Atterbury Foundation het met die ATKV en Agri Vision hande geneem om ’n verskil te maak in die Hoogekraal gemeenskap by Glentana, Groot-Brakrivier in die Wes-Kaap. Gemeenskapskoördineerder Liauné Goedhals vertel meer
Wat was die inspirasie agter hierdie samewerking by Hoogekraal?
Die veldtog is ’n uitvloeisel van ’n nuwe projek waarmee Atterbury Foundation besig is, verbonde aan ‘n voorgenome Atterbury Property-ontwikkeling in die Glentana-area (Hoogekraal). Atterbury Property het verlede jaar ’n bedrag aan Atterbury Foundation bewillig om solank stadigaan te begin met gemeenskapsontwikkeling.
Ons het met die gemeenskapsleiers vergader om meer uit te vind, en in oorleg met hulle is daar toe besluit op twee aanvanklike stappe: eerstens sou ons ’n groentetuin vir die gemeenskap aanlê by Hoogekraal Primêr, en tweedens sou die skool ondersteun word met ’n boekeboks.
Vertel ons meer van die ATKV Boekeboks-veldtog – presies hoe werk dit?
Ons hou vreeslik baie van dié inisiatief van die ATKV – hulle maak letterlik ’n staaltrommel vol boeke en skenk dit dan aan ’n behoeftige skool. Maar meer as dit; die skool word dan besoek en hulle lees vir die leerders voor uit lekker boeke, met die doel om lees en Afrikaans in die skool te bevorder.
Is daar al resultate wat jy kan deel sedert die veldtog afgeskop het?
Die ATKV se staaltrommel is oorhandig – dié een het 79 boeke bevat – en op die dag het hulle ook vir die leerders in verskillende klasse stories voorgelees. Vroeg in die jaar het ons nóg boeke ingesamel deur ’n versoek te rig aan gaste by Atterbury Property se Wes-Kaapse kliënte-afskopfunksie. Dié tweede besending is ook by die skool afgelewer – daar is beide kinderboeke en boeke vir volwassenes waarmee die skoolhoof ’n biblioteek vir die gemeenskap wil begin.
Ons hoop dat wanneer ons weer daar besoek aflê dit sal blyk dat die boeke gelees word en dat die biblioteek oopgemaak is en aftrek kry by die gemeenskap.
Ons hoor dat Agri Vision by die tuin betrokke is. Presies watter rol speel hulle in die veldtog?
Atterbury Foundation het die saad vir die groentetuin by Agri Vision aangekoop en hulle ook aangestel op Foundation-onkoste om opleiding te gee by die tuin. Die aanvanklike uitdaging is om die gemeenskap opgewonde te kry oor die tuin en mense uit die gemeenskap te kry wat graag wil tuinmaak, en leer oor groente plant.
Waar sien julle die projek oor ’n jaar? Wat is die oogmerk?
In baie gevalle kan voogde van die leerders by Hoogekraal self nie lees of skryf nie, wat ongelukkig tot ’n groot agterstand vir die kinders lei. Daar is selfs leerders in die Intermediêre Fase wat nog nie behoorlik kan lees nie. Ons doel is om leerders aan te moedig om ’n belangstelling in lees te ontwikkel, sodat hulle hul leesvaardighede kan verbeter en diegene wat tans nog nie kan lees nie, oor ’n jaar selfstandig en met begrip kan lees.
Ons wil graag hê dat die biblioteek ook belangstelling uit die gemeenskap lok en dat daar ’n werkende stelsel in plek is om boeke maklik uit te neem. Ons beplan ook om op ’n gereelde basis boeke in te samel en aan die skool te skenk, sodat die biblioteek geleidelik kan groei.
Verder beplan ons om die skool te ondersteun deur middel van ’n leesprogram wat deur die ATKV aangebied word, om die bestaande leerders en ook nuwes soos hulle bykom verder te help en te bemagtig om te leer lees.
Ons verwelkom donasies van boeke vir die Hoogekraal biblioteek; beide kinderboeke en leesboeke vir volwassenes is welkom en kan afgelewer word by Atterbury se kantoor in Stellenbosch. Om meer uit te vind, kontak gerus die Atterbury Trust-span op 012 471 1600 of stuur ‘n e-pos na liaune@atterbury.co.za.











