Vir byna drie dekades help die Atterbury Trust, met die ondersteuning van onafhanklike donateurs, om jong mense oor Suid-Afrika die geleentheid te gee om te kan studeer.
Sedert 1999 is meer as 1 000 Afrikaanse studente uit uiteenlopende gemeenskappe bemagtig om verder te studeer — jong mense met potensiaal, maar sonder die finansiële middele om hul studies self te befonds.
Hierdie mylpaal verteenwoordig nie net ’n indrukwekkende getal nie, maar ook byna drie dekades se belegging in die toekoms van jong mense en hul gemeenskappe.
Volgens Armond Boshoff, trustee van Atterbury Trust en hoof- uitvoerende beampte van Atterbury Property, is die bereiking van hierdie mylpaal ’n betekenisvolle oomblik.
“As trustee beteken die bereiking van die 1 000-student-mylpaal vir my ’n diep gevoel van trots, doelgerigtheid en verantwoordelikheid. Dit wys dat die Atterbury Trust nie net ’n visie het nie, maar dat