Triomfkliniek het in sy sewende bestaansjaar ’n lekker hupstoot in die tandheelkundedepartement gekry… iets wat al lank as ’n behoefte geidentifiseer is. Danksy tandarts Dr Christivan Maas en tandtegnikus Hardu Buys, wat vrywillige diens by die kliniek doen, spog Triomfers met breë blink glimlagte.

Hoe het jou paadjie met Triomfkliniek s’n gekruis en wat het jou oortuig om jou dienste aan te bied?

Hardu: Ek is ’n getroue luisteraar van GrootFM en hoor gereeld van die Atterbury Trust se doen en late op dié manier. Ek wil al vir ’n geruime tyd êrens betrokke raak en deur my werk en besigheid ’n verskil te maak in behoeftige mense se lewens. Die Heilige Gees het dit onlangs op my hart gedruk om Atterbury Trust te kontak en my dienste aan te bied en toe maak ek so. Min het ek geweet dat daar so ’n reuse behoefte is en dat hulle my so opgewonde sou verwelkom om te help.

Christivan: Zahn Hulme en haar gesin is pasiënte van my en ons gesels altyd lekker; sy vertel altyd van die Atterbury en die Trust se projekte. Louis van der Watt was so drie jaar voor my in matriek by Menlopark en was nog altyd vir my ‘n inspirasie met alles wat hy regkry in die sakewêreld en wat hy doen vir liefdadigheid. Toe Zahn my nader om te help, het ek graag gehelp.

Waar praktiseer jy, en wat is dit omtrent tandheelkunde wat jou inspireer?

Christivan: My praktyk is in Menlopark in Pretoria, by Mackenziestraat 456; ons werk van die huis af. Tandheelkunde is in my bloed – my pa is ook ’n tandarts, en nadat ek agt jaar in Londen gewerk het, het ek die voorreg gehad om vir 10 jaar saam met hom te werk. Hy het intussen afgetree en ek het sy praktyk oorgeneem. Die praktyk is al van 1980 af hier. Ek hou van tandheelkunde want ek kan met my hande werk, en die uitdagings is baie bevredigend. Soos as jy iemand  behandel wat in erge pyn kom aanklop en jy kan die pyn wegvat. Dit gee my baie plesier om iemand ’n mooi glimlag te gee!

Hardu: My praktyk, Executooth (Inc) is in Monumentpark in Pretoria, waar ek woon en werk. Die werk van ’n tandtegnikus is eintlik ’n ondankbare werk in die sin dat ons nooit regtig die voorreg het om die eindproduk te sien nie. Ons spandeer ure agter die skerms en ons werk geskied meestal op modelle van ’n pasiënt se mond. Interaksie met die pasiënt is minimaal. Die feit dat ’n tandtegnikus se werk iemand se lewe en lewenskwaliteit drasties kan verander, sonder om direk betrokke te wees, is vir my wonderlik en inspireer my definitief op ’n daaglikse basis om aan te hou doen wat ek doen.

Wat is die grootste tandheelkundige behoefte onder die Triomf-pasiënte wat julle al behandel het – wat sien julle die meeste?

Hardu: Mense wat al vir lang jare sonder enige tande klaarkom. Baie van die pasiënte het dieselfde storie –  hulle het jare gelede hul tande laat trek weens siekte of pyn en kan nie regkom met die tande wat vir hulle vervaardig is in ’n staats-fasiliteit nie. Weens frustrasie en uit moedeloosheid kom hulle dan eerder sonder tande klaar. Meeste van die pasiënte het basiese gedeeltelike of vol gebitte nodig. Hulle is te dankbaar as hulle net sonder pyn kan eet.

Wat was die moeilikste/ingewikkeldste prosedure wat julle tot dusver vir een van ons pasiënte gedoen het? En wat was die eindresultaat?

Hardu: Om vol bo- en onder-gebitte vir iemand te vervaardig wat al meer as 10 jaar sonder tande klaarkom. So ’n pasiënt het geen idee van watter verhouding tussen sy bo- en onderkaak gemaklik of korrek is nie en byt tipies rond in verskillende bytverhoudings. Om dan ’n byt te skep wat gemaklik is en genoeg spasie het vir tande, sonder om pyn en ongemak vir die pasiënt te veroorsaak, is uitdagend. Die eindresultaat dat so ’n pasiënt met selfvertroue kan glimlag en kan eet is uiters bevredigend.

Christivan:  Dit is net ongelooflik hoe dankbaar en positief die pasiënte is oor die behandeling. Dit gee mens soveel bevrediging om iemand se glimlag te sien nadat hulle vir so lank niks gehad het nie.

Hoe werk die proses, en hoeveel Triomf-pasiënte sien julle tipies?

Hardu: Ons sien tipies vier pasiënte per week. Twee sessies met twee pasiënte elk, gewoonlik op ’n Dinsdag en ’n Vrydag. Baie van die werk is maar stappe wat gevolg word en ons sal soms dieselfde pasiënt tot vier keer moet sien om die hele vervaardigingsproses te voltooi. Dus sien jy soms dieselfde pasiënt Dinsdag, Vrydag en weer die volgende Dinsdag en Vrydag voordat sy/haar werk voltooi is.

Christivan:  Dis regtig ’n voorreg om saam met Hardu Buys te werk – sy werk is sy trots. Ons entoesiastiese en pligsgetroue ontvangsdame Lindi Berkowitz en my stoelassistent Louise Rossouw maak die werk maklik.

Wat is die grootste verskil in hoe tandheelkundiges vandag werk, en wat hou die nabye toekoms in – watter moderne ontwikkeling in die veld maak jou opgewonde?

Christivan:  Baie het verander vandat ek in 1995 begin werk het, met nuwe tegnologie soos digitale X-strale, 3D skandeerders, en nuwe materiale en verdowingsmiddels, wat die werk vergemaklik. Wat nie verander het nie, is dat mense bang is vir tandartse, en dit bly my uitdaging om vir ’n pasiënt ’n aangename ervaring te bied, en om die behandeling so ver as moontlik pynloos te doen.

Hardu: Die toekoms is blink in terme van vooruitgang – 3D drukkers en “milling”-masjiene vorm ’n groot deel van die vooruitgang, maar die materiaal wat gebruik word, verbeter ook deurlopend. Hoewel die moderne ontwikkeling my bitter opgewonde maak, is dit nog nie regtig bekostigbaar om die behoefte in ons land aan te spreek nie. Gewone gedeeltelike en vol gebitte en ook chroom-kobalt gebitte is ’n betroubare en bekostigbare alternatief wat baie meer mense se sak kan bykom. Die tegnologie is wonderlik, maar die “boeremanier” is nog baie meer algemeen en bekostigbaar as wat ’n mens sal dink!