Vanjaar se tema vir Mandela-dag was “Voedselsekerheid”, en daarom het GROOTfm 90.5 saam met die span van Garden of Life hande gevat, en hande vuilgemaak om vyf groentetuine by vyf nie-winsgewende organisasies te plant.

Die vyf organisasies wat deelgeneem het aan die vyfdag-projek was Louis Botha Kinderhuis, Centurion Hospice, Kungwini Welfare Organisation, Ebony Park Hope Centre en Abba House, huis van veiligheid vir kinders en babas. As gevolg van die onluste kon die span ongelukkig nie ‘n groentetuin by Ebony Park Hope Centre plant nie, maar het Genesis-voedselpakkies met behulp van ‘n Laeveld Agrochem-borgskap na Kerk Sonder Mure, Centurion, geneem.

Garden of Life, onder leiding van Steven Barnard, leer mense – van oud tot jonk – hoe om deur middel van herwinbare produkte ‘n volhoubare, water-spaarsamige groentetuin te plant. Die proses begin deur ‘n saadjie in ‘n eier-boks te plant. Twee per houer om sukses te verbeter. Nadat jy ‘n kleinmaat water gedien het, bedek jy die eierboks met weggooi plastiek om sodoende ‘n min-kweekhuis te skep. Nadat ongeveer 28 dae verby is, behoort jy plantasie saaielinge te hê wat gereed is om grond toe te gaan.

Hoe gemaak as jy nie spasie in jou agtertuin het nie? Gebruik weggooi-bande. Vul hierdie bande met grond, gemeng met die nodige aanvullings soos hoendermis en kompos. Neem ‘n twee-liter plastiekbottel, sny dit middeldeur, en maak 12 gate in die onderste helfde. Dit staan nie meer bekend as ‘n plastiekbottel nie, maar ‘n hidroponiese stelsel, dit volgens Garden of Life-lid Keith Fransch. Plaas dié helfte in die middel van jou grond-gevulde buiteband. Plant nou sowat ses saaielinge, een hand utimekaar uit. Gooi weekliks water in die hidroponiese stelsel, en wanneer jou saaielinge met koue weer bedreig word, gebruik die boonste helfte van die plastiekbottel om die saaieling te bedek en beskerm.

Die inkomste-potensiaal? Spinasie kan byvoorbeeld ses keer geoes word. Ses plante vermenigvuldig met ses ‘oeste’, is gelyk aan 36 bossies. Met R10 ‘n bossie, kan jy gemaklik R360 per keer verdien.

Voedsel is tans ‘n groot uitdaging in Suid-Afrika. Die voorraad sowel as die voorsiening. Om iemand wys te maak oor die plant van hul eie groente bemagtig hulle nie net om aan die voorraad te voldoen nie, maar ook die voorsiening. Dit bemagtig die organisasies sowel as individue verder om ‘n potensiële inkomste te verdien.

‘n Paar feite oor die voedsel-situasie in Suid-Afrika:

  • Tussen Januarie en Maart 2021 was meer as 11 miljoen (meer as 16% van ons bevolking) met hongersnood gekonfronteer.1
  • 1 uit 7 kinders in Suid-Afrika word met hongersnood gekonfronteer.2
  • Weens duurder brandstof, hoër energiepryse, die impak van COVID-19 en ander faktore kan die gemiddelde jaarlikse toename van 5,4% in ’n basiese kernkosmandjie vanjaar tot soveel as 10% wees.3
  • Daar leef 155 miljoen mense wêreldwyd met akute honger, met Afrika wat verantwoordelik is vir 63% van die wêreldtotaal en 40,4 miljoen van diegene wat in Sentraal- en Suider-Afrika woon.4
  • Volgens Stats SA kan die betrokkenheid van huishoudings by landbou-aktiwiteite vir bestaansboerdery ‘n belangrike rol speel in die vermindering van hongersnood en voedsel-onseker huishoudings. Studies toon dat 15,6% van huishoudings by landbou-aktiwiteite in Suid-Afrika betrokke is. Provinsies wat oorwegend landelik is met hoë vlakke van armoede soos Limpopo, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het die meeste huishoudings gehad wat op landbou-aktiwiteite staatgemaak het om hul eie voedsel te voorsien.5

Ons is dankbaar vir al die rolspelers betrokke by hierdie vrugtevolle, oftewel groente-volle week vyf dae. Steven Barnard, Keith Fransch en Justice Takalande van Garden of Life, Laeveld Agrochem en Michelle Bristow van Genesis Nutritional Products, en aan elke organisasie wat ons vriendelik en ywerig verwelkom het.

 

Bronnelys:

  1. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-23-food-security-emergency-at-least-11-8-million-south-africans-are-hungry/
  2. https://mg.co.za/news/2021-05-28-world-hunger-day-children-in-south-africa-still-going-hungry/
  3. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/476758/food-prices-in-south-africa-these-items-have-become-more-expensive-over-the-last-6-months/
  4. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-23-food-security-emergency-at-least-11-8-million-south-africans-are-hungry/
  5. http://www.statssa.gov.za/?cat=28