Stokke swaai by Terugploeg Gholfdag
Dit was nou ’n heerlike dag by #SilverLakes Gholfbaan: 80 spelers, 20 vierballe, lekker lenteweer, vir die jaarlikse Terugploeg Gholfdag.
Groot dankie aan ons groothartige borge EKM Exports wat die dag moontlik gemaak het; en dankie aan almal wat Terugploeg so getrou ondersteun!
Elvis Ry Vir Skoolgeld
Almal was daar!
Met sowat ’n week om te gaan, onthou ons Elvis se wegspring
Familie was daar, vriende was daar, ondersteuners was daar, die media was daar, ons was daar en Elvis was daar by die Specialized-winkel in Stellenbosch waar die Elvis Ry Vir Skoolgeld fietstog begin het op 30 Augustus. Maar die man van die oomblik was nie daar vir lank nie, want hy het om negeuur voorspoedig vertrek na Piketberg, die eerste oornag stop op pad na Windhoek, Namibië. Sedertdien trap hy elke dag vir ’n vale!
Met nog sowat ’n week oor, onthou ons al die opgewondenheid en lekkerkry van die begin van vanjaar se gewaardeerde poging van Elvis om namens Atterbury Trust geld in te samel vir hulpbehoewende kinders en studente se opvoeding. Elvis, met die ondersteuning van hoofborge WeBuyCars en Atterbury Property asook elf ander borge wat elk ’n dag se reis moontlik maak, Vriende van Atterbury Trust en mense wat omgee, soos jy, trap lekker ver fiets na die Grove Mall in Windhoek. Dankie Elvis!
Ons kan nie wag om jou reis voltooi te sien nie. Die positiewe impak van jou Ry vir Skoolgeld projek sal nog lank ná die laaste kilometer deur ons gemeenskap ervaar word.
Kyle Kingsley
’n Wonderlike fees van vrouwees: Ons Vier Oop Hande-geleentheid
MengNET samekoms by die Klubhuis
Leah Warmenhoven se idee om jongmense in Pretoria te mobiliseer het gelei tot die eerste MengNET samekoms, geborg deur Fledge; met drie inspirerende sakemanne, Danie Matthee, Edgar Rathbone en Faan van der Walt, onder leiding van Lood Bester wat oor hul suksesse, uitdagings en lewenslesse gesels het. #onsgeeom
Triomfkliniek se sooispit-seremonie
Wat ’n heuglike dag: Louis van der Watt spit die eerste sooi vir die nuwe Triomf Kliniek, wat ’n klipgooi van Atterbury Property en Atterbury Trust se Klubhuis-hoofkantoor in Hazelwood gaan verrys! Voor die winter om is, sal Triomf-pasiënte kan aanmeld vir sorg met waardigheid! #onsgeeom #hulpwatwerk #sorgmetwaardigheid
Survivor Gholfdag 2024
Die jaarlikse Survivor Gholfdag was weer ’n reusesukses by Pretoria Country Club: al vir 10 jaar bied Gerhard van der Westhuizen en Rayno Strauss dit aan ten bate van mediese sorg vir behoeftige kankerlyers. Bykans R2 miljoen is vanjaar ingesamel!
ACAPPELLA 2024 – WAT ‘N AAND!
Baie geluk aan Poorboys – Patria manskoshuis, die wenners van Atterbury Trust Acappella 2024 na ’n wonderlike aand van saamsing & samesyn by Fairtree Atterbury Teater/Theatre. Dit was ’n nou stryd, want daar is so ongelooflik baie talent in die wêreld van sêr; maar jul was die kersie op die koek!
Terugploeg sê dankie met jaarlikse gholfdag
Soveel impak by Terugploeg se tweede gholfdag, by Silver Lakes Golf Club gehou as dankie-sê aan ons wonderlike ondersteuners oor die afgelope jaar. Daar was 20 uitgenooide vierballe – 80 spelers in totaal. Dankie aan borge EKM Exports, My Import Guy, BooYaa Golf en Safari Outdoor.
