Suid-Afrikaanse Olimpiese medaljewenner, swemmer Tatjana Schoenmaker.

Atterbury en USN se Olimpiese medaljewenner skarefinansieringsprojek, Spansaam, wat op Woensdag, 11 Augustus op Die GROOT Ontbyt op kykNET afgeskop het, het daarin geslaag om R1,050,000 in te samel. Spansaam is via die Atterbury Trust, ‘n Publieke Voordeel organisasie (PVO), geloods. Daar was in die afgelope 10 dae meer as ‘n 100 inbetalings vanaf verskeie organisasies en individue. Afriforum het hande gevat met hierdie projek en net meer as R100,000 wat met hulle eie soortgelyke inisiatief ingesamel is, aan Spansaam oorbetaal. Die amptelike oorhandiging van gelde vind op 9 September 2021 by USN se kantore in Centurion, Pretoria plaas. Tatjana Schoenmaker, Bianca Buitendag en hulle afrigters gaan almal daar wees.

Armond Boshoff, Hoof Uitvoerende Beampte van Atterbury het bevestig dat Suid-Afrika se nuutste Olimpiese wêreldrekordhouer swemsensasie, Tatjana Schoenmaker, R400,000 ontvang vir haar goue medalje in die 200m borsslagitem vir vroue en R200,000 vir haar silwer medalje in die 100m borsslag. Bianca Buitendag gaan R200,000 ontvang vir die silwer medalje wat sy met haar branderplank in Tokio verower het.

Rocco Meiring, Tatjana se afrigter van die afgelope tien jaar, kry R150,000 en Greg Emslie, Bianca se afrigter, R50,000. Die R50,000 surplus word aangewend om ’n sportbeurs aan ’n opkomende atleet toe te staan. Weens die oorweldigende positiewe reaksie van individue en organisasies, is besluit om Spansaam op www.atterburytrust.org te behou as ‘n platform van insameling vir soortgelyke inisiatiewe om in die toekoms te kan intree waar die regering te kort skiet, hetsy op die sport, kultuur of gemeenskapsfront.”

Albé Geldenhuys, HUB van USN het almal wat mildelik bygedra het, bedank vir hulle ondersteuning. Sukses is belangrik vir nasiebou en hierdie medaljewenners is rolmodelle wat hoop skep vir opkomende jong atlete wat vir Suid-Afrika moet bly deelneem.”

Fotos: @southafricasportimages and @Team_Mzansi Instagram accounts.