Ané Kotzé, beter bekend as Kaalwoorde, het diep spore in die Afrikaanse literêre wêreld getrap met haar eerlike, rou en diep menslike digkuns wat tienduisende lesers op sosiale media raak. Nou skuif sy haar kreatiewe stem na ’n nuwe doelwit: om deure oop te maak vir jong mense wat smag na ’n kans op ’n beter toekoms. Met die bekendstelling van die Kaalwoorde Studiefonds, wat deur die Atterbury Trust bestuur sal word, bring sy haar liefde vir taal en haar passie vir mense bymekaar.
Wat was jou motivering om ’n studiehulpfonds te begin, en hoekom het jy besluit om dit deur Atterbury Trust te doen?
My motivering kom uit ’n diep oortuiging dat taal, kultuur en kennis nie net bewaar moet word nie, maar aktief voortgedra moet word na ’n volgende generasie. Deur Kaalwoorde het ek eerstehands beleef hoe kragdadig Afrikaans mense, en veral jong mense wat gedink het digkuns is oudmodies, kan aanraak – maar ook hoe baie van hulle nooit die geleentheid kry om hul studies te voltooi of te begin nie. Die studiefonds is my manier om terug te gee: om die sirkel te sluit tussen kreatiwiteit, gemeenskap en geleenthede.
Ek het Atterbury Trust gekies omdat hulle ’n gevestigde rekord het in verantwoordelike studiefinansiering en ook ’n pad stap saam met elke student wat hulle ondersteun om seker te maak dat die student optimaal baat by nie net ’n studielening nie, maar toegerus is vir die toekoms. Atterbury Trust het die infrastruktuur, ervaring en integriteit wat nodig is om so ’n fonds volhoubaar en deursigtig te bestuur op ’n manier wat ek self dit sou doen as ek self kapasiteit gehad het om alles self te hanteer. Vir my was dit belangrik dat die fonds nie net ’n passieprojek is nie, maar iets wat werklik ’n lewenslange impak kan hê en Atterbury Trust bied daardie stabiliteit.
Hoe sien jy die verband tussen jou werk as digter en die bevordering van tersiëre opleiding deur die studiefonds? Is daar tematiese raakpunte tussen jou poësie en jou liefdadigheidswerk?
Kaalwoorde het ontstaan uit ’n behoefte om eerlik, rou en menslik te skryf – oor groei, struikel, herstel, hoop en identiteit. Tersiêre opleiding is ’n soortgelyke reis: dit verg drome, deursettingsvermoë en geloof in jou eie stem.
Só sien ek dit: my poësie gee ’n stem aan mense se innerlike landskap, terwyl die studiefonds hulle help om ’n uiterlike toekoms te bou. Beide werk uiteindelik na dieselfde doel – om mense in staat te stel om hul eie verhaal vorm te gee. Daar is dus ’n natuurlike tematiese raakpunt tussen die menswording in my gedigte en die menswording wat deur opleiding moontlik gemaak word.
Jou stem het groot reikwydte op sosiale media – hoe dink jy sal daardie aanlyn-aanhang bydra tot die sukses van die Kaalwoorde studiefonds?
My gehoor op sosiale media is ’n gemeenskap wat reeds aangehaak het by idees soos genesing, groei en selfsorg deur die gedigte te gebruik om te verwoord wat hulle voel, en dan by wyse van hul bywoning van die skryf-werkswinkels en ander projekte. Dit is ’n groep wat glo aan die waarde van stories, en wat bereid is om saam te bou aan iets groter as net inhoud op ’n skerm. Ek glo dat hierdie aanlynfamilie die studiefonds se sukses sal versterk deur die projek te deel en bewusmaking te skep; kaartjies, bundels en ander projekte te ondersteun, en ander aan te moedig om deel te word van ’n beweging wat studente se lewens verander. Kaalwoorde was nog altyd gemeenskapsgedrewe en die studiefonds is bloot die natuurlike uitbreiding daarvan.
Watter tipe studente hoop jy sal aansoek doen vir die studiefonds? Is daar spesifieke kriteria, of ’n spesifieke profiel van behoeftige studente wat jou besonders na aan die hart lê?
Ek hoop veral dat studente wat uitsonderlike potensiaal het, maar beperkte finansiële middele, sal aansoek doen. Die fonds is nie bedoel om net vir akademiese uitblinkers te wees nie, maar vir jong mense wat wys dat hulle toegewyd, gemotiveerd en bereid is om hard te werk.
Studente wat Afrikaans wil studeer, die taal wil bevorder, of met ’n passie vir onderwys in Afrikaans, letterkunde, kommunikasie en gemeenskapsbou werk, lê my natuurlik na aan die hart. Maar die breër visie vir verder in die toekoms is om enige student wat werklik ’n kans soek, en wat hul gemeenskap positief wil beïnvloed, geleenthede te bied om dit te kan doen.
Hoe sal die sukses van hierdie fonds gemeet word oor tyd? Wat is jou visie vir die toekomstige ontwikkeling van die studiefonds?
Sukses dink ek is drieledig en kan gemeet word aan hoeveel lewens direk beïnvloed kan word (soos, hoeveel meer studente ondersteuning ontvang en hul studies kan voltooi), die volhoubaarheid van die fonds en of hy kan voortbestaan en deurgaans groei, en die gemeenskapsimpak wat die fonds uiteindelik sal hê om hopelik mense te inspireer om die taal, kultuur en opleiding te bevorder.
My visie is dat die Kaalwoorde Studiefonds oor die volgende paar jaar uitbrei tot ’n selfonderhoudende, vooraanstaande fonds wat jaarliks groter word. Met genoeg steun wil ek hê dat dit uiteindelik honderde eerder as tientalle studente sal help, en miskien selfs nuwe projekte insluit soos mentorskap, kreatiewe skryfskole of beurse vir taalbevordering.
Met die loods van die fonds by Fairtree Atterbury-teater, hoe het jy gekies watter gedigte om voor te dra? Wou jy ’n spesifieke tema hê wat verband hou met jou studiefonds-inisiatief?
Die voorlesing wat ek gedoen het was genaamd “Drie Seisoene in my Voortuin” met die tema rondom mense wat almal in verskillende seisoene is, en dat ons deernis moet hê vir die seisoene waarin ons onsself en ander hulself bevind. Die gedigte wat ek gekies het om voor te lees het uit my drie digbundels gekom en daar was digkuns en stories wat tematies hande gevat het met somer, herfs en winter, met die opsomming dat lente altyd weer sy verskyning in ons sal maak, maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie. Met dit wou ek ook ’n nuwe lente vir ’n potensiële student skep, om ’n seisoen van sukses te betree met studiebefondsing.
Hoe gaan die studiefonds prakties werk? Hoe doen studente aansoek?
Die administrasie van die studiefonds word volledig deur Atterbury Trust behartig om deursigtigheid, geloofwaardigheid en verantwoordbaarheid te verseker. Iemand wat belangstel sal aansoek doen op Atterbury Trust se gewone platform, deur die formele aansoekvorm in te vul https://aansoekvorm.co.za/ wat finansiële behoefte, akademiese geskiedenis en motiverings dek. Die Trust se keuringspaneel vir die Kaalwoorde-beurse (waarop ek ook gaan dien) maak die finale besluite, volgens kriteria wat met beide behoefte en meriete rekening hou. Ek hoop dat beurse wat toegestaan word jaarliks toegeken kan word, en dat dit kan hernu word op grond van akademiese vordering. Hierdie benadering verseker dat die emotiewe element van my betrokkenheid gebalanseer word deur professionele bestuur. Let wel dat beursaansoeke vir 2026 reeds gesluit is en die aansoeke vir studie in 2027 sal in Junie volgende jaar open.
Om by te dra tot die Kaalwoorde-beursfonds, sien Donasiewinkel: https://atterburytrust.org/product/kaalwoorde-studiefonds/