Skip to content
Menu
Menu

Atterbury Foundation se handvol Wes-Kaapse omgeeaksies

Atterbury Foundation NPC is druk besig met ’n hele handvol gemeenskapsinisiatiewe in die Wes-Kaap. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme vertel meer.

Die hele La Gratitude gemeenskap het betrokke geraak by ’n inisitatief om die Akkerland Kleuterskool in Jonkershoek, Stellenbosch op te knap. Hoe ver is dié projek en wie het almal hand bygesit?

Atterbury Trust se Wes-Kaap kantoor is al vir die afgelope drie jaar in ‘n ondersteuningshoedanigheid betrokke by Akkerland deur hulpverlening met formele registrasie as Vroeë Kinderontwikkelingsentrum (VKO), finansiële subsidie van die onderwysers, finansiële hulp vir voedsame Startwellpap vir die kleuters en dan sommer klein bederfies soos verjaarsdagkoeke vir elke kleuter. Die opgradering van die terrein is al vir lank ’n droom by ons.

Daar is planne gemaak om meer hande (en fondse!) te kry en ons het op 24 Oktober ’n Akkerland Gemeenskapsdag gehou met die doelwit om Atterbury Property en ons mede-huurders van La Gratitude daar in Dorpstraat te betrek. Linda Somana van RLB het ’n projekplan opgestel met ’n volledige kosteberaming om die speelterrein op te gradeer, die dak te herstel, skadunette op te sit, en so meer. Ander huurders, Neo argitekte en Plans123, het op die dag opgedaag om te help en het deure afgehaal en afgeskuur, hakies opgesit vir skoolsakkies, tuingemaak saam met werkers wat geborg is deur Inzuzo Landscapes, en met die 32 kleuters gespeel. Die werk het nie opgehou na die gemeenskapsdag nie, en die skoolterrein is besig om ’n totale transformasie te ondergaan – wanneer dit klaar is gaan daar ook ’n behoorlike onderdakarea, sandput en fietsrybaan wees, en besproeiing vir die tuin. ’n Gedeelte van die Elvis Ry vir Skoolgeld-opbrengs is aangewend om hiervoor te betaal.

Vertel ons meer van die agtergrond oor die Atterbury Foundation se gemeenskapsprojek wat rondom Atterbury Property se groot Wes-Kaapse King Air-ontwikkeling bestuur word?

Atterbury Property se  King Air-ontwikkeling is reg langs Kaapstad Internasionale Lughawe geleë, aangrensend aan ’n aantal woonbuurte op die Kaapse vlakte waar daar groot behoefte bestaan. Hierdie area vorm deel van Stad Kaapstad se Mayoral Urban Regeneration Programme (MURP), wat fokus op doelgerigte ingrypings om woonbuurte op te hef en veerkragtigheid van gemeenskappe te versterk.

Soos die geboue ontwikkel word, word befondsing vir gemeenskapsprojekte in die omliggende omgewing beskikbaar gestel. Die projek word gelei deur die gemeenskap en onder die vaandel van die Atterbury Foundation bestuur.

Tesame met die Stad Kaapstad en Wakamoso pak ons in die eerste fase ’n gemeenskapshernuwingsprojek aan om die nabygeleë Uitsig-woonbuurt te verbeter. Dit sluit eerstens ’n behoorlike opname van al die huishoudings in die gemeenskap in, asook ’n bestekopname van vaardighede en behoeftes. Deel van die voorgenome plan sluit in weeklikse straatskoonmaakaksies, vestiging van huishoudelike en skolegroentetuine, registrasie van plaaslike besighede en ’n opleidingsplatform, verf van openbare en huishoudelike areas en verfraaiing van openbare en private spasies, oudit van vaardighede en ’n werkskeppingsplatform asook jeug- en vaardigheidsontwikkeling- en opvoedingsaktiwiteite. Die strategie is om na afloop van hierdie hierdie inisiatief dit na ander omliggende areas soos Bonteheuwel, Valhalla Park, Bishop Lavis uit te brei.

