Vir Atterbury Trust is elke maand Jeugmaand, want die toekoms, en ook die elke dag se welstand, van Afrikaanse jeug lê baie ná aan ons hart. Uitvoerende trustee Zahn Hulme gee ’n kykie agter die skerms van die Trust se werksaamhede ter ondersteuning van behoeftige kinders en jongmense waarby die Trust betrokke is.

Hoe het Atterbury Trust se betrokkenheid by die behoeftige skole in en om Pretoria uitgebrei sedert julle aanvanklik begin help het? Hoeveel skole is tans in julle sorg, en hoeveel kinders word geraak?
Die Atterbury Trust ondersteun ’n aantal skole in die weste en noorde van Pretoria al vir meer as twintig jaar met onder andere finansiële en infrastruktuurhulp. In sommige gevalle word onderwysersalarisse ook gesubsidieer. Hierdie hulp is oor die afgelope jaar met die totstandkoming van Terugploeg, die nuwe voedselverskaffingsinisiatief wat onder die vaandel van die Trust hardloop, baie uitgebrei. Die maaltyd wat baie kinders by van hierdie skole ontvang, is ongelukkig dikwels die enigste maaltyd waarvan daardie kinders seker is.

Daar is ongeveer 10 skole wat direk baat by hetsy maandelikse bydraes, Terugploegkosverskaffing of ad hoc betrokkenheid met byvoorbeeld Mandeladaginisiatiewe.

Ons is al amper by die 100 ton merk van kos verskaf sedert Terugploeg net meer as ’n jaar gelede geloods is. Afgesien van al die kinders wat deur die skoolprojekte bereik word, is kinders die direkte begunstigdes by amper al die organisasies waar kos en klere as deel van die Terugploeginisiatief uitgedeel word.

Het Atterbury Trust enige spesifieke aksies vir Jeugmaand van stapel gestuur?
Elke maand is mos maar Jeugmaand hier by die Trust en alhoewel ons aanvanklik op Jeugdag van ons studente wou betrek by ’n fisiese sopkombuis-projek, het ons in die lig van die Covid-pandemie besluit om nie te veel mense fisies bymekaar te kry nie. Ons het dus net voortgegaan met die normale uitdeelaksies.

Julle het te midde van die geweldige druk op hulpbronne ook weer ’n klompie studiebeurse beskikbaar gestel in Junie – hoeveel aansoeke het julle gekry, en hoeveel beurse kan julle toeken?
Daar het net minder as 200 aansoeke ingekom – ’n reuse aantal as mens in ag neem dat die aansoeke net vir twee weke oopgestel is! Dit is ’n duidelike aanduiding van die geweldige nood onder behoeftige studente in ons land. Met die begroting tot ons beskikking het ons ongelukkig net tien beurse beskikbaar – dit is ’n uitdagende proses om te bepaal watter tien studente het die ondersteuning die nodigste! Daar is verlede week onderhoude gevoer en dis altyd ’n voorreg om die oproep te kan maak om ’n student in te lig dat ons kan help om die geweldige bekommernis oor finansies te verlig.

Wat is die status van die beursprogram tans – hoeveel studente in totaal ondersteun julle tans, en wat is die oorkoepelende getal van studente wat deur die program is oor die afgelope twee dekades?

Daar is vanjaar ongeveer 120 studente in die beursprogram en daar is bykans 700 beurse sedert 1998 toegestaan. Van hierdie studente het 540 grade behaal. Dit is ons nalatenskap om te weet dat die Atterbury Trust mense in staat stel om die sirkel van armoede in hulle families te verbreek en ook nog meer, toegerus word om ’n aktiewe bydrae tot die ekonomie in ons land te maak.

Die Atterbury trust in ook nie onaangeraak deur die negatiewe impak van die Covid-pandemie nie en ons moes ongelukkig einde verlede jaar die moeilike besluit neem om vanjaar heelwat minder nuwe beurse toe te staan. Ons kry egter gereeld e-posse en oproepe van studente wie se ouers hulle werk verloor het en nie meer in staat is om hulle studies te betaal nie. Daar is ook groot geldnood by NSFAS, die regeringsplan om behoeftige studente te help en daarom doen ons ook voortdurend ’n beroep op groothartige donateurs om finansiële skenkings aan die Atterbury trust te maak en ons sodoende in staat te stel  om meer studente te kan help.

Die nuwe Terugploeg-inisiatief is ook betrokke by voedselverskaffing aan kinders – vertel ons meer hiervan?
Daar is ’n aantal skole, kinderhuise, kerke, gemeenskapsorganisasies en kinderhuise op ons lys van goedgekeurde organisasies. Wildsvleis, meel, vars groente en vrugte asook goeie gebruikte klere en huishoudelike benodighede word op ’n gereelde basis aan die ongeveer 30 organisasies op ons lys van goedgekeurde instansies uitgedeel. Daar is nou al ’n gevestigde network van boere, jagters en ander instansies wat gereeld donasies van vars produkte, vleis en meel skenk.

Julle kry ook reg om kultuur en welsyn bymekaar te bring, met die Karoo Suite projek waarmee geld ingesamel word vir kinders in die Karoo. Kan jy ’n storie met ons deel oor die verskil wat hierdie inisiatief in die droë Karoo maak?

Die eerste Karoo Suite-koffietafelboekprojek is in 2019 van stapel gestuur. Die volle opbrengs van die boekverkope word aangewend om opvoedingsgeleenthede aan kinders van die Karoo te bied. Met die bemiddeling van die Atterbury Trust het ’n aantal leerders vanuit Beaufort-Wes, Murraysburg en Laingsburg die Universiteit van Stellenbosch besoek en vandag is daar al 12 ingeskrewe Karoo-studente by US. Hierdie studente word bygestaan met addisionele finansiële hulp in die vorm van ekstra sakgeld, petrolgeld om soms te kan huis toe gaan en ook bystand indien daar doktersbesoeke is. Daar is ook kos verskaf aan matriekleerders by Bastiaanse Sekondêr wat ekstra klasse moes bywoon in die grendeltyd. Die opbrengs van die nuwe Ons Karoo boek wat weer in samewerking met Coenie de Villiers en Deon Meyer uitgegee is, gaan weer aangewend word vir nuwe inisiatiewe in die Klein Karoo.

Wat is Atterbury Trust se wens vir die jeug van Suid-Afrika, en hoe kan mense help as hulle wil betrokke raak?
Moet nooit moed opgee nie. Doen jou allerbeste om ’n formele kwalifikasie te behaal, maar wees ook op die uitkyk vir entrepreneursgeleenthede. Dit is altyd verblydend om te sien, selfs te midde van die pandemie, met watter inisiatiewe vindingryke Suid-Afrikaners na vore kom. En ons land se mense het regtig die grootste harte – daarvan kan ons hier by die Trust eerstehands getuig.

Vind uit hoe jy kan bydra tot Atterbury Trust se Terugploeg inisiatiewe:  kliek hier