Linda Coffee se lewe het handomkeer verander toe sy op 31-jarige ouderdom met drievoudige negatiewe borskanker gediagnoseer is. ’n Knop in haar bors en erge moegheid was die enigste simptome en sy het later besef die moegheid was nie net omdat sy ’n werkende mamma is nie.

Linda se behandeling het ses maande se chemoterapie, ’n dubbele mastektomie en 25 bestralingsessies ingesluit. Vir amper ’n jaar lank was dit Linda en haar gesin se enigste realiteit. Sy het in September 2022 die nuus ontvang dat sy kankervry is. Linda leef nou elke dag in die oomblik en selfs die slegte dae is ’n seëning.

Linda se storie bevestig net weer dat vroue reeds vanaf ’n vroeë ouderdom jaarliks vir ’n mammogram moet gaan en ook moet leer hoe om selfondersoeke te doen. Vroeë opsporing is deurslaggewend, want hoe vinniger borskanker opgespoor word, hoe beter is die kans vir herstel. Ongelukkig wag borskanker nie tot jy ’n sekere ouderdom bereik of vir ’n bewusmakingsmaand nie.

Die Atterbury Trust is al vir bykans 25 jaar jaar betrokke by die finansiële ondersteuning vir behoeftige tersiëre studente en ondersteun ook gemeenskapsprojekte soos Terugploeg wat landbouprodukte aan hulpbehoewendes verskaf en die Triomf Kliniek in Pretoria-Wes wat verseker dat behoeftige mense mediese sorg ontvang. Linda is ’n oud-beurstudent van Atterbury Trust en daarom is dit ’n voorreg om in samewerking met Screen Her Save Her ’n borskanker bewusmakingsveldtog van stapel te stuur. Screen Her Save Her se mobiele borskliniek is van 19–27 Junie by die Castle Gatewinkelsentrum in Waterkloofrif, Pretoria en lede van die publiek word uitgenooi om afsprake te maak.

Screen Her Save Her se mobiele borskliniek, met ’n span wat slegs uit vroulike personeel bestaan, doen meer as 2 000 mammogramme per jaar regoor Suid-Afrika. Baie van hierdie mammogramme word verskaf aan vroue wat nie hierdie diens kan bekostig of toegang daartoe het nie.

Die impak van ’n borskankerdiagnose is lewensveranderend en dit word dikwels oor die hoof gesien. Daar word in baie gevalle nie die nodige holistiese ondersteuning vir ’n pasiënt gegee nie. Screen Her Save Her bied hierdie ondersteuning deur ’n netwerk van ambassadeurs, vrywilligers en vennootskappe wat die nodige bronne en tyd verskaf. Elke pasiënt se pad verskil en borskankerpasiënte word sover moontlik bygestaan om seker te maak dat hulle so gou as moontlik met hulle behandelingsreis begin.

Elke vrou wat vir ’n mammogram kom, ontvang ’n selfondersoekgids en word aangeraai om dit een keer per maand te doen. ’n Bors-selfondersoek vervang nie ’n mammogram nie, maar kan ’n vrou help om veranderinge in haar borste vinnig te identifiseer en sodoende mediese advies te kry.

Om ’n afspraak vir ’n mammogram te maak, skakel 087 055 0587 (opsie 5) of bespreek aanlyn deur die skakel te volg. Mediesefondstariewe geld. Privaattariewe beskikbaar op versoek.