Om Vrouemaand af te sluit, het ons gesels met vier Atterbury Trust beurshouers – twee huidig en twee histories – oor hoe hulle die rol van vroue in die samelewing ervaar.
Kan jy jou eie Atterburystorie met ons deel?
Sanri Bezuidenhout: Ek sal nooit my onderhoud vergeet nie – ek was in matriek in Bredasdorp, ’n klein dorpie in die Overberg, en het vir Zahn ontmoet in ’n nuwe wit kantrokkie. Ek is vanaf my eerstejaar (2017) deel van die Atterburyfamilie. Ek is in my vyfde jaar medies aan die Universiteit van Stellenbosch, en swot op die Tygerberg-kampus by Tygerberg Hospitaal. Onlangs het ek my eie klein besigheid begin waar ek mense se huise en dierekinders oor naweke oppas.
Martinique Bosch: Ek is al vier jaar ’n Atterbury Trust-beurshouer en het begin met chemiese ingenieurswese, maar het intussen oorgeskuif na BSc Biochemie.
Le’Cinda Bezuidenhout: Ek is baie dankbaar om te kan sê dat ek ’n beurs by Atterbury Trust gekry het vir die jare 2018 en 2019, wat my in staat gestel het om my LLB graad te kry en om my loopbaan in die regsveld te volg.
Ninette van Graan: Atterbury Trust se beursprogram het my gedra deur drie jaar BSc in Bourekenkunde by die Universiteit van Pretoria, en toe ’n verdere twee jaar vir my honneurs – ek was van 2008 tot 2012 ’n beursstudent.
Vir julle wat nog swot, wat is jou plan wanneer jy gekwalifiseer is in jou beroep?
Sanri B: My grootste besluit-stryd op die oomblik is tussen plattelandse medisyne en interne geneeskunde. Ek is baie lief vir die platteland en sal graag aktief deel wil wees om minderbevoorregte gemeenskappe te laat groei, maar ek stel ook baie belang in interne geneeskunde, die spesialisveld van ’n internis. Ek het ook ’n passie vir noodmedisyne en die mediese reg (“medical law”). Ek glo as ek eers begin werk gaan dinge duideliker raak. Ek wil iemand wees wat verskeie dienste kan bied. So vir nou, is my droom om ’n noodeenheid in ’n medium-grootte staatshospital te bestuur, sowel as om etiese- en mediese-regsdienste vir plattelandse gebiede beskikbaar te maak.
Martinique B: Ek maak 2022 klaar met my graad in biochemie en wil dan my honneursgraad aanpak, hopelik deeltyds terwyl ek dan reeds ’n werk het.
En julle wat reeds afgestudeer is, waar bevind jy jouself vandag?
Le’Cinda B: Ek het my studies voltooi in BCom Regte en LLB en is tans besig met my finale jaar van klerkskap by ’n regsfirma in Pretoria. Ek het reeds twee raadseksamens voltooi en my finale eksamens is oor twee maande, Oktober 2021. Ek is in Februarie vanjaar getroud, so het nou ook daardie nuwe rol!
Ninette vG: Ek is geseënd met ’n wonderlike en ondersteunende man met wie ek al 11 jaar getroud is en twee pragtige dogters wat ons daagliks op ons tone hou met hulle unieke persoonlikhede en nuwe-era uitdagings. Ek het vir 13 jaar in die konstruksiebedryf gewerk en gevorder tot in ’n bestuurspos danksy harde werk en lang ure. As vrou is dit soms moeilik om ’n balans te vind omdat jy gedrewe voel om sukses te behaal in werk, ma-wees, vrouwees, menswees en op ’n geestlike vlak. Met Covid-19 het ek kans gekry om alles te evalueer en veranderinge te maak vir ’n beter balans. So het ek die groot verandering gemaak en uit die konstruksiebedryf beweeg en my eie aanlyn klerewinkel gestig, en kort daarna ook vir ’n finansiële maatskappy tussen oorwegend vroue begin werk. Binne die volgende drie jaar wil ek my MBA doen en my kennis nog meer uitbrei en met ander deel.
Hoe sien jy die rol van vroue in jou verkose veld – voel jy daar kan nog vordering wees in terme van gelyke geleenthede?
