Atterbury Trust is al ‘n geruime tyd by Isa Carstens Academy betrokke, en vanjaar is ons besonder trots dat twee Trust beursstudente aangewys is as medewenners van die akademie se jaarlikse merieteprys vir sy topstudent, by beide die Stellenbosch en Pretoria-kampus. Die twee uitblinkers se name klink selfs dieselfde! Ons gesels met Kayla Lakey in die Kaap en Kaylin Prinsloo in Pretoria
Hoe het dit gevoel toe jy hoor jy het die Merietetoekenning ontvang, en wat beteken die toekenning vir jou?
Kayla: Dit was werklik onbeskryfbaar. Ek het vir ’n paar sekondes net stil gestaan, oorweldig deur ’n golf van emosies. Ek was ongelooflik bly, emosioneel en so so dankbaar. Dit het gevoel asof alles waarvoor ek so hard gewerk het; die lang ure, die opofferings, die tye van twyfel en deursettingsvermoë; op daardie oomblik raakgesien is.
Die Merietetoekenning beteken vir my soveel meer as net ’n prestasie. Dit is ’n bevestiging dat my harde werk en toewyding waarde het en dat my reis betekenisvol was. Isa Carstens het ’n enorme invloed op my lewe gehad, nie net professioneel nie maar ook persoonlik.
Hierdie toekenning voel vir my soos ’n tasbare herinnering aan daardie invloed; ’n simbool van groei, selfvertroue en die ondersteuning wat ek ontvang het.
Kaylin: Dit was meer as net ’n skok, want ek kon dit nie glo nie! Ek het dit glad nie verwag nie. Toe my vriendinne begin opstaan, hande klap en my aanpor verhoog toe, het dit eers regtig ingesink. Ek kan met eerlikheid sê dat ek trots is op myself.
Die toekenning beteken baie vir my, want dit het my gewys dat my harde werk, passie, kennis en liefde vir mense raakgesien is. Dit motiveer my om my beste te doen en my lewenswyse op ’n positiewe en doelgerigte manier uit te leef.
Watter les uit jou studietyd sal jou altyd bybly?
Kayla: Dis die les dat groei nie altyd maklik is nie. Daar was oomblikke van twyfel, moegheid en onsekerheid, maar juis daardie tye het my die meeste gevorm. Ek het geleer om aan te hou, selfs wanneer dinge oorweldigend gevoel het, en om stadig maar seker vertroue in myself en my vermoëns te bou.
Kaylin: Vir my is dit die les dat dit belangrik is om nooit op te gee nie, maak nie saak hoe moeilik of uitdagend iets voel nie. Daar gaan baie dinge in die lewe wees wat jy oor en oor moet probeer of deurgaan voordat dit suksesvol uitwerk.
Nog ’n belangrike les was die waarde van konsekwentheid. Ek het geleer hoe belangrik dit is om konsekwent te wees in alles wat ek doen.
Kailin Prinsloo met (links) Inge Ferreira en Yolandé Swanepoel van Isa Carstens Academy
Watter vaardigheid wat jy tydens jou studies aangeleer het, gebruik jy reeds met selfvertroue?
Kaylin: Ek gebruik my kennis van velsorg met selfvertroue om behandelings aan te pas by elke kliënt se behoeftes en velkondisies. Ek pas professionele gesigs- en liggaamsbehandelings met selfvertroue toe volgens korrekte tegnieke en streng higiëne-standaarde. Verder gebruik ek my kennis van produkbestanddele en hul werking wanneer ek kliënte professioneel adviseer.
Kayla: Ek het geleer om professioneel en rustig met mense te werk tydens behandelings, maar ook om hulle regtig te verstaan. Waar ek aan die begin onseker was, voel ek nou gemaklik. Ek het geleer hoe om behandelings korrek uit te voer en om met empatie en sorg, ’n veilige, gemaklike ervaring vir elke kliënt te skep.
Hoe hoop jy om aan die bedryf of gemeenskap terug te gee?
Kayla: As somatoloog wil ek graag teruggee deur my kennis en vaardighede te gebruik om mense te help ontspan, herstel en beter oor hulself en hul liggame te voel. Vir my gaan dit nie net oor behandelings nie, maar oor omgee en die verskil wat dit in iemand se lewe kan maak. Ek wil altyd eerlike, professionele diens lewer en, waar moontlik, ook mense help wat nie altyd toegang tot sulke behandelings het nie.
Kaylin: Ek hoop om aan die somatologiebedryf terug te gee deur kliënte op te voed oor korrekte velsorg en selfversorging, sodat hulle selfvertroue en algemene welstand kan verbeter. Ek wil my kennis en vaardighede gebruik om gehaltebehandelings te lewer en professionele standaarde in die bedryf te handhaaf.
