Skip to content
Menu
Menu

’n Alumna met ’n hart vir kinders

Weskus-boorling Anthea Boks is een van Atterbury Foundation NPC se vele suksesverhale. As alumna van die beursleningprogram lê haar prioriteite self by onderwys en investering in die volgende generasie. Sy vertel meer.

Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is ’n trotse Weskus-nooi – soutwater in my are en wind in my hare. Ek het grootgeword in die hart van Saldanha, waar die see altyd naby is en die gemeenskap jou soos familie omarm. Diazville was die buurt waar my lewe begin het – van my eerste skooldae in Diazville Laerskool, tot my tienerjare by Diazville Hoërskool. Dis daar waar ek geleer het om drome groter as die horison te hê, al het ek elke dag op dieselfde paadjies geloop. Die Weskus het my gevorm – eenvoudig, sterk, eerlik – en ek dra daardie trots in alles wat ek doen. 

Hoe het jy destyds by Atterbury Foundation uitgekom, en van wanneer tot wanneer het jy ’n beurs ontvang?
My pad na die Atterbury Foundation het begin met musiek – ’n taal wat harte aanraak. Ek was deel van ons skool se blaasorkes, iets wat nie net my liefde vir kuns versterk het nie, maar ook die deur oopgemaak het na iets groter. Admiraal Koos Louw het ons orkes ongelooflik ondersteun, veral deur die harde werk en toewyding van Mnr Willem du Preez, wat instrumente vir ons gereël het deur sy liefdadigheidswerk.

Een dag het Mnr Du Preez my storie met Admiraal Koos gedeel – sommer net so uit ’n plek van hoop. Sonder huiwering het hy dadelik gevra vir my besonderhede sodat hy my kon help aansoek doen vir ’n beurs by die Atterbury Foundation NPC. In 2015 het ek my beursonderhoud in Stellenbosch met Zahn Hulme en Leonie du Preez gehad.

’n Alumna met ’n hart vir kinders

Ek was geseënd om van 2016 tot 2020 ’n Atterbury Foundation-beurshouer te wees – iets waarvoor ek vandag nog diep dankbaar is. Ek het deur Unisa gestudeer, en hoewel dit nie altyd maklik was nie, het daardie ondersteuning vir my beteken dat ek nie alleen hoef te streef nie. Dit het my die vlerke gegee om te vlieg.

Wou jy van kleinsaf in onderwys werk? Wat is dit wat jou na die beroep aangetrek het?
Ek het van kleinsaf geweet ek wil ’n onderwyser wees. My ma sê ek het selfs “skooltjie” gespeel in my slaap! Omdat ek self as kind gesukkel het om konsepte te verstaan, het ek altyd gewens vir ’n onderwyser wat by my sit en sê: “Jy gaan okay wees.” Ek wou daardie persoon wees vir ander – iemand wat hoop bring, leer lekker maak, en vir kinders wys hulle kan as hulle in hulself glo.

’n Alumna met ’n hart vir kinders

Wat geniet jy die meeste omtrent onderwys gee, en vertel ons iets meer oor die skool waar jy skoolgee en jou eie klas?
Wat ek die meeste geniet van onderwys, is daardie “aha!”-oomblik wanneer ’n leerder iets verstaan, en die oomblikke wanneer hulle later terugkom en sê hoe dankbaar hulle is. Ek is tans by Cavalleria Primêr in Kraaifontein, waar baie leerders uit moeilike omstandighede kom. Dis uitdagend, maar ek probeer hulle wêreld vergroot – deur musiek, ons skoolkoerantjie waar hulle hul stories kan vertel, en wetenskap-ekspo projekte wat hul kreatiwiteit laat blom.

Aan die ander kant, wat is die moeilikste uitdagings in onderwys wat jou aandag verg? 
Die grootste uitdagings vir my in onderwys is beslis dissipline en die oorweldigende hoeveelheid administratiewe werk. Dit vat baie tyd en energie weg van waar my hart lê – by die kinders en hul groei. 

Wat het die Atterbury Foundation/Trust beurs vir jou beteken, en hoekom reken jy is dit belangrik dat mense hierdie beursprogram ondersteun met donasies?
Sjoe, Atterbury Trust het my lewe verander. Ek het ná matriek probeer werk om vir studies te spaar, maar dit sou nooit genoeg wees nie. Hulle het nie net my studies moontlik gemaak nie – hulle het in my as mens belê. Hulle het gereeld opgevolg, bemoedig, en my persoonlik laat groei. Dis hoekom ek glo mense móét hierdie program ondersteun – dis nie net ’n beurs nie, dis ’n gemeenskap wat lewens verander. Tot vandag toe staan hulle steeds by my.

Watter impak het die Atterbury Trust Wes-Kaap se Mandeladag projek die afgelope twee jaar by  Cavalleria Primêr gehad?
Atterbury Trust se Mandeladag-projek het ’n groot impak gehad by Cavalleria Primêr. Hulle het my ondersteun met skryfbehoeftes vir elke leerder – dit het nie net my werk as opvoeder verlig nie, maar ook breë glimlagte op my leerders se gesigte gebring. Dit was vir hulle ’n teken dat iemand omgee. 

Atterbury Foundation NPC maak staat op die donasies van weldoeners, om belowende studente soos Anthea in staat te stel om hul drome na te volg. Jy kan skenk en ’n verskil maak: Donasiewinkel