Akademia se jaarlikse Sakeplankompetisie, waarby Atterbury Trust betrokke is as borg, identifiseer ster-entrepreneurs met belowende ondernemings wat groeipotensiaal het. Wenners is op 26 Oktober 2016 in die Atterbury Teater aangewys. Vanjaar se wenner van die beste sakeplan vir ’n nuwe onderneming is Elize Roux van Sequel Taxidermy in Vanderbijlpark. Ons het met hierdie passievolle sakevrou gesels oor haar buitengewone dagtaak.

Baie geluk met jou prys! Vertel ons meer van jou onderneming.
Ek is die alleeneienaar en stigter van Sequel Taxidermy, wat ek in 2014 gestig het; en toe het ek ’n looiery bygevoeg in 2015. Dis my speelpark waar ek myself elke dag kan uitleef. Ons vervaardig jag-trofeë en gelooide wildsvelle op aanvraag aan ons kliente. Taksidermie en looiery is meer as net werk vir my, dis ’n passie en my droom is om ’n volhoubare besigheid te bou. Ek het nou 10 voltydse werkers, en ons is ’n span wat saamwerk en ons suksesse saam vier.

Dis omtrent ’n buitengewone dagtaak – hoe groot is die aanvraag?  Hoe en wanneer het die idee vir die onderneming ontstaan?
Taksidermie is ’n skaars bedryf, maar die aanvraag is geweldig groot. Jou naam en reputasie is baie belangrik aangesien die meeste jagters in ’n area mekaar ken en aan dieselfde jagverenigings behoort. My liefde vir diere en die bosveld het my op taksidermie se pad laat beland. Dit gaan oor respek vir die diere, wat beslis ook my jagter-kliënte beskryf

Kry jy ooit snaakse kyke omdat mense nie ’n vrou in hierdie besigheid verwag nie?
Interessant genoeg, die vroue is besig om oor te vat in taksidermie! Ons vrouespesie het mos die energie om tyd te verspil op klein goedjies, en dis dan juis wat vroue so goed maak hiermee. Elke ooghaartjie moet presies in die regte rigting lê, selfs die oor-haartjies moet realisties lyk…

Hoe betrokke is jy? Stop jy self diere op?
Ja, ek werk self ook. Dis ongelooflik bevredigend om terug te staan en na jou handewerk te kyk. Soms as ek na ‘n klaar trofee kyk, kan ek skaars glo dat ek en my mense sulke ongelooflike werk gedoen het! Die looiery ook – velle kom kliphard en vuil hier aan en as ons klaar is, is hulle soos sagte kombersies. Dis so lekker hier, ek geniet myself elke dag meer.

Wat is die moeilikste dier om op te stop? Hoekom?
Dis nie dat sekere diere moeiliker is nie, maar wat wel ‘n uitdaging kan wees is die posisie waarin die klient die montering wil hê. Dit kan nogal ‘n storie afgee! Dis egter baie belangrik om die anatomie van die diere te bestudeer, are op die gesig, nekspiere… alles speel ‘n belangrike rol.

Wat geniet jy die meeste van jou besigheid?
Dis ‘n baie moeilike vraag. Die werk voel soos speel, ek geniet dit verskriklik. My span is opgewonde mense, vol energie en pret, ons werk baie lekker saam. En dan is daar my kliënte, wat ek net so baie geniet. Niemand laai net af of op nie, hier is altyd tyd vir kuier, koffie, jagfoto’s wys en stories vertel.

En wat is die mees uitdagende aspek?
Die moeilikste is om orals te wees. Ons bied ook ‘n skoonmaakdiens vir trofeë aan, by die kliënt se huis, sodat die trofeë nie onnodig vervoer hoef te word nie. Ek is deel van die skoonmaakspan en is die volle tyd by die kliënt se huis. En ons werk landwyd! Ons is byvoorbeeld reeds vol bespreek vir Februarie 2017, in Knysna. Gelukkig het ek nou iemand voltyds in die kantoor wat die produksie daagliks kontrolleer en probleme kan oplos.

Hoe het jy by Akademia se Sakeplankompetisie uitgekom?
Daar was ‘n insetsel daaroor op Kyknet se Groot Ontbyt, en my beste vriendin, my suster Mari, het my aangemoedig om in te skryf.

Wat het jy gewen en hoe gaan jy die prysgeld aanwend?
Die pryse is ongelooflik en sluit kundige hulp en sakebystand in wat van onskatbare waarde is. Ek is baie opgewonde daaroor en hoop om vroeg in die nuwe jaar daarmee te begin. Die kontantprys het reeds vir my die masjien gekoop wat my omset in 2017 gaan verdubbel.

Wat is jou droom vir jou besigheid? Waar hoop jy sal Sequel Taxidermy oor 10 jaar wees?
Ek hoop dat Sequel volgende jaar gereed sal wees om aansoek te doen vir in- en uitvoere. Ons is ‘n nuwe besigheid, maar is reeds leiers op verskeie gebiede, ek sal graag ’n taksidermie en looiery wil bestuur wat anders is as die res – wat kliëntetevredenheid, rekordtyd-aflewering en top kwaliteit betref. Ek stel nie belang daarin om net nóg ‘n verskaffer te wees nie – ek wil dié taksidermie-verskaffer en looiery wees.

Agtergrond oor Akademia se Sakeplankompetisie
Vanjaar was daar ongeveer 69 inskrywings in die twee kategorieë, nuwe en bestaande sakeplanne, vertel Chris du Plessis, Akademia se bemarkingshoof. Die totale prysgeld het sowat R1,5 miljoen beloop, en die wenner in elke afdeling het pryse van bykans R591 000 gewen, met stewige pryse vir naaswenners (R99 000), en dié in derde (R34 000) en vierde plekke (R26 500). Die beoordelaars was op die uitkyk vir entrepreneurs wat die beste potensiaal toon vir groei en uitbreiding, en wat dus die meeste sou baat by die ondersteuning wat die pryse verskaf. “Elize was in die kategorie vir nuwe sakeplanne die definitiewe wenner, met die beste begrip van haarself en haar tekortkominge, haar besigheid en waar dit in die groter prentjie inpas,” vertel Du Plessis. Die keuringsproses het twee werkswinkels en ‘n ekstra sake-ontbyt ingesluit.