Skip to content
Menu
Menu

Oor gholf, en oop harte en hande

Gerhard van der Westhuizen en Rayno Strauss het ’n dekade gelede besluit om ’n insamelingsaksie te begin om behoeftige kankerlyers te help met hulle mediese onkostes. Die jaarlikse Survivor Gholfdag is in November vir die tiende keer by die Pretoria Country Club gehou. Gerhard vertel ons meer.

Julle het albei self kankerbehandeling ontvang en vandaar die bewustheid gekry van die geweldige onkoste wat by sulke behandeling betrokke is. Ons wil eerstens weet hoe dit vanjaar met julle albei gaan?
Dit gaan met ons albei baie goed! Ons is gesond (wel n bietjie oorgewig!) Ons velle en ons harte is propvol.

Hoe het die Survivor Gholfdag in die afgelope 10 jaar ontwikkel, en waar staan julle vandag daarmee? Het julle enige borge wat julle wil uitsonder?
Die eerste gholfdag is begin met slegs 24 deelnemers. Die tweede jaar 60 en van jaar drie af was ons ’n vol baan van 144 spelers. Ons het elke jaar ’n klomp spelers op ’n waglys en kan ongelukkig nie almal by die gholfdag akkommodeer nie. Ten spyte van die feit dat almal nie kan gholf speel op die dag nie, ontvang ons jaarliks ’n klomp donasies van besighede in ons netwerk sowel as van die mense op die waglys.

Soos die gholfdag gegroei het, het ons elke jaar meer geld ingesamel, sodat ons nou jaarliks bykans R2 miljoen inkry – meer as die eerste paar jare se opbrengs tesame! Ons het ’n netwerk van wonderlike dokters wat betrokke is en na wie ons pasiënte kan stuur vir ’n behoorlike ondersoek en diagnose soos ons versoeke om hulp ontvang. En die fonds word deursigtig deur Atterbury Trust bestuur sodat ons weet dat elke sent wat ingesamel word, op die heel beste manier aangewend word. En dan het ons Jakaranda FM en GrootFM wat ons help om die storie wyd te vertel sodat ons meer mense betrokke kry. Ons het ’n tweede kans gekry en voel dat as jy lewe en jy het het die vermoë om iemand te help – hetsy met geld, of met tyd, of enige hulpbron – dat jy half ’n verpligting het.  En dit is vir ons so lekker om met al hierdie mense saam te werk om ’n sinvolle en daadwerklike verskil te kan maak in die lewe van diegene wat dit die nodigste het.