Skip to content
Menu
0
Close Cart
Your cart is empty. Go to Shop

Vroue wat ’n verskil maak: Van idee tot aksie

Om ’n verskil te maak gaan vir Leah Warmenhoven nie noodwendig oor groot gebare of groot woorde nie. Dit begin eerder by iets eenvoudig: om te weet waarin jy goed is, ’n behoefte raak te sien en dan bereid te wees om iets daaraan te doen.

Dit is ’n ingesteldheid wat mooi gestalte gekry het in MengNet – ’n idee wat by Leah begin het en vandag jongmense bymekaarbring om by mekaar te leer en uiteindelik ook ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

Om mens te wees

Wanneer ’n mens vir Leah vra wat dit vir haar beteken om as jong vrou ’n verskil te maak, begin haar antwoord op ’n interessante plek.

Sy glo ons leef vandag in ’n era waarin vroue bevoorreg is om nie noodwendig elke geleentheid deur die lens van vrouwees hoef te beskou nie.

“Vir my gaan dit meer oor menswees, oor die passie wat jy in die wêreld uitleef, om te weet waarin jy goed is en daarmee ’n verskil te maak.”

Die belangrike deel, glo sy, is om jou sterkpunte te ken en dit doelbewus te gebruik om iets in jou gemeenskap te beteken.

Nie net een rolmodel nie

Leah se eie menswees is ook nie deur net een rolmodel gevorm nie. Sy vertel van haar ma en twee vroue wat in hul huis gewerk het en “soos my ma’s was”, maar ook van onderwysers, vriendinne se ma’s en mense uit verskillende beroepe wat deur die jare iets tot haar lewe bygedra het.

“Mens besef daar is soveel kwaliteite in mense wat verskillende paaie stap. Jy kan iets by verskillende mense leer en dit kombineer om jou eie menswees te vorm.”

Wanneer ’n idee aksie word

Leah is iemand wat doen – en dit is juis dié ingesteldheid wat ’n rol gespeel het toe die idee vir MengNet ontstaan het.

Waar kry ’n jong mens die moed om ’n behoefte raak te sien en dan werklik iets daaromtrent te doen?

Leah lag dat dit waarskynlik ’n kombinasie van “naïwiteit” en realisme is.

“Daar is dalk ’n bietjie naïwiteit daarin dat jy nie besef wat alles verkeerd kan gaan nie. Maar daar is ook die realistiese besef dat baie mense oor hierdie dinge dink, maar min mense iets daaraan doen.”

Met MengNet het sy ’n geleentheid raakgesien om ’n jonger generasie bymekaar te bring. Maar ’n idee alleen was nie genoeg nie.

“As jy nie self gaan doen en na jou sterkpunte toe speel om ’n verskil te maak nie, gaan dit ’n gedagte en ’n idee bly, eerder as om in iets omskep te word.”

Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar

Vir Leah gaan jongmense se betrokkenheid in hul gemeenskappe oor meer as net goeie bedoelings. Dit gaan oor verantwoordelikheid.

Sy glo ons kan nie bloot aanvaar iemand anders gaan die probleme rondom ons oplos of na die mense in ons gemeenskappe omsien nie.

“Elkeen van ons het geleenthede om op verskillende maniere ’n verskil in ons gemeenskappe te maak. Jy moet besluit waar jy verantwoordelikheid gaan neem.”

Nie almal hoef dieselfde ding te doen nie. Nie almal het dieselfde vaardighede of geleenthede nie. Maar elkeen kan vra: Waarmee is ek goed? Wat sien ek rondom my? En wat kan ek daarmee doen?

’n Plek waar jou passie ’n verskil kan maak

Dit is ook wat Leah opgewonde maak oor die Atterbury Trust – dat daar soveel verskillende maniere is waarop mense hul sterkpunte en passie kan gebruik om iets te beteken.

Sy beskryf die Trust as ’n geloofwaardige organisasie wat nie bloot “die vissie gee nie”, maar mense op verskillende maniere leer om self vis te vang.

“Gaan kyk wat op die webwerf aangaan en gaan soek waar dit vir jou belangrik is – waar jy jou passie kan uitleef en waar dit vir jou ’n doel gee om betrokke te raak.”

Want uiteindelik hoef ’n mens nie alles te kan doen om ’n verskil te maak nie.

Jy moet net bereid wees om raak te sien wat jy wel kan doen – en dan die eerste tree te gee.

Dit is hoe ’n gedagte ’n idee word.

En hoe ’n idee uiteindelik mense kan begin saambring.