anker en konteks en ’n grondslag aan jou begrip gee – iets wat baie gesond en noodsaaklik is vir vandag se samelewing.

Nog ’n laag verwys na ’n komplekse versameling nuanses: die klip as metafoor vir bestaan. Die lewe is kompleks en dubbelsinnig. Binne hierdie geheimsinnigheid is soveel skoonheid vervang. Maar as mens hierdie rykdom en kompleksiteit vereenvoudig tot die boustene kan dit maklik vaal en arm voorkom. Die lewe kan nie afgeskaal word na net swart en wit, onderdrukker en onderdrukte, Afrika en Westers, gelukkig en ongelukkig nie

Die ryke diversiteit van bestaan kan maklik visueel uitgebeeld word deur bloot ’n studie te maak van sommige van Suider-Afrika se natuurlik klipkleure – rotse is nie net bruin nie.

Hier is ’n paar van die klipsoorte wat ons in die standbeeld gebruik het:

Belfast Gabbro, wat twee miljard jaar oud is, kom uit die grootste kokende klipborrel op aarde, die Bosveldstollingskompleks. Die pragtige, klipharde Rooi Jaspis kom uit Griekwastad-Wes. Die groen steen vorm deel van die antieke Barberton Groensteengordel (Hoewel mens moet noem dat antieke groensteen nie noodwendig groen in kleur is nie). Verdiet, soos dit bekendstaan, is 3.5 miljard jare oud. Die wit marmer is vanaf Namibië.

Ek het kontinuïteitsonthalwe lae herhaal, maar elke laag kon maklik van ’n ander kleur klip gewees het.

Die metode wat ek gebruik het om die beeld te maak is nogal ingewikkeld, maar kortliks:

Ek het eerstens ’n halfskaalmodel uit klei gemaak, en dieselfde proses gebruik vir die detail-aspekte op die volgrootte beeld: die arms, die voete en borsbeeld. Die eenvoudiger vorms – torso en bene – is digitaal in skaal vergroot deur ’n staalraam te lasersny. Oor die groter kleidele het ons ’n staalraam gesweis wat uitmekaar gehaal kon word. Die gietvorm is gemaak deur die lasersny-raam aan die gesweisde raam te verbind. Binne die gietvorm het ons die standbeeld as ’n kliplaag gebou en gebeitel. Elke stuk is geboor en met staal aan die binnekant van ’n staalstruktuur vasgemaak; dis ’n staalstruktuur wat aan die binnekant inmekaarskakel, en wat in vyf lae uitmekaargehaal kan word vir vervoerdoeleindes.

Die binnekant is solied gemaak met ’n gietbare materiaal. Alles in ag genome, ook die skaalmodel en die bou van die staalraam, het dit ons 16 maande geneem om die standbeeld te voltooi. Die klipwerk op sigself het nege maande geneem.

Ons het probeer om die standbeeld so lig moontlik te maak, maar die kop en skouers alleen weeg 530 kg. Bo die grond weeg die standbeeld meer as vier ton.

Hierdie spesifieke standbeeld vorm deel van ’n groter versameling werke waarin ek fokus op ons plaaslike natuurlike materiale.

Die heel eerste skulpturele vorm wat ons as mense gemaak het, was ’n hoop klippe. Dit is gebruik om belangrike plekke in ons omgewing te merk, en dit bestaan al duisende jare in die menslike kulture waar ’n bepaalde soort klip beskikbaar was. Die idee dat ’n hoop klippe die oudste manier was om iets te skep, was vir my beide uitdagend en betekenisvol. ’n Standbeeld word iets “groots” en merkwaardig, omdat jy ’n model uit klei boets en in brons giet, te danke aan die magiese alchemie van metaal in vloeistof verander en die vloeibare metaal weer in jou standbeeld verander. Dis baie moeiliker om ’n klipstapel in iets onvergeetliks te omskep.

Dit hou ’n mens nederig en ek voel uiters bevoorreg dat ek kan werk met ’n materiaal wat amper die helfte so oud is soos die aarde self… wat 4.6 miljard jare gelede gebore is. Omdat die klip reeds iets was voordat ek daarmee begin werk het, word dit ’n aktiewe samewerkingsproses tussen my, my assistente en die materiaal. Klip se “is-wees” of tsu-jan loop baie diep; en deur hierdie “is-wees” met respek te verstaan, kan jy saam groot dinge bereik.

Openbare kuns is die soort kuns wat my die besigste hou binne my praktyk. Ek sien dit as ’n geskenk aan die breër gemeenskap, eerder as net die gekultiveerde handvol wat gallerye en museums besoek. As dit reg benader en uitgevoer word, raak openbare kuns deel van die gemeenskap se erfenis, kultuur en rykdom.

Geen kunstenaar wat sy of haar sout werd is, is altyd honderd present gelukkig met die eindresultaat nie. Die onderneming om iets te skep, vra van die maker om altyd weg te beweeg en harder te probeer, beter te doen. Gedurende die loop van ’n jaar kon ’n mens hopelik groei, en leer om skerper te kyk, en meer en beter te verstaan; en sodoende kan ons met die volgende beeldhouwerk ons uiterste bes probeer. Ek is so dankbaar vir die geleentheid om ons bes te doen. Sonder Atterbury se kommissie, weens die skaal van hierdie werk, sou dit nie moontlik gewees het om dit te realiseer nie. En dit kom voor asof die gemeenskap die werk met dankbaarheid aanvaar het en dit verwelkom het, en dit maak my gelukkig.