Oop Hande vir Vrouedag
Ons Vrouedag-funksie by Stellenbosch Institute for Advanced Study saam met Lize Beekman en Frieda Van Den Heever was omtrent spesiaal, met vriendinne wat hul hande en harte oopgemaak het om vroue van InVia Stellenbosch se Smartietown Womanhood projek en ook MOI leerders te borg. Dankie aan Isa Carstens Academy se studente en Helene van Wyk vir die lekker bederfies!
Mandeladag 2024
Wat ’n wonderlike, woelige Mandeladag was dit: Atterbury Trust Wes-Kaap het met ons nuwe Terugploegbussie ’n groep MOI leerders van Bloemhof en HS Stellenbosch Hoër geneem om te kuier met die pikkies van Devon Valley Primêr en Little Froggies nasorg. Hungry Lion SA het kos verskaf en daar is gesing en speletjies gespeel… Nasiebou is só belangrik by MOI, en word met soveel vreugde aangepak. Ons Pretoria-span was saam met Atterbury Property in Krugersdorp by Tjokkers kleuterskool, waar ons plaatkoekies gebak het en 70 pakkies kon uitdeel met nuwe skoene en baadjies!
Terugploeg se GROOT Mei uitdeel: 18.3 ton kos versprei!
Terugploeg kon vandeesweek 18.3 ton botterskorsies, tamaties, lemoene en pomelo’s uitdeel wat die mense van 35 welsynsorganisasies van maaltye sal voorsien, alles danksy ons wonderlike donateurs: • Mahela • CPJ Erasmus • ZZ2 • Komati Fruits • AL3 Boerdery 🙏
Versnit 2024
Enige versnit se mengsel is net soos goed soos die gehalte van die onderliggende elemente. Van toepassing op Versnit 2024, beteken dit beslis dat dié magiese aand se vermenging van die geselskap van vriende wat omgee, Rust en Vrede se wyn en ’n vertoning deur ons land se allerbeste kunstenaars maklik kon kers vashou by enigiets wat mens oorsee kan ervaar. Eintlik meer so, aangesien die ligging en harte wat oopmaak op die maat van musiek sekerlik nêrens anders gevind kan word nie.
Bekende sterre soos Elvis Blue, Karen Zoid, Claire Johnston, Ruhan du Toit en die vyf-Grammy Toekenning-wennende Ladysmith Black Mambazo, almal saam op een verhoog aan die hange van die Helderberg, gebeur mos nie elke dag nie.
Samesyn en saamsing was aan die orde van die dag toe die Vriende van Versnit teen sonsondergang op die grasperk voor Rust en Vrede se herehuis kon bymekaarkom om hierdie jaar se vertoning te kon meeleef.
Maar dit is beslis nie al nie. Die mense wat Versnit 2024 kon bywoon, gee ook om en dít maak al die verskil. Noemenswaardige bydraes deur hierdie groep help Atterbury Trust om ’n menigte ondersteunings-projekte gemik om minder welgesteldes te kan onderhou. As jy ook wil bydra, klik op die Atterbury Trust Donasiewinkel-skakel hier onder, want ons weet jy gee ook om.
Survivors gholfdag 2024
Meer as ’n miljoen rand is ingesamel by die 9de jaarlikse Survivors gholfdag, wat Gerhard vd Westhuizen en Rayno Strauss begin het om kankerpasiënte te help met mediese onkoste en ander liefdadigheidswerk. Baie dankie vir die skenking van R150 000 hiervan aan die Trust!
Terugploeg se Boomplantdag
Só maak mens ’n positiewe verskil en help om ons stad op te bou! Tshwane burgemeester Cilliers Brink het kom hand bysit om 40 sitrusbome by Terugploeg Boomplantdag in ons boord te plant in samewerking met GrootFM & Plantland.
Saam boer ons volhoubaar vooruit!
