Skip to content
Menu
Menu

Bosveldstories – ontspanning en werkskepping!

Deel van die ondersteuning wat Atterbury Trust aan studente in die beursleningprogram bied, is om geleenthede te skep vir sakgeld verdien. Ananja Koen vertel hoe die buitelugsentrum, Die Bosveld, bydra tot hierdie inisiatief wat studente meer finansiële onafhanklikheid gun.

Hoe het dinge in die afgelope jaar by Die Bosveld ontwikkel? Wat is die jongste aktiwiteite wat beskikbaar is?
Die Bosveld is steeds een van Pretoria se mooiste stukkies natuur waar mense kan asemhaal en ontspan. Ons is dankbaar en trots dat ons sedert die opening ongeveer twee jaar gelede al meer as 70 000 besoekers – fietsryers en stappers – kon verwelkom. Maar wat vir ons die belangrikste is: ons kon al meer as 1 500 werksgeleenthede skep vir Atterbury Trust-studente oor naweke en vakansies. Die publiek kan hier fietsry, stap en draf maar ook visvang, perdry en ons verskillende areas bespreek vir private funksies soos verjaarsdae, babatees, korporatiewe funksies en so meer.

Hoe het die idee ontstaan om beursstudente betrokke te kry by Die Bosveld?
Die span by die Trust probeer voortdurend geleenthede identifiseer om ons beursstudente beter te ondersteun – ons wou studente help om selfvertroue te bou, hul selfonderhoudend te maak en ’n bietjie verligting te bring in die daaglikse finansiële druk waarmee hulle leef. Die grond waarop Die Bosveld bedryf word, behoort aan RMB en Atterbury Property, en alhoewel dit later ontwikkel gaan word, het hulle aan die Atterbury Trust die geleentheid gegee om dit intussen te gebruik. In samewerking met Fritz Pienaar se Faces onderneming, het ons dié geskenk omskep in ’n projek wat nie net die publiek toelaat om in die natuur veilig te kan fietsry en stap nie, maar wat ons studente se lewens werklik verander.

Hoeveel studente is tans aktief aan die studeer deur die beursprogram?
Op die oomblik het ons 195 van hulle, elk met sy of haar unieke storie. In elke geval is dit die verhaal van ’n jongmens wat ’n kans het op ’n beter toekoms danksy die ondersteuning wat moontlik gemaak word deur mense wat ons werk en projekte ondersteun.

Vir hoeveel studente kon julle ekstra werk organiseer? As iemand vakansiewerk of deeltydse werk beskikbaar het vir ’n student om sakgeld te verdien, wat moet hulle doen?
Danksy inisiatiewe soos Die Bosveld en die Atterbury Teater kan ons al ongeveer 200 skofte per maand skep. Hierdie skofte beteken kos op tafels, ’n geleentheid om ook ’n student te kan wees en saam met jou vriende ’n bier te gaan drink of om nie te bekommer waar die vervoergeld vir die maand vandaan gaan kom nie. As ons gemeenskap Die Bosveld en die Atterbury Teater ondersteun, help hulle direk om hierdie jong mense ’n sterker fondament vir hul toekoms te gee. Enigeen wat verder wil help deur ekstra werkgeleenthede vir studente aan te bied, is meer as welkom om met ons in verbinding te tree – elke kans verander ’n lewe.

Indien jy vir ’n student ’n internskap of vakansiewerk kan aanbied, kontak gerus vir Ananja Koen ananja@atterbury.co.za