Atterbury Trust se MengNet inisiatief is gebore uit ’n netwerk-behoefte, en na ’n suksesvolle begin in Pretoria in Mei vanjaar het dit nou na die Wes-Kaap uitgebrei. Uitvoerende Trustee Zahn Hulme vertel meer.
Hoe het die eerste Wes-Kaapse byeenkoms van MengNet afgeloop, en wie was almal betrokke?
Die tweede MengNet-funksie is by Atterbury Property se La Gratitude Herehuis in Stellenbosch gehou, waar OUTsurance stigter en Rain HUB Willem Roos, oud-Bok Fourie du Preez en Freedom Of Movement stigter-entrepreneur Roal Boezaart hul stories gedeel het. Met Lood Bester as onderhoudvoerder kon die 80 gaste, meestal jongmense onder 35 jaar, geïnspireer word deur die besigheids- en lewenslesse van hierdie drie suksesvolle Suid-Afrikaanse ikone. Leah Warmenhoven, wat oorspronklik met die gedagte van MengNet opgekom het en haar flukse span was weer instrumenteel in die bymekaarsit van die goed georganiseerde geleentheid.
Wat is die oogmerk agter hierdie netwerk-geleenthede, en hoe sal die Wes-Kaapse tak van die een in die noorde verskil?
MengNet het ontstaan uit ’n behoefte om werklik sinvolle netwerke tussen jong en opkomende besigheidsmense te skep. Dit het gegroei uit ’n oortuiging dat ware netwerke onvervangbare waarde dra – nie net vir persoonlike vooruitgang nie, maar vir volhoubare impak in ons gemeenskappe. Atterbury Trust sien MengNet ook as ’n geleentheid om terug te gee aan die kinders van lojale donateurs en ondersteuners van die Trust, en om terselftertyd ook aan die beursalumni die kosbare geleentheid te gee om skouers te skuur met suksesvolle besigheidslui.
So bou ons die volgende generasie van ondersteuners van die Atterbury Trust en terselftertyd word die sterk boodskap uitgedra dat daar geleenthede in Suid-Afrika bestaan en dat dit die verantwoordelikheid van hierdie groep talentvolle jongmense is om te bou aan ons land.
Watter insigte wat julle met die eerste byeenkoms gevorm het, speel ’n rol in hoe julle MengNet-samekomste in die toekoms aanpak?
Die entoesiasme waarmee jongmense die MengNet-inisitief begroet het, is ’n bewys van die behoefte aan ’n geleentheid soos hierdie waar spontane besigheidsgesprekke kan plaasvind en jongmense direkte toegang het tot die kundigheid en ervaring van mense wat hulle merk gemaak het in die besigheidswêreld.
Die uiteenlopende kundigheid en agtergrond van die paneel dra ook by tot die ervaring – Willem wat bietjie ouer is en al jarelank gebou het aan Outsurance en ook later Rain en ook Chronos Capital gestig het , Fourie wat ’n rugby-legende en nou ook suksesvolle besigheidsman is en die jonger Roal van Freedom of Movement, ’n gesogte handelsmerk onder baie jongmense in Suid-Afrika.
Ons sien ook soveel moontlikhede wat hieruit kan voortvloei – behalwe vir besigheidsnetwerke ook die moontlikheid om ’n platform te skep vir jongmense wat die arbeidsmark betree of die volgende stap wil neem in hulle loopbaan of ’n nuwe besigheid wil begin en raad en oprigtingskapitaal benodig.
Is julle bewus van bepaalde aksies wat reeds voortgevloei het vanuit die gesprekke en bekendstellings van die eerste twee byeenkomste
Ons het al van ’n paar opwindende nuwe geleenthede verneem – onder andere ’n baie groot transaksie wat tans onderweg is en hopelik eersdaags aangekondig gaan word! Baie van die jongmense het ook al vir Lood Bester gekontak met nuwe idees vir “start-up” besighede, of om raad te vra oor hoe om hulle idees om te sit in ’n besigheidsgeleentheid of net watter maatskappye ’n goeie plek is om te nader vir werk. Vandaar sy idee om ‘n personeelagentskap-been in die toekoms deel te maak van die Trust en ook te werk daaraan om jong entrepreneurs se besigheidsidees met die hulp van ervare besigheidsmense te verfyn en waagkapitaal beskikbaar te stel om suksesvolle besighede te groei.
Daar word ook ‘n aanlyn profiel geskep van elkeen wat die MengNet geleentheid bywoon om dit makliker te maak om mekaar na afloop van die geleentheid te kontak en te sien watter kwalifikasies almal het en waar almal werk.
Hoeveel waarde het die jongmense wat deelgeneem het, uit die geleentheid gekry?
Na afloop van die formele paneelbespreking was daar geleentheid vir vrae en daar was soveel vrae uit die gehoor – ’n bewys dat die jongmense meer wil weet en leer.
Atterbury Trust se uitgebreide netwerk en toegang tot van ons land se mees suksesvolle sakemanne is van onskatbare waarde. Die interaksie tussen ander ambisieuse jongmense gekombineer met die raad en insig van die gevestigde besigheidsleiers is ‘n wenresep.
Wat is die spesifieke behoeftes in die Wes-Kaap wat julle voel kan baat deur die MengNet-netwerke, en het julle enige bepaalde idees van doelwitte wat julle wil bereik?
Atterbury Property is al vir meer as 30 jaar betrokke in Pretoria en het al vir amper sewe jaar ’n kantoor in Stellenbosch. Daar is baie gevestigde netwerke in die noorde, met besigheidslui en ook ondersteuners van die Atterbury Trust. Baie boere uit Limpopo ondersteun Terugploeg met donasies en almal in Pretoria weet van die goeie werk wat die Atterbury Trust doen. Atterbury Property is besig met baie groot ontwikkelings in die Wes-Kaap, van King Air naby Kaapstad Internasionaal, Richmond Park in Milnerton tot in George. Die Atterbury Trust is hard besig om daardie selfde vlak van ondersteuning in die Wes-Kaap te vestig.
Ons bou ook graag verhoudinge met besighede waar Atterbury Trust beursstudente kan vakansiewerk doen of eendag vir werk kan aansoek doen. Projekte soos die Akkerland opgradering, Mandeladag- en ander gemeenskapsuitreike is net soveel meer suksesvol omdat ons kan hande vat met ander besighede en staatmaak op hulle bykomende bydraes.
Daar is Wes-Kaapse instansies soos, onder andere, Isipani Construction, Carinus boerdery, Babylonstoren, Isa Carstens Akademie, Hungry Lion, Mediclinic, Startwell, Abbeydale Cape, RPL Pentad, Moore ouditeure, Similan, Newinbosch en ons mede-huurders in die La Gratitude gebou met wie ons reeds oor die afgelope drie en ‘n halfjaar sterk bande gebou het en wat ons omgeewerk op ’n gereelde basis ondersteun. Dit sal wonderlik wees as daar by die jongmense wat die MengNet-geleenthede bywoon ook ’n bewustheid geskep te word om by die besighede waar hulle werk ook op die uitkyk te wees na moontlike samewerkingsgeleenthede.
Om meer uit te vind oor MengNet, kontak Lood Bester by lood@fledge.co.za of Ananja Koen by ananja@atterbury.co.za.




































