Soms is al wat ’n mens nodig het, iemand wat bereid is om jou ’n kans te gee.
Vir Riaan, ’n BCom Ondernemingsbestuurstudent en Atterbury Trust-student, het daardie kans in Februarie 2026 by die Fairtree Atterbury Teater gekom. Wat begin het as ’n eenvoudige versoek om ’n werksgeleentheid, het intussen ontwikkel in ’n geleentheid wat hom nie net nuwe vaardighede geleer het nie, maar ook sy uitkyk op die lewe verander het.
Riaan is tans in sy tweede jaar as Trust-student en werk deeltyds by die teater. Hy het eers agter die skerms saam met die klankspan begin werk voor hy by die teater se kroeg begin diens doen het. Hy is onlangs as kroegbestuurder aangestel.
Hoewel hy opgewonde is oor sy nuwe rol, erken Riaan dat die groter verantwoordelikheid aanvanklik ook ’n bietjie oorweldigend gevoel het.
“Ek is baie bly oor my nuwe posisie, maar ek was ook bang vir die verantwoordelikhede wat daarmee saamkom. Gelukkig help Jonathan en Jané my baie en stel hulle my gerus soos ek leer.”
Vandag kan Riaan met trots sê dat hy byna elke aspek van die kroeg se werksaamhede onder die knie het. Vir hom lê die grootste beloning daarin dat hy nou self kan inspring en help waar dit nodig is.
Maar sy ervaring strek veel verder as die kroeg. Deur sy betrokkenheid by die teater het hy ook die geleentheid gekry om saam met CCA, die teater se klank- en beligtingspan, te werk. Nuwe kontakte en verhoudings het boonop verdere werksgeleenthede vir hom moontlik gemaak.
Meer as net werkservaring
Wanneer Riaan terugkyk op die afgelope jaar, besef hy hoeveel hy as mens gegroei het.
“Verlede jaar was ek iemand wat vir min dinge lus was en baie negatief na alles gekyk het. My tyd by die teater en die Trust het my egter gemotiveer om ’n beter mens te wees, aan myself te werk en meer oor my toekoms en doelwitte te dink.”
Dit is juis hierdie verandering wat sy verhaal besonders maak. Wat aanvanklik bloot ’n deeltydse werk was, het ’n plek geword waar hy nuwe dinge kon probeer, foute kon maak, verantwoordelikheid kon aanvaar en stelselmatig meer selfvertroue kon ontwikkel.
Sy raad aan ander jongmense wat dalk huiwer om nuwe geleenthede aan te gryp, is eenvoudig:
“Die begin is altyd stresvol en moeilik. Wanneer jy iets nuuts aanpak, gaan jy sukkel en foute maak. Maar hoe meer jy probeer, hoe makliker raak dit en hoe meer selfvertroue kry jy.”
Riaan het nog nie ’n vaste droom of uitgewerkte plan vir sy toekoms nie, en dit pla hom nie. Wat hy wel weet, is dat die ervaring wat hy deur die Atterbury Trust en die teater opdoen, hom voorberei om nuwe geleenthede met albei hande aan te gryp.
“Ek weet my ervaring saam met die Trust het my voorberei om enige geleentheid wat oor my pad kom, voluit aan te gryp en nooit op te gee nie. My toekoms is een saam met die Here, my vriende en familie, waar die pad my ook al neem.”
By die Atterbury Trust glo ons dat ondersteuning aan studente oor meer as net studies gaan. Dit gaan ook daaroor om deure oop te maak, geleenthede te skep en jongmense die ruimte te gee om hul potensiaal te ontdek.
En soms begin daardie groeipad met ’n eenvoudige vraag: Kan ek dalk hier kom werk?
Wil jy meer weet oor hoe ons studenteprogram werk, of hoe jy betrokke kan raak? Lees gerus hier meer: https://atterburytrust.org/studente/