#HulpWatWerk
#AtterburyTrust25
Gholfdag samel R500 000 in vir Terugploeg
’n Aand van Omgee
Atterbury Trust vier 25 jaar van welwillendheid
As deel van Atterbury Trust se 25ste bestaansjaar-vieringe is die Vriende van Atterbury Trust uitgenooi na ’n aand van omgee in Atterbury Teater. Uitvoerende trustee Zahn Hulme het die verrigtinge op ’n gepaste wyse met ’n terugblik na alles wat al reggekry is begin. Sy het ook die inspirerende visie van die trust vir die volgende 25 jaar met ’n volgepakte teater gedeel.
’n Aangedane Louis van der Watt, oprigtertrustee van Atterbury Trust en hoof uitvoerende beampte van Atterbury Groep, het vertel hoe die mense van Atterbury se Pretoria altyd regstaan om te help. In hierdie gebied is omgee werklik ’n werkwoord, want die mense hier spring gereeld in en ondersteun die trust om ander te kan help met woord, daad en kontant.
Zahn en Louis het die feit benadruk dat sonder weldoeners se materiële ondersteuning, die trust se doelwitte nie bereik kan word nie. Alle donateurs en ondersteuners is hartlik bedank vir hulle goedhartigheid.
Met toesprake gelewer en video’s gespeel, was dit tyd vir ’n musiekvertoning van wêreldklas deur Lize Beekman en die altyd innemende Stef Bos. Hulle het die trust se goue draad van hulp aan dié van ons wat dit die nodigste het deurgaans met sang, pragtige klavierspel en vreugde uitbasuin.
Die gehoor het hard handegeklap, gelag en dalk ook ’n traan of twee moes wegvee van tevredenheid, want ons weet die mense wat hiérdie aand saam met Atterbury Trust gedeel het, gee ook om.
Alles wat MOI is
MOI Leerdersberaad
Danksy Dis-Chem Castle Gate kan ons menige gestremdes help
Triomfantelik Vrouwees “make-over” vertoning
Boersaam word bekendgestel – die toekoms van Terugploeg
Saamploeg met Terugploeg vir Madibadag
Die tema vir Madibadag 2022: “Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is”.
AtterburyProperty, Atterbury Teater/Theatre, GROOTfm 90.5 en die hele Atterburyfamilie het by Terugploeg kom saamploeg: vleis verpak (dankie Uitkyk Vleis en Supermark vir 240kg vleis!), 11 000 groenteplantjie geplant (dankie, EATYourGreens), geskenkte klere gesorteer en verpak en karre gewas.
Terugploeg vir die maand van Paasfees
Internasionale Doktersdag by Triomf Kliniek
Met wyn en samesyn word teruggeploeg
Tydens die onlangse Liberi kos- en wynsaamsnoergeleentheid met Dewaldt Heyns, Saronsberg se wynmaker, aangebied by Zest Bistro The Club Retail Centre in Hazelwood, Pretoria, is heerlik gekuier met glas en bord. Sowat 50 gaste is getrakteer met smaaklike kombinasies van Saronsberg wyn en kos uit die boonste rakke.
Dit is ’n riem onder die hart om te kan rapporteer dat nie minder nie as R1.5m vir ons voedsel- en werk-inisiatief Terugploeg ingesamel is. Hierdie fondse word aangewend om die Terugploeg verwerkingsfasiliteit verder op te rig.
Saronsberg se Liberi wyn is ook fluks verkoop ten bate van Terugploeg. Soveel so, dat voorraad nou baie beperk is. So as jy ook wil deelneem aan hierdie positiewe poging om minderbevoorregtes van hulp te wees en op die koop toe om ook hierdie besonderse wyn te kan geniet, werk saam en klik op een van die skenking-skakels hier onder, want ons weet jy gee ook om.
Spesiale Saronsberg Liberi Pinotage Reserve (2017) houtkissie met ses bottels wyn
Al die bottels in die spesiale houtkissie is deur wynmaker Dewaldt Heyns en kunstenaar Claudette Schreuders geteken.
Klik hier om te koop: https://atterburytrust.org/shop/spesiale-saronsberg-liberi-pinotage-reserve-2017-houtkissie-met-ses-bottels-wyn/
Saronsberg Liberi Pinotage Reserve (2017), ses bottels per kartonboks
Klik hier om te koop: https://atterburytrust.org/shop/saronsberg-liberi-pinotage-reserve-2017/
Skenk kontant aan Terugploeg: https://atterburytrust.org/shop/terugploeg/
’n Heerlike Terugploeg-braai vier goeie vordering
Tydens ’n gesellige lente-braai op die perseel van die nuwe Terugploeg hoofkantoor en verwerkingsfasiliteit net buite Pretoria is weldoeners bedank en gaste getrakteer om die vordering met die Terugploeg inisiatief te vier.
Terugploeg se doelwit is om aan minderbevoorregtes geskenkte voedsel en ander items op ’n verantwoordelike en doelmatige wyse uit te deel. Maar dit is nie waar dit eindig nie. Met Terugploeg se leuse van “Hulp wat werk” in gedagte, is ’n verdere doelwit om hulpbehoewendes te ondersteun met werksgeleenthede en soortgelyke aksies, sodat hierdie mense weer met selfvertroue kan opstaan en sodoende hul eie genoegdoening kan geniet.
Vir die Terugploeg inisiatief om selfstandig op die lang termyn lewensvatbaar te bly, is skenkings van weldoeners broodnodig. Ons boere is die land se voedselversekeraars en heelwat van hulle skenk reeds in tonnemaat. Opreg dankie!
Om te verseker dat Terugploeg wel na die volgende rat kan oorskakel, het ons jou hulp net so nodig. Skenk asseblief deur middel van Atterbury Trust se gemaklike e-Handel Donasiewinkel, want ons weet jy hou ook van hulp wat werk.
‘n Stralende Tatjana en Bianca ontvang hul Spansaam gelde
Tydens ‘n opwindende geleentheid by USN se hoofkantoor op 9 September 2021 is die gelde wat deur middel van Atterbury en USN se skarefinansieringsprojek Spansaam ingesamel is, aan ons Olimpiese medaljewenners Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag, asook hulle afrigters Rocco Meiring en Greg Emslie oorhandig. ‘n Totale bedrag van sowat R1 050 000 is deur middel van Spansaam ingesamel.
Suid-Afrika se nuutste Olimpiese wêreldrekordhouer swemsensasie, Tatjana Schoenmaker, het R400,000 ontvang vir haar goue medalje in die 200m borsslagitem vir vroue en R200,000 vir haar silwer medalje in die 100m borsslag. Bianca Buitendag het R200,000 ontvang vir die silwer medalje wat sy met haar branderplank in Tokio verower het.
Rocco Meiring, Tatjana se afrigter van die afgelope tien jaar, het R150,000 ontvang en Greg Emslie, Bianca se afrigter, R50,000. Die R50,000 surplus word aangewend om ’n sportbeurs aan ’n opkomende atleet toe te staan.
Baie geluk aan die wenners, hul afrigters en die organisasies, maatskappye en individue wat hul harte en sakke oopgemaak het om ons helde te beloon. Wys jou net wat moontlik is as ons almal saamspan.
Opbeurende Waardigheidsdag by Triomf Kliniek
Tydens ‘n gesellige, sonnige, vroeg-winter agtermiddig in die pragtige tuin van Triomf Kliniek is die eerste Waardigheidsdag op gepaste wyse gevier. Talle weldoeners, skenkers, vrywilliger-dokters, belangstellendes en mense uit die Pretoria-Wes omgewing het die geselligheid bygewoon om te hoor wat Triomf Kliniek doen en hoe gehelp kan word.
Oor meer as ses jaar verskaf Triomf Kliniek reeds uitnemende sorg met waardigheid. Die geleentheid se doelwit is om eerstens te wys hoe die hulpbehoewende gemeenskap van die area baat vind deur die gratis mediese diens wat verskaf word.
Tweedens is ‘n beroep gedoen om meer weldoeners te betrek by Triomf Kliniek se wonderlike werk van diens en arbeidsaamheid aan ons medemens. Aangesien al die dienste gratis aan behoeftige pasiënte verskaf word, is Triomf Kliniek totaal afhanklik van mense en instansies se skenkings en tyd.
Onder die vaandel van Atterbury Trust word Triomf Kliniek op professionele, verantwoordelike, verantwoordbare en deursigtige wyse bestuur, om só op die regte manier te help om mense wat dit nodig het, met waardigheid van mediese hulp te wees.
As jy wil help, kontak ons asseblief, want ons weet jy gee ook om.
jani@atterbury.co.za
Kos vir hart en siel
Terugploeg • Hulp wat werk
Tydens Terugploeg se onlangse kos-uitdeling is letterlik tonne vars vrugte, groente en vleis aan behoeftige mense verskaf. ’n Reuse totaal van amper 50 000 maaltye kon uit hierdie besending voorberei word.
Skenkers soos Mahela Boerdery, ZZ2, CPJ Erasmus & Seun Boerdery, Miami Canners en Armond Boshoff het met ope harte geskenk terwyl Fritskroon Transport en Vibro Bricks die groot hoeveelheid produkte vervoer het.
Die volgende organisasies het baat gevind: Wespoort, Kefilwe Thusano, Qumi Homes, Die Mossie Projek – Laerskool Anton van Wouw, Die Dam, Louis Botha Kinderhuis, NG Jan Niemandpark en Tygerpoort, SA Cares for Life en Huis Silversig, sowel as kinderhuise in Brakpan en Springs.
Behalwe vir die broodnodige voedsel, is hierdie slag ook nie-bederfbare kos
asook persoonlike higiëne produkte met welwillendheid geskenk en uitgedeel.
En dít, liewe vriende, is mos kos vir die siel.
Kuns, wyn, en welwillendheid
Die @EskortFood Liberi Atterbury Trust in welwillendheidsprojek het die naweek afgeskop by @SaronsbergCellar en 1 500 kissies van 6 bottels baie spesiale Pinotage 2017 Reserve is nou beskikbaar teen R1 180 per kissie, ten bate van #Terugploeg. Bestel by Donasiewinkel: https://atterburytrust.org/…/saronsberg-liber-pinotage…/
(Hou ook dié spasie dop vir die spesiale versamelaarskis geteken deur wynmaker Dewald Heyns en die kunstenaar agter die lieflike etikette, Claudette Schreuder.) #OnsGeeOM #HulpWatWerk
Terugploeg se hulp wat werk
Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met mediavennoot GrootFM 90.5 in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur verskeie kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon.
Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes.
Atterbury Vrouedag 2019
Ons droom van ‘n baie spesiale Vrouedagvriendskapoggend saam met @AtterburyTrust se vrouestudente en wyse, ervare vroue wat hulle kan mentor en betrokke raak in hulle lewens, word waar. Groot dankie aan die talentvolle @LizeBeekman, wat haar hart vir ons oopgemaak het en vir almal wat saam met ons gekuier het. Ons sê ook dankie aan Karina Bernard vir die pragtige blomme, Stephnie Stander vir jou organisasie en die heerlike “High tea” versnaperinge, die span by die @AtterburyTeater wat alles altyd laat werk en aan Isabel Carstens-Roos se Isa-span vir al die bederf en verrassings! #onsgeeom ?
Booysens Beertjies Mandeladag – yskoue roomys en warm harte!
Atterbury Trust het hul 67 minute vir #Madibadag by Booysens Beertjies kleuterskool spandeer en GROOTFM 90.5 het hul vergesel. Booysens is die area waar Atterbury Trust in samewerking met Solidariteit Helpende Hand besig is om ‘n Gemeenskapsentrum op die been te bring.
Daar is hamburgers gebraai, sappies uitgedeel, ‘n springkasteel het ure se vermaak besorg en ‘n pinata propvol lekkergoed het behoorlik gesorg dat glimlaggies heeldag bespeur kon word.