Skip to content
Menu
Menu

Liefdadigheid op die gholfbaan

Die Van Ross Foundation is ’n passieprojek waarmee weldoeners Ben van Rooyen en Johann Liebenberg nou ook Atterbury Foundation NPC se Startwell-voedingsinisiatief ondersteun. Ons het met die stigters gesels oor die storie agter hierdie unieke projek. 

Die dryfveer agter die Van Ross Foundation is Ben van Rooyen, ’n afgetrede entrepreneur met meer as drie dekades se ervaring as baanbreker in die telematika- en sekuriteitsbedrywe, beide plaaslik en internasionaal. Na sy aftrede het Ben hom in 2020 in Kaapstad gevestig. As ’n ywerige gholfspeler het gereelde gholfuitstappies saam met vriende, veral Gordon Ross, ontwikkel tot jaarlikse toere langs die Tuinroete wat al hoe meer deelnemers gelok het. Uit hierdie samekomste het die Van Ross Foundation organies ontstaan as ’n platform waar ’n gedeelde liefde vir gholf en ’n verbintenis tot liefdadigheid saamvloei. Namate die stigting gegroei het, het dit eendersdenkende individue gelok, en in 2025 het Johann Liebenberg by Ben aangesluit om die Van Ross Foundation verder uit te bou, wat die grondslag lê vir volhoubare groei en langdurige impak.

Wat behels julle gholftoernooie?

Dis ons passie by die Van Ross Foundation om eendersdenkende gholfspelers bymekaar te bring by top-gholfbestemmings. Ons toernooie bied uitstekende waarde-vir-geld-pakkette en maak van ons ’n gesogte groep in die gholfgemeenskap. Gholfklubs en hotelgroepe verwelkom ons terug, want hulle het groot waardering vir ons respek vir hul fasiliteite, reëls en tradisies.

As ’n groepie bevoorregte individue weet ons hoe belangrik dit is om ook terug te gee, en só is die Birdies for Charity-inisiatief geskep om geld vir liefdadigheid in te samel. Die toernooie verskil van jaar tot jaar, en daar is onder meer die Van Ross Fancourt Experience, die Van Ross Overberg Challenge, die Van Ross Shootout langs die Tuinroete, die Van Ross Sun City Invitational, die Van Ross Wild Coast Couples en die Van Ross Dolphin Coast Couples.

‘n Tipiese Van Ross-toernooi sluit in luukse akkommodasie, drie of vier rondtes gholf met gholfkarretjies, ‘n welkom-dinee en ook ‘n afsluitings-prysuitdeling met vermaak. Daar is groot pryse, insluitend ’n spesiale kolhouprys van R100 000 en ‘n setkompetisieprys (“putting”) van R10 000, met bederfsakkies ter waarde van R2 000. Die stigting strewe daarna om ’n onvergeetlike ervaring vir ons deelnemers te skep terwyl ons die gemeenskap ondersteun.

Wie is die teikenmark?

Ons teikenmark is professionele, eendersdenkende senior individue wat ’n passie vir gholf deel. Al fokus ons dikwels op egpare, is ons geleenthede oop vir almal wat ons waardes deel. Ons is veral daartoe verbind om meer vroue aan te moedig om aan gholftoernooie deel te neem en skep ’n vrouvriendelike omgewing waarin die toernooie geniet kan word.

Oor die afgelope vyf jaar het die Van Ross-toernooie gegroei tot ’n geleentheid waar vriende bymekaar kom en ook nuwe vriendskappe gevorm word. Ons is trots daarop dat ons gemiddeld 10 tot 15 nuwelinge by elke toernooi verwelkom, en dat hulle vinnig deel van ons Van Ross-gemeenskap raak. Ons toernooie het regtig ’n plek geword waar mense saamkom, ervarings deel en blywende bande vorm.

Hoe het julle te hore gekom van die Startwellprojek?

Ons het toevallig een oggend Die GROOT Ontbyt op televisie gekyk en is geraak deur ’n onderhoud met die ouens van Outsurance en We BuyCars wat gesels oor die Startwellprojek. Omdat ’n welbekende en gerespekteerde groep soos Atterbury betrokke is, het ons besluit om navorsing te doen en toe uitgereik na Zahn Hulme, destyds die bemarking- en handelsmerkbestuurder van Atterbury Trust en Atterbury Property.

Ons hoor julle het een van die kleuterskole waar die kleuters Startwell ontvang in Kyamandi besoek? Wat was julle indruk van die besoek?

Wow, wow… wat ’n absolute wonderlike ervaring en voorreg. Die passie waarmee Atterbury Trust en Startwell se mense hierdie projek hanteer was iets besonders om te aanskou en beleef. En die stroopsoet kinders en hul toegewyde onderwysers het so ‘n indruk gemaak; dit was ’n emosionele ervaring om te sien hoe daar as ‘n groep handjies saamgeslaan en uit volle bors ‘n tafelgebed gedoen word voordat hulle die Startwell-pap geniet het. Die besoek was werklik ’n hoogtepunt van 2025.

VanRossFoundation-AtterburyTrust-Startwell-12

Hoe sien julle die ondersteuning van die Atterbury Foundation se Startwellprojek in die toekoms?

Ons laaste toernooi vir 2025 was die Van Ross Shootout op die Tuinroete, en R15 000 is deur Birdies for Charity ingesamel vir die Startwellprojek.

Ons samel tipies met Birdies for Charity R15 000 in per toernooi van 40 tot 52 spelers. Ons beplande streekstoernooie sal ongeveer 120 spelers per toernooi akkommodeer, wat hierdie skenkbedrag aansienlik kan vergroot.

Op die oomblik ondersoek ons ook ander insamelingsopsies, soos om borge betrokke te kry by toernooie. Gholfbane gee ook byvoorbeeld ’n aansienlike afslag op deelname waar liefdadigheid betrokke is – selfs soveel as R200 per speler, wat bykomende skenkbydrae kan word.

Hoe lyk julle toerprogram vir 2026?

Die beplanning vir 2026 lyk sover so:

15 – 19 April: Van Ross Fancourt-toernooi met 52 spelers

13 – 18 Julie: Van Ross Wild Coast Couples met 52 spelers

7 – 9 Oktober: Van Ross Winelands Couples met 120 spelers

23 – 27 November: Van Ross Shootout, Tuinroete met 52 spelers

As jy belangstel om deel te neem, stuur gerus ’n WhatsApp-boodskap aan Ben op 082 888 4480 of Johann op 083 712 3841. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@vanrossfoundation.com, of  www.vanrossfoundation.com besoek vir inligting oor toekomstige en vorige toernooie.

 

Knysna 113