Sanri B: In die mediese veld sien ek dikwels vroue se spesiale vermoë om met empatie en insig ’n pasiënt te help genees van meer as net die presenterende siekte, sodat algehele genesing plaasvind. Vroue is ook so belangrik in spanverband – soos ’n ma die gom is wat ’n gesin bymekaarhou, kan ’n vrou in die praktyk mense bymekaarbring om goed saam te werk.
Hoewel daar al baie vordering gemaak met gelyke regte is daar altyd ruimte vir verbetering. Ek glo baie meer vroue kan leierskapsposisies inneem, en is passievol oor die toekoms van toegeruste vroue-leiers in die mediese beroep!
Martinique B: As mense praat van wetenskap, dink meeste aan Albert Einstein of Isaac Newton, en weet nie eers dat Marie Curie die eerste mens was om twee Nobelpryse te wen nie! Haar dogter het boonop in haar voetspore gevolg en ook ’n Nobelprys gewen. Dit wys net watter impak vroue op mekaar kan hê – ons motiveer mekaar om moed te hou en aan te hou. My plan is om in Desember vanjaar ’n internskap aan te pak en ek kan nie wag om te leer en sien met my eie oë nie! Ek voel daar is altyd plek vir verbetering in alles, maar om gelyk te wees en gelyk behandel te word is iets wat altyd eerste gestel moet word.
Le’Cinda B: Vroue se rol in die regsveld is uniek – ons kan sterk kan wees en ook sensitief, en dikwels makliker deel in ander se gevoelens… daardie “sesde sintuig” waarvan mense soms praat. Wat gelyke geleenthede vir vroue betref sal daar altyd plek wees vir verbetering, maar ek wil elke vrou aanmoedig om die unieke eienskappe waarmee sy geseënd is, tot haar voordeel te gebruik om die beste weergawe van haarself te word, en om haar beste te gee in alles wat sy doen om hierdie ongelykhede te oorkom.
Ninette vG: Vroue in die konstruksiebedryf het meestal baie sterk en direkte persoonlikhede. Ek sien dit nog altyd as ’n baie positiewe eienskap, omdat elke vrou se stem tel en gehoor moet word. Vroue kan baie bydra tot die ontwikkeling van ons land en die wêreld. Ons denke en benadering is effens anders as mans s’n, en saam kan ons besonderse professionele spanne maak en ongelooflike goed bereik. My ervaring in die boubedryf is dat daar besliste vordering is wat gelyke geleenthede betref, hoewel daar nog ’n aansienlike pad gestap moet word voor daar gelykheid in bestuur- en direkteursposisies in konstruksiefirmas sal wees. As vroue in enige beroepsveld moet ons ons kennis deel met mekaar en mekaar eerder opbou as afbreek. Saam is ons sterker en maak ons die toekoms vir ander vroue en ons dogters makliker. Ek voel nog altyd baie sterk hieroor en probeer dit uitleef.
Hoe sien jy jou rol in ons beursprogram en as vrou – watter stappe, klein of groot, neem jy, of wens jy jy kon neem, om deel van die oplossing te wees, en die speelveld gelyk te maak vir vroue?
Sanri B: Mens dink altyd drastiese stappe is nodig is vir gelykte regte en geleenthede. Drastiese verandering is altyd nodig in enige veld vir groei, maar die stappe kan klein wees. Ek glo ons moet in die samelewing algemene stappe begin neem; en elke vrou in haar eie beroep moet streef daarna om die volgende generasie vroue te help bevorder. Waar ek graag persoonlik sal wil betrokke wees in my beroep en in my lewe, is in inisiatiewe wat hulp gee aan borsvoedende ma’s; beter toegang tot sanitêre produkte vir alle tienermeisies sodat hulle nie skool mis omdat hulle menstrueer nie; behoorlike berading en geboortebeperkingdienste aan jong meisies; betroubare en deeglike dienste vir slagoffers van mishandeling; en leierskapsopleiding en -geleenthede vir jong meisies. Ek weet dit klink ook na groot stappe, maar dis bereikbaar, as mens klein begin.
Martinique B: Om as ’n vrou die steeds mansgedomineerde wetenskaplike wêreld te betree, is ’n uitdaging! Om ’n stem te hê en om gehoor te word is twee verskillende goed, maar ’n gehoorde stem verander die speelveld. Dit is nie altyd wat mens sê nie, maar hoe mens dit sê wat bepaal watter impak of voetspoor jy los.
Le’Cinda B: Om ’n Atterbury Trust alumna en vrou te wees is vir my ’n ongelooflike voorreg. Dis nie toeval dat ons ons bevind waar ons is nie, en as vrou moet ons elke kans gebruik om ander vroue in ons sirkel te ondersteun en aan te moedig. Dis so bevrydend om te deel in ander se geluk en oorwinnings en om nooit jou pad te vergelyk met ander nie. Ons as vroue het mekaar se ondersteuning, aanmoediging en liefde konstant nodig. Dis vir my belangrik om ’n verskil te probeer maak in my daaglikse lewe en om te fokus op die nou, en op die mense wat oor jou pad gestuur word. ’n Klomp klein verskille maak op die ou einde die groot verskil. Ek wil ’n konstante bydrae lewer in die lewe van vroue deur positiwiteit, motivering en bemagtiging, want ek glo vas dat die regte denkwyse en vasbeslotenheid ongelykhede sal oorwin.
Ninette B: As ’n alumna probeer ek altyd betrokke wees by Atterbury-projekte, en probeer huidige studente aanmoedig met my eie verhaal. Waarookal ek myself bevind, probeer ek my werkgewers bewus maak van projekte wat ons jeug kan help en bevorder, en ek probeer om jonger vroue in my werksomgewing te mentor.
Wat het die Atterburybeurs vir jou as jong vrou beteken – as jy dit nie gehad het nie, hoe sou dit jou studies geaffekteer het?
Sanri B: Ek kan nie uitdruk hoeveel Atterbury Trust al vir my beteken het met die geleentheid wat hulle vir my as jong, sproetgesig, aspirerende tienermeisie gegee het nie. Ek sal dit altyd probeer terugploeg in ons land en die jonger generasies. Sonder die hulp sou ek nie kon studeer nie. Ek onthou die angs wat ek en my gesin finansieël ervaar het, hoewel my ouers my altyd laat glo het dat geld geen beperking op jou drome mag plaas nie. Atterbury se hulp het dit vir my bevestig. Danksy die Atterbury Trust sal ek altyd hoop hê vir ’n gebreekte stelsel! If you can’t fix it, change your approach and get some help!
Martinique B: Atterbury Trust het my die kans gegee om my droom na te jaag. Hulle is ’n steunpilaar wat omgee en sonder hulle ondersteuning op verskeie gebiede in my lewe sou ek nie wees waar ek vandag is nie. Ek is bevoorreg om te kan studeer en dis ’n voorreg om deel van die Atterbury Trustfamilie te wees!
Le’Cinda B: My beurs het die deur oopgemaak vir my om die volgende stap in my toekoms te neem en om ’n droom te volg. Dit het hoop in my hart gekerf en my toegelaat om die vuur wat dit aangesteek het, te help versprei. Nie net het dit my laat glo in hoop en in ’n toekoms vir vroue nie, maar het my ook vertroue in my vermoëns as vrou gegee.
Ninette B: Die beurs het vir my gemoedsrus gegee op finansiële vlak en my gemotiveer op emosionele en intellektuele vlak. Die feit dat ’n groep vroue tydens ’n emosionele onderhoud in my matriekjaar my potensiaal kon raaksien en geglo het dat ek waardig genoeg was vir die Atterbury Trust studiebeurs het my spesiaal laat voel en gemotiveer om myself te verbeter. Ek het “grootgeword” by Atterbury en soveel geleer en beleef van wat ’n sterk vrou is. Ek het gesien dis moontlik is om ’n suksesvolle sakevrou te wees met ’n balans tussen werk, vrouwees, ma-wees, vriendin-wees en mentor vir ander. Ek het beleef hoe die Trustspan uit hulle pad sal gaan om mekaar en ander op te bou, te help en te ondersteun. Ek sal altyd streef daarna om dit te kan oordra aan ander jong vroue.
Met jou hulp kan ons nog positiewe, talentvolle, gedrewe jong Suid-Afrikaners se studiedrome help befonds sodat hulle die beste weergawe van hulself kan word. Elke donasie kry ‘n 18A sertifikaat vir belastingdoeleindes. Klik hier om meer uit te vind.