Oor die afgelope paar weke het inwoners van Uitsig deelgeneem aan die “Hello Uitsig” sentiment- en deelname-opname, wat insigte in plaaslike behoeftes, prioriteite en geleenthede ingesamel het. Hierdie data dryf die implementering van verbeteringe in die woonbuurt, insluitende die verfraaiing daarvan, skep van groen areas, muurskilderye, kleinskaal-werksgeleenthede asook ondersteuning van plaaslike vaardighede en besighede. Ons volg ’n gefaseerde benadering wat begin om die gemeenskap aan boord te kry deur datavaslegging deur ’n aantal gemeenskapsambassadeurs wat dan verder geïmplementeer word.

Wat is die jongste nuus oor hierdie projek – is daar enige spesifieke ontwikkelings waarvan jy ons kan vertel?

Dinsdag 25 November was ’n heuglike dag by die gemeenskapsentrum in Uitsig waar die onderburgermeester van Kaapstad, Raadsheer Eddie Andrews, amptenare in sy kantoor, verteenwoordigers van verskeie belangegroepe in die Uitsig-gemeenskap en die implementeringspan van Wakamoso byeengekom het saam met Johann Prinsloo van Atterbury Property en Surisa Schwalb en Zahn Hulme van Atterbury Foundation.

In die passievolle Raadsheer Andrews se woorde, “Die Stad Kaapstad moedig die privaatsektor aan om hande te vat met ons omdat gemeenskapsontwikkeling vinniger en meer betekenisvol plaasvind as ons saamwerk. As ’n MURP nodus is Uitsig ’n prioriteit vir volgehoue belegging. Met Atterbury se toewyding en die gemeenskap se behoeftes wat ons lei, kan ons verbeteringe doen wat bou aan gemeenskapstrots en vertroue om die plaaslike identiteit te versterk.”

Hierdie vennootskap verteenwoordig langtermyntoewyding om gemeenskapsgebaseerde impak volhoubaar te maak en ’n betekenisvolle gemeenskapsgedrewe verskil te maak.

Die Foundation is ook besig met gemeenskapswerk onder behoeftige gemeenskappe aan die Tuinroete, onder meer by Glentana naby George. Wat is die vordering by Hoogekraal?

Ons doen dié projek saam met Atterbury Property se voorgenome Hoogekraal ontwikkeling en dit behels die aanlê van groentetuine, die fasilitering van vaardigheidsontwikkeling en meer en ’n ATKV Boekeboks vir Hoogekraal Primêr. Daar werk ons nou saam met Agri Vision waar gemeenskapsopleiding sowel as die gemeenskap wat eienaarskap neem, sterk pilare van die projek is.

Sou daar nog fondse beskikbaar raak, sal ons ook graag wil bydra tot die uitbou van vaardigheidsontwikkeling onder die gemeenskap van Hoogekraal.

Ons hoor daar word ook ’n sokkerspan ondersteun?  Vertel meer?

Ons glo liefdadigheid begin by die huis. Charlton is die nutsman by La Gratitude en in sy vrye tyd is hy die afrigter van ’n sokkerspan, Weltevrede FC, in Devonvallei. Atterbury Trust se Terugploeg-inisiatief ontvang bloubessies en nartjies uit die area en ons help graag in gemeenskappe waar ons inisiatiewe ondersteun word. Atterbury Property en Atterbury Foundation NPC het sokkerklere vir die span geborg en ons sien uit om te hoor hoe goed die span vaar in die nuwe seisoen!.

Watter planne voer die Foundation nog in die mou vir Kersfees, en hoe kan mense help of bydra?

Eerstens wil ons dankie sê vir elkeen wat wat ons Atterbury Foundation-projekte in die Wes-Kaap ondersteun het – finansieel of met jou harde handewerk! Ons het gedink dit kan baie help as elke genooide gas as deel van Atterbury Wes-Kaap se Afskopfunksie in Januarie ’n boek kan saambring wat ons insamel vir Hoogekraal Primêr se biblioteek. Enige boeke is welkom, nuut of tweedehands, kinder- of grootmensboeke. Dit sal wonderlik wees as ons saam met die Boekeboks ook vir ander jongmense en ouers van die kinders ’n paar boeke beskikbaar te hê wat hulle kan uitneem.

Indien jy op enige wyse kan bydra of betrokke wil raak, kontak vir zahn@atterbury.co.za of surisa@atterbury.co.za.