Verder hoop ek om jong of nuwe terapeute te ondersteun deur my kennis en ervaring met hulle te deel. Ek wil ook graag betrokke wees by gemeenskapsinisiatiewe deur basiese velsorg- en welstandsadvies te bied aan mense wat dit nie maklik kan bekostig nie. My doel is om ’n positiewe impak te maak deur mense te help om beter oor hul vel en hulself te voel.
Waar sien jy jouself oor vyf jaar?
Kayla: Oor vyf jaar sien ek myself as ’n gevestigde en selfstandige vrou wat voortdurend leer en groei. My onmiddellike plan is om op passasierskepe te gaan werk om vinniger my beurslening te kan terugbetaal, so ek hoop dat ek oor vyf jaar twee sulke kontrakte agter die blad sal hê en ook al my vierde jaar by Isa Carstens suksesvol afgehandel het, en daarna wil ek my eie besigheid begin. Groot of klein, selfs al is dit net die begin. Ek sien uit daarna om my passie en vaardighede te gebruik om iets van my eie te bou en terselfdertyd ’n positiewe impak in die bedryf en gemeenskap te maak.
Kaylin: Oor vyf jaar sien ek myself as ’n gevestigde en selfversekerde somatoloog wat professionele en gehalte-behandelings lewer en voortdurend my kennis uitbrei. Ek sien myself in ’n professionele omgewing waar ek kan groei, spesialiseer en ’n positiewe bydrae tot die bedryf kan maak.
My doel is om verdere opleiding te voltooi en my vaardighede verder te ontwikkel. Ek hoop om ’n lojale kliëntebasis te hê en bekend te staan vir my professionaliteit en uitstekende diens. Ambisieus gesien, sien ek myself in ’n senior posisie of as ’n onafhanklike praktisyn, moontlik met my eie praktyk of behandelingsruimte.
Watter raad sal jy vir nuwe of voornemende studente gee?
Kaylin: Wees passievol, bly toegewyd en altyd oop om te leer, want die bedryf ontwikkel voortdurend. Dit is belangrik om ’n sterk teoretiese én praktiese grondslag te bou, want albei is noodsaaklik vir sukses in die somatologiebedryf.
Wees geduldig met jouself en moenie bang wees om vrae te vra of foute te maak nie- dit is alles deel van die leerproses.
Kayla: Glo altyd in jouself, selfs wanneer dinge moeilik voel. Moenie bang wees om foute te maak of vrae te vra nie, dit is hoe jy regtig leer. Gebruik elke geleentheid om te oefen en te groei, en onthou: elke klein stappie vorentoe maak ’n groot verskil.
Wat sou jy vir potensiële skenkers sê om hul te motiveer om aan Atterbury Trust se beursfonds te skenk?
Kayla: Elke bydrae het ’n direkte en lewensveranderende impak. Deur Atterbury Trust te ondersteun, help skenkers nie net met finansiële hulp nie, maar hulle gee studente hoop, geleenthede en die kans om ’n beter toekoms vir hulself en ander te bou.
Kaylin: Deur aan Atterbury Trust se beursfonds te skenk, belê u nie net in ’n student se toekoms nie, maar ook in die ontwikkeling van vaardighede wat ’n blywende impak op die gemeenskap en bedryf het. U bydrae gee studente die geleentheid om hul drome te verwesenlik en ’n betekenisvolle bydrae tot hul beroep en die samelewing te maak.
Atterbury Trust borg al vir 28 jaar verdienstelike Afrikaanssprekende studente se studies, danksy die ondersteuning van ons groothartige skenkers. Vind uit hoe jy kan skenk: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/
MEER OOR DIE ISA CARSTENS MERIETETOEKENNING
Mede-eienaars Isabel en Gerhard Roos sê:
“Hierdie toekenning, ingestel deur ons stigter, Isa Carstens, in 1978, staan as ’n simbool van uitnemendheid, integriteit en toewyding aan die somatologieberoep. Elke jaar word dit toegeken aan ’n gegradueerde wat nie net akademies uitnemend presteer het nie, maar ook die waardes en gees beliggaam wat ’n ware professionele persoon in ons veld definieer.
“Die toekenning self, ’n pragtige beeldhouwerk geskep deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Frieda Ollemans, weerspieël kunsvaardigheid en visie – kwaliteite wat elke ontvanger in hul loopbaan behoort voort te dra.
“Dit is nie net ’n toekenning nie – dit is ’n roeping. Dit eer ’n gegradueerde wat ’n ware ambassadeur vir ons beroep sal wees, iemand wat met passie en doelgerigtheid sal lei.”
Kayla Lakay met (links) Yolandé Swanepoel en Hester-Heleen Burger van Isa Carstens Academy