Kreatief in murg en been; dit is hoe mens musiekteaterstudent Hizel Riffel kan opsom. Hierdie vasberade jong kunstenaar is op 21 en in sy derde jaar by Oakfields College in Pretoria reeds ’n verhoogveteraan, wat sy eerste buiging op 13 op die verhoog gemaak het! Ons weet dat ons sy buitengewone naam eendag in ligte sal sien, so neem kennis!

Vertel ons ’n bietjie oor jou agtergrond. En jou naam, wat sommer klaar na ’n verhoognaam klink. Dis Hizel, soos in “fizzle”, reg?
Ek sê gewoontlik vir mense ek kom uit die wyndistrik van Suid Afrika en die hart van Afrikaans, die Paarl in die Wes-Kaap. Ek was in Paarl Gimnasium van Graad 1 en het by Hoërskool Gim gematrikuleer. Ek het goeie skooltye gehad, mooi herinneringe en baie ondersteunende onderwysers.
My familie is glad nie in die kunste nie, so vir hulle is dit baie opwindend dat ek hierdie pad gekies het. Hulle ondersteun en bid baie vir my! Ek mis hulle, maar ek glo mens offer altyd iets op as jy jou passie volg. Wat my naam betref, my ma was omtrent kreatief met die kies daarvan! Mense spreek dit altyd verkeerd uit; ek kry òf Hazel of iets wat rym met “gazelle”… Eenkeer in saalbyeenkoms op skool, het ons nuwe skoolhoof prestasies aangekondig, en toe hy by my Eisteddfodd-uitslae kom, lees hy “Hazel Riffel”, en neem toe weer aan dis ‘n meisie. Hy kyk toe na meisies se kant en sê, “Kom dame, staan op, moenie skaam wees nie.” Baie verleë staan ek toe maar op in die seunskant heel agter. As ek nou daaraan dink is dit eintlik baie snaaks… Maar ja, jy spreek dit uit soos “fizzle”.

Hoe het jy besluit op musiek en drama as jou vakrigting?
Musiek, teater en drama was altyd in my gedagtes. Ek het net nie geweet hoe dit gaan realiseer nie. En op skool het ek ook nie geweet waar mens daarvoor studeer nie. Toe een oggend word ek wakker in Stellenbosch tydens die vakansie. Ek was by my familie, ek was gelukkig, en ek het als gehad. Dit is toe ek besef het dat indien ek bly, gaan ek te gemaklik leef. Rudyard Kipling sê in sy gedig “If” die volgende:
“If you can make one heap of all your winnings/And risk it on one turn of pitch-and-toss/And lose, and start again at your beginnings”
… die gedig gaan dan aan en eindig dan met, “Yours is the Earth and everything that’s in it, And – which is more – you’ll be a man, my son.”
Ek het toe begin navorsing gedoen. My filosofie is, ek lewe nie vir gemak nie. Ek wil groei. En vir mense wat altyd vra, “Hoekom Pretoria?” antwoord ek met, “My hart het my gestuur.”
Om op die verhoog te werk is ‘n roeping. Daar’s soveel spiritualiteit en geleenthede om ‘n verskil te maak op ‘n permanente manier. Teater bring genesing en hoop. Teater het ontstaan as ‘n plek van aanbidding – vir die antieke Grieke was die teater ‘n plek waar hulle hul gode aanbid het. Ek het dit oorweeg om te gaan swot om in die bediening in te gaan, maar teater het net soveel spiritualiteit en ek voel meer vervuld hier waar ek is.

Hoe het jy by Atterbury Trust uitgekom?
Om terug huis toe te gaan weens “finansiële redes” was nooit ‘n opsie nie. Ek glo in opvoeding en dis wat ek vir myself wil hê. In matriek het ek briewe geskryf en CV’s opgestel, dit gedruk en die hele dorp platgeloop; letterlik van maatskappy tot maatskappy gaan vra vir borge. Toe ek in Pretoria aangekom het, het ek dieselfde gedoen. My lektor het my vertel van Atterbury en gesê ek moet ‘n kans vat. Dis hoe ek vir die eerste keer die span van Atterbury Trust ontmoet het, en die res is geskiedenis. Danksy hulle en Atterbury Trust se finansiële hulp kon ek stres-vry studeer.

Wanneer was jy vir die eerste keer op ’n professionele verhoog?
Dit het begin by Grease in 2009 met die regie en choreografie deur Ignatius van Heerden. Ek het nooit destyds kon droom dat hy by Oakfields my lektor sal wees nie. Ons het Grease in 2010 vir die Suidoosterfees opgevoer by Artscape – dit was my eerste optrede in ‘n groot teater. In 2013 was ek by ‘n produksie van The Wizard of Oz betrokke en dit was daar wat ek besef het dat ek musiekteater wil gaan studeer. Almal was so gedissiplineerd, slim, talentvol en professioneel – dis hoe ek wou wees.

Toe ek eers op kollege kom, was daar baie meer geleenthede, en wonderlike blootstelling aan groot talente, en verskeidenheid, van ‘n produksie vir ‘n groot maatskappy – Bidvest – tot ‘n gesamentlike produksie saam met ‘n Amerikaanse universiteit by die Grahamstadse kunstefees, tot professionele produksies op verskeie verhoë. Vanjaar was ek so gelukkig om deel te wees van Jonathan Roxmouth se Broadway-konsert in the Teatro by Monte Casino waar ek saam met groot geeste in die bedryf kon saamwerk… ek is elke dag dankbaar, want nie almal kry al op 21 sulke geleenthede nie.

