’n Lewenstaak wat met liefde volbring is. Dít is die storie van Zahn Hulme se 27 jaar by Atterbury Trust
Die aand van 28 Oktober 2025 was gevul met musiek, herinneringe en liefde. In die Fairtree Atterbury Teater het familie, vriende, kollegas en studente byeengekom om dankie te sê vir ’n vrou wat stilweg ’n nasie help verbeter het. Karen Zoid en Coenie de Villiers het hul stemme saamgevoeg by die refrein van respek en positiwiteit wat Zahn Hulme se loopbaan kenmerk. Dit was meer as net ’n afskeidsaand. Dit was ’n viering van wat kan gebeur wanneer finansiële vernuf, ’n geoktrooieerde rekenmeester se presisie en ’n Hart van Omgee, met hoofletters, in ’n positiewe ingesteldheid saamsmelt vir aksie.
Daar is mense wat werk vir ’n lewe en dan is daar individue soos Zahn Hulme wat leef vir ander se lewens. Sy is een van die skaars mense wat fyn finansiële bestuur en welwillendheid verweef in ’n tapisserie van omgee sodat getalle in hande van hulp verander en harde, eerlike arbeid hoop in ’n werkwoord omskep.
Wanneer sy terugkyk op bykans drie dekades van diens, glimlag Zahn met daardie stil genoegdoening van iemand wat weet sy het betekenis geskep en geleef. “Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval,” sê sy. “Om elke dag op te staan en te weet jy gaan iemand anders se droom moontlik maak. Dis mos nie werk nie, dis ’n roeping. En as ek enigiets geleer het, is dit dat hoop en geleenthede nie net lewens verander nie, dit verander families, gemeenskappe en uiteindelik ons land.”
Aan die begin
Die pad wat Atterbury medestigter Louis van der Watt en Zahn Hulme saam gestap het, strek oor ’n leeftyd van 37 jaar. Dit is ’n hegte vriendskap wat onverwags by Deloitte begin het toe Louis as student vakansiewerk gedoen het en Zahn sy ouditbestuurder was. Ten spyte van die rangverskil het hulle van dag een af uitstekend oor die weg gekom. Daar was dadelik ’n aanvoeling en wedersydse respek te bespeur, wat die fondasie vir die toekoms sou lê.
Toe Louis en Francois van Niekerk ’n paar jaar later Atterbury en toe ook Atterbury Trust gestig het, was hulle visie helder. Hulle het iemand nodig gehad om die droom van ’n trust vir behoeftige Afrikaanssprekendes vlerke te gee. Vir Louis was daar net een logiese keuse. Hy het geweet Zahn is die tipe mens wat nie net ’n taak verrig nie, maar werklik ’n verskil maak.
Soos Louis dit self stel, is sy iemand wat haar passie “eet, leef en slaap”. Hy het haar absolute toewyding, passie en deursettingsvermoë geloof en gesê die reuse-sukses van die Trust vandag is die onteenseglike bewys dat hy en Francois se gesamentlike keuse in die kol was. Dit was ’n aanstelling wat nie net ’n organisasie gebou het nie. Dit het duisende kinders en ander se lewens permanent verander.
Louis het ook die aandeel wat Zahn vanaf die beginjare in Atterbury se korporatiewe beeld en bemarking gemaak het, uitgelig. Sy het met styl ‘n bloudruk geskep wat steeds die grondslag is waarop Atterbury vandag bou.
Volgens Francois verdien Zahn werklik ’n spesiale plek in die oorhoofse Atterbury geskiedenis. “Sy is nie net ’n kollega of trustee nie, maar iemand wie se invloed van die heel begin af onuitwisbaar in die DNS van Atterbury se volgehoue sukses ingeweef is.
“Waar sy maklik die korporatiewe leer kon klim, het Zahn gekies om te dien. Eerder as ’n winsgedrewe fokus, was haar leierskap deurgaans gemik op onvoorwaardelike diens aan individue en gemeenskappe. Eie voordeel was vir haar nooit ter sake nie.”
As uitvoerende trustee van Atterbury Trust en direkteur van Atterbury Foundation NPC het Zahn deurlopend bygedra om hierdie instellings tot twee van Suid-Afrika se mees gerekende welwillendheidsorganisasies te help bevorder.
Impaksyfers duisend
Zahn se bewese bydra lê in die getalle wat die werklike storie van haar impak vertel: Bykans 1 000 beurslenings toegeken, amper 700 grade behaal, meer as 2 500 kleuters wat daagliks voedingsryke ontbytpap ontvang, verskeie liefdadigheidsorganisasies wat reeds meer as 930 ton gratis landbouprodukte as voedsel gekry het en Triomf Kliniek wat al gratis gesondheidsorg met waardigheid deur vrywillige mediese personeel aan meer as 7 500 mense in die gemeenskap gebied het.
Maar dit gaan nie alleenlik oor die verhaal wat die getalle vertel nie. Dit is die stories van die mense wat agter elke nommer staan. Soos daardie student wat albei ouers in ’n ongeluk verloor het, maar met Atterbury Trust se hulp haar studies kon voltooi. Of die jong man uit ’n plattelandse dorp wat vandag as ingenieur werk en sy eie gemeenskap help bevorder. Die onderwyseres uit die Karoo wat by ’n skool wat nie skoolgeld vra nie, wil werk. Baie van die Atterbury beursgraduandi wat die eerste in hulle familie is om ’n tersiêre kwalifikasie te verwerf. Daar is soveel sulke opbouende stories van omgee.
