Skip to content
Menu
Menu

Die Atterbury Teater: ʼn dekade van kuns

Op 18 Mei 2011 het die fenomenale Atterbury Teater se deure vir die eerste keer oopgegly en is die verhoog ingewy met die indrukwekkende musiekblyspel Stuur groete aan Mannetjies Roux. Al 24 vertonings met ʼn sterbelaaide rolverdeling is uitverkoop en so is ʼn nuwe era in die Suid-Afrikaanse teaterwese ingelui. In die afgelope dekade is meer as 2 881 vertonings, produksies en funksies in die teater aangebied wat herlei kan word na ongeveer 865 671 voete wat oor die teaterdrumpel geloop het. Aan die begin van 2019 is die teater opgegradeer en die aankoop van ʼn splinternuwe Model-C Steinway & Sons-vleuelklavier het die kroon op hierdie opgradering gespan.

 

Die Atterbury Teater het gestalte gegee aan Atterbury en die Atterbury Trust se toewyding aan die bevordering van die uitvoerende kunste en die ontwikkeling van talent. Dit word allerweë beskou as een van die beste teaters in die land en bied veral aan kunstenaars in Gauteng ʼn ruimte van wêreldgehalte waar musiek, drama en verskeie ander uitvoerende kunste tot vergestalting kan kom. Benewens produksies is dit ook ʼn gewilde gasheer vir konferensies en korporatiewe funksies. Die teater huisves voorts ʼn uitmuntende opname-ateljee met ʼn rits plaaslike én internasionale projekte op die kerfstok.

In retrospek is legio musiekproduksies en verhoogstukke met nasionale en internasionale kunstenaars, skool- en dansproduksies, skoonheids-, musiek- en gimnastiekkompetisies, korporatiewe funksies, gala-aande en aansitetes in die teater aangebied. Daar was selfs al ʼn troue en ʼn albumbekendstelling waar gaste by tafels op die verhoog kon aansit om die teater vanuit ʼn ander perspektief te ervaar.

Tydens die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie, het die teater die digitale sfeer betree in die vorm van ‘n televisie- en musiekstudio waar aanlyn konserte opgeneem en uitgesaai is. Die heel eerste konsert was ʼn regstreekse uitsending met meer as 120 000 kykers van regoor die wêreld. Dít was die begin van ʼn droom wat tot 39 aanlyn vertonings in die digitale biblioteek gegroei het. Die teater is nou ook in staat om regstreekse stromingsdienste vir enige funksie te bied.

Die finale vertoning van Nataniel se nuutste vertoning, Butterfly, op Dinsdag 18 Mei 2021, was ‘n gepaste viering van die teater se tiende verjaarsdag. Teatergangers kon ook ‘n nostalgiese video geniet wat enkele hoogtepunte van die afgelope 10 jaar uitgelig het. Geliefde kunstenaars wat gereeld in die teater optree, het ook videoboodskappe van gelukwense gestuur. Die Atterbury Groep se HUB en stigterstrustee van die Atterbury Trust, Louis van der Watt, het in ʼn kort toespraak die teaterpersoneel, kunstenaars en lojale ondersteuners van die Atterbury Teater bedank vir hulle onwrikbare ondersteuning oor die afgelope tien jaar.

Die Atterbury Teater vier hierdie besonderse mylpaal met diep dankbaarheid vir elke kunstenaar, teaterganger en tegnikus wat, te midde van talle uitdagings, aanhou om in die voortbestaan van die kunste in Suid-Afrika te glo en dit ruimhartig te ondersteun.

Navrae:

Jané Roets

jane@atterburyteater.co.za

072 510 0711

 

 

ʼn Dekade in syfers (2011-2021)

Teater

Vertonings/Produksies/Funksies2 881
Voete deur die deur865 671

 

Kroeg

Koeldranke138 320
Glase wyn63 397
Biere111 693
Whiskeys80 225
Bottels water68 754

 

Studio

 Lewende CD-/DVD-opnames106
CD-/DVD-produksies92
e-konserte opgeneem, geredigeer en uitgesaai39
Radio- en televisie-advertensies280
Liedjies gemeng1 030
Albums opgeneem250
Strykeropnames vir internasionale kliente15
Klavieropnames vir verskeie CD-produksies40
DVD- en TV-episodes opgeneem, vertaal, oorgeklank en van subtitels voorsien in Frans, Portugees en Mandaryns180
Minute van filmvertellingoorklanking in Afrikaans, Swahili, Zulu, Amharies en Chichewa7 456
Bladsye van die Bybel opgeneem in Shona, Luganda, Asante Twi en Chichewa8 200