Skip to content
Menu
Menu

‘n Vleiskenner vir Terugploeg

Tydens jagseisoen gaan dit doller as kopaf by Terugploeg se slaghuis waar die span nie net vleis verwerk en verpak vir Terugploeg se uitdeel-omgee-aksies nie, maar ook vir talle jagters hul wildsvleis verwerk. Ons het gesels met slagter Jurie Linde wat vir die besige seisoen kom hand bysit het.

Hoeveel wildskarkasse verwerk julle tipies tydens die jagseisoen?
Dis dié tyd van die jaar omtrent 25 tot 30 karkasse per dag; van onbening tot die maak van die finale produk soos biltong, droëwors, boerewors, “patties” en so meer. Vanjaar is ons gemiddeld net oor die vyf ton per week!

Hoe het jou paadjie met dié van Atterbury Trust en Terugploeg gekruis?
’n Ou skoolmaat van my, Luhan Bester, het my vir ’n ander geleentheid gebel, en later die dag kry ek toe ’n oproep van sy pa, oom Lood Bester, om te hoor of ek nie dalk wil help met Atterbury Trust se Terugploegprojek nie. Ek het saam met hom gaan kyk na die fasiliteite en was baie beïndruk. Ek het dadelik ingestem; ek dink daar is ’n groot toekoms vir Terugploeg.

Jy besit jou eie slaghuis, is ek reg? Was dit wat jy van kleinsaf wou doen?
My oupa het in 1989 begin met sy eie slaghuis. My pa het oorgeneem in 2007 en ek in 2018. My liefde vir die vleisbedryf kom al van kleinsaf toe ek vir Oupa in die slaghuis gehelp het. Ek is die derde generasie van Kritzinger Slaghuis. Ek was ses jaar oud toe ek my eerste bok geskiet en geslag het!

Wat is jou besigheid se geheim vir sukses? Wat maak Kritzinger Slaghuis spesiaal?
Wat ons anders maak is dat ons saam met ons mense werk eerder as om alles in ’n bestuurder se hande te laat. Dit is nou maar so in hierdie bedryf dat jy jou moue self moet oprol en saamwerk, en seker maak die produk wat uitgaan is van top-gehalte.

Wat geniet jy die meeste omtrent jou werk en wat is die grootste uitdaging?
My grootste plesier is om vir ons klante goeie produk teen ‘n bekostigbare prys te lewer. Ons is nie hier om mense in te doen met pryse nie. Die grootste uitdaging is om kop te hou met wildsverwerking veral as jy 200 karkasse per week moet bewerk – dit vat kophou om vir elke kliënt sy lys van verwerkte vleis volgens sy spesifikasies te lewer!

En wie is Jurie as hy by die huis is?
Ek is 30 jaar oud en baie gelukkig getroud met ’n wonderlike vrou. Ons is familie-gerig en het harte wat omgee oor die gemeenskap en altyd ’n bydrae wil lewer. Ons woon in Pretoria-Oos en is al nege jaar saam, en vier daarvan gelukkig getroud. Nog nie kinders nie, maar ons honde, Simba en Nala, is deel van ons gesin.

Wat beteken die geleentheid by Terugploeg vir jou?
Ek sien beslis ’n toekoms in die saamwerk met Terugploeg. Dis so ’n eer om te werk by ‘n organisasie wat soveel teruggee in die gemeenskap, wat werksgeleenthede skep wat so broodnodig is, en wat ook ‘n gesonde omgewing verskaf om in te werk, saam met mense wat omgee vir hul medemens. Terugploeg het so ’n positiewe impak op die groter gemeenskap, en spesifiek op die mees weerloses in die gemeenskap en dis so belangrik dat daar sulke organisasies is wat omgee. Waarlik hulp wat werk!

Terugploeg in syfers

863

ton kos ingesamel en versprei

3 miljoen

porsies verskaf

135

organisasies ondersteun

13 ton

vleis verwerk deur Terugploeg slaghuis

7 ton

wildsvleis vir jagters verwerk

3 ton

wildsvleis deur jagters geskenk vir verspreiding

Vind meer uit oor Terugploeg se wildsvleis-verwerkingsmoontlikhede:
https://www.terugploeg.org/vleisverwerking/