Die hart agter die werk
Pierre Tredoux, voorsitter van Atterbury ken Zahn se uitsonderlike aanslag goed. “Dit is ’n besondere voorreg om ’n vriend en kollega van Zahn te wees. Haar onblusbare passie vir die lewe, haar familie, geloof, vriende, kollegas en minder bevoorregte medemens is ’n voorbeeld vir almal. My vrou Petra sê altyd: ‘Zahn is die nederigste supervrou wat ek ken!’.”
“People will forget what you said
People will forget what you did,
But people will never forget how you made them feel”
Hierdie aanhaling van Maya Angelou word deur Atterbury Teater se Matthys Maree asook Jacomien Rossouw, een van die eerste ses Atterbury Trust beurslening ontvangers in 1999, aangehaal om Zahn se manier van wees te beskryf.
Wat haar verder onderskei is haar vermoë om die strategiese met die persoonlike te vermeng in ’n totaal wat meer is as die afsonderlike dele. Sy het nie net beurslenings toegeken nie, sy het mentorskappe georganiseer, jaarliks beursfunksies in Pretoria, Stellenbosch en elders gehou, vakansiewerk en permanente aanstellings gefasiliteer en sterk verhoudings gebou wat studente ondersteun het lank ná gradeplegtigheid.
“Ek glo vas geleenthede moet geskep word, nie net gegee word nie,” verduidelik Zahn. “Dit beteken ons trust is by studente betrokke van die oomblik dat hulle aansoek doen tot lank nadat hulle gegradueer het. Ons vier saam wanneer hulle slaag, ons ondersteun wanneer dit swaar gaan en ons is daar om te sien hoe hulle op hul eie beurt begin teruggee.”
Hierdie filosofie het gelei tot die unieke volhoubare beursleningsmodel waarmee studente hul beurse terugbetaal sodra hulle werk, wat dit moontlik maak vir die volgende groep studente om gehelp te word. Dit is ’n standhoudende siklus van hoop en omgee wat aanhou draai.
Die mens agter die missie
Maar om Zahn te ken, is om te weet dat haar lewe nooit net oor werk gaan nie. Alten, haar man van meer as drie dekades deel ’n perspektief wat min mense van weet. “Mense sien die professionele Zahn, die vrou wat groot dinge bereik,” sê hy. “Maar ek sien my vrou wat soggens langs die see in Wildernis stap, wat elke tree gebruik om stil te word en te dink. Ek sien die toegewyde ma wat trots is op ons seuns Alstaedt en Rein, waar hulle tans oorsee in Amsterdam en Londen hulle merk maak. En ek sien die mens wat glo dat elke aksie, hoe klein ook al, ’n positiewe verandering kan skep.”
Alstaedt, haar oudste seun, vertel van sy ma se onverskrokkenheid: “My ma het my geleer dat die lewe nie net oor sukses gaan nie, maar oor betekenis. Sy het ons gewys hoe om te droom, maar ook hoe om daardie drome vir ander moontlik te maak. Wanneer sy van Robbeneiland Bloubergstrand toe swem om fondse in te samel vir kinders se voeding, doen sy dit nie vir erkenning nie, sy doen dit omdat sy glo elke kind verdien ’n kans.”
Rein voeg by: “My Ma is ‘n ongelooflike rolmodel vir my. Wat my altyd tref is hoe my ma kan balanseer tussen finansiële verantwoordelikheid en emosionele intelligensie. Sy verstaan balansstate, maar sy ken ook gebreekte harte. En dit is ’n skaars kombinasie.”
’n Erediens van dankie
Daardie Oktoberaand in die teater was gevul met hierdie soort herinneringe. Karen Zoid se stem het die ruimte gedra met haar unieke lirieke wat raak getref het. Coenie de Villiers se klavier-melodieë het die stilte tussen woorde gevul met skoonheid. En Louis van der Watt se toespraak het saamgevat wat almal gevoel het.
“Zahn het die Trust nie net groot gemaak nie. Sy het dit met deernis betekenisvol gemaak.”
Die pad vorentoe: Nuwe planne
Op 60 is Zahn se operasionele dagtaak dalk nou iets van die verlede, maar haar passie is beslis nie. Soos sy dit stel: “Hierdie aftrede uit ’n permanente pos is nie aftrede van my roeping nie.” Sy beplan om tyd oorsee deur te bring waar haar seuns woon, maar ook om moontlik nuwe verhoudings op te bou met gepaste buitelandse filantrope wat dalk belang sou stel om in Suid-Afrika se toekoms te belê. Sy dien steeds as trustee op die Atterbury Trust sowel as direkteur van die Atterbury Foundation NPC. Zahn gaan ook steeds in ’n strategiese en raadgewende rol betrokke wees by sekere Wes-Kaapse projekte in George en Kaapstad.
“Daar is nog soveel werk om te doen,” sê sy met haar kenmerkende kombinasie van realisme en hoop. “Ons land staan voor enorme uitdagings, maar ek glo vas dat elke uitdaging ook ’n geleentheid is. Die vraag is net of ons die moed het om dit aan te gryp.”
Dankie Zahn
Dankie vir alles. Mag jou volgende hoofstuk gevul wees met net soveel betekenis, net soveel passie en vreugde en net soveel van daardie stil genoegdoening wat kom wanneer jy weet jy het waarlik ’n groot en positiewe verskil gemaak.
OnsGeeOm