As jy enige rol in enige stuk enige plek in die wêreld kon vertolk, wat sou dit wees?
Hier in Suid-Afrika sal ek wát gee om Kanna te speel in Adam Smal se Kanna Hy Kô Hystoe. En enige David Kramer en Athol Fugard produksie; al moet ek ‘n boom speel! En ek wil so graag in District Six speel en in KykNet se nuwe Suidooster sepie.
Internasionale droomrolle… mmm, Bobby in Company en Jack in Into The Woods by Madison Square Garden! En Enoch Snow in Rodgers & Hammerstein se Carousel – verkieslik op Broadway of die West End; of by ‘n baie deftige konsert waar klassieke Broadway “show tunes” gesing word iewers in ‘n eksotiese oop teater in Europa.

Met wie sal jy graag die verhoog wil deel?
Dit was vir lank ‘n droom dat ek Kanna speel teenoor Shaleen Surtie Richards se Makiet en dan kom verras Adam Smal ons op openingsaand…! Maar ek sal ook graag werk saam met Jade Bowers, Anna-Mart van der Merwe, Ameera Patel, Denise Newman, Elize Cawood en Jana Strydom… daar is nog baie ander, ons het ‘n klomp goeie akteurs in Suid-Afrika. Ons kan trots wees.

Jy vertel hoe baie jou ma vir jou beteken. Wat is die belangrikste les wat jou ma jou geleer het?
Ek skryf mos so nou en dan ook; ek het in 2015 derde gekom in die ATKV se Nasionale Digkunskompetisie met my gedig, ’n Tieken asseblief. Hierdie gedig, Living With a Single Parent, som op hoe baie my ma vir my beteken:

Dickens het vanaand kom simpateer;

You lived in hell, you lived in heaven.
First it was positive turned into negative.
Once there was love,
It turned into tears…
Maar julle het aangehou…

Haar geluk van 1996 het uithouvermoë gebring
En die 11de April was ‘n konstante herinnering van verlatenheid.
Maar julle het aangehou…

Ja, ons het aangehou.

Soos Winehouse verduidelik voor 27;
Hy was daar maar hy was nie daar nie –

My oggende se rumour van tantrums,
Het sy my geslaan.
Kos sonder geld maak,
Het sy gemaak.
Huiswerk,
Het sy gehelp.
My in die aand ingetuck – was sy daar.

Swaarkry het ‘n kerk-ritueel geword wat onbreekbaar geword het.

Toe vind ons;
“It was the best times of our lives”…
‘n tyd vir wysheid oor hoe ons sal styg.
‘n “season of light”
Altyd ‘n “spring of hope”
En ons het alles gehad
Want ons het aangehou.
And we listened to the Will which said,
“Hold on!”.

My ma is die perfekte embleem van hoop, krag en uithouvermoë, en ‘n vrou met baie sterk geloof. Om uithouvermoë te hê as dinge swaar gaan, hoop te hê en aan te hou bid – dit is wat sy my leer en wat by my sal bly. O, en op ‘n ligter noot: sy herinner my altyd om nie met ‘n vuil kombuis te gaan slaap nie!

Hoekom is dit belangrik dat mense skenkers word van Atterbury Trust se beursfonds? Wat kry jy persoonlik daaruit om deel van die Atterbury familie te wees?
Ek het die geleentheid gekry om stresvry te kan studeer. Opvoeding is so ‘n groot faktor in ons samelewing en die feit dat die Atterbury Trust studente die kans gee om hulle drome te kan bereik deur finansiële hulp te bied is voorwaar ‘n seëning. Behalwe vir die finansiële ondersteuning is ek mal oor die persoonlike verhoudings wat gebou word met mentors en die personeel. In my geval is dit Leonie du Preez wat regtig ongelooflik is: sy gee altyd raad; sy lei jou; en sy help jou om perspektief te sien. En Tannie Louise Viljoen wat altyd luister en altyd onmiddelik op ‘n epos sal antwoord. En nie net hulle twee nie maar almal – almal by Atterbury is saam met jou bly oor elke prestasie. So was Catrien Stander van die Trust byvoorbeeld in die Teatro op die openingsaand van die Broadway-konsert toe daar niemand van my regte Kaapse familie daar kon wees nie.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees? Wat hoop jy sal jou kwalifikasie vir jou beteken in die toekoms?
Ek hoop dat ek teen dan darem al daai rolletjie gekry het op Suidooster, al oorsee getoer het met ‘n paar goeie produksies en saam met ikone gewerk het in Suid-Afrika. En ‘n digbundel gepubliseer het. Intussen wil ek deeltyds studeer, en ek hoop dat my studies my die kans sal gee om ook terug te ploeg in opvoeding. Ek sal ook nogal graag in onderwys wil werk – dalk drama aanbied of kleinskaal produksies vir uitreikprogramme doen; opvoedkundige teater by skole… dié is ook iewers in my visier.

Elke bydrae tot die Atterbury Trust beursfonds gee ons meer om te kan belê in die opvoeding van wonderlike dromers en doeners soos Hizel. Donasies het belastingvoordele, en jy kan selfs aandui in watter studierigting jy wil hê jou donasie aangewend moet word. Kliek hier om meer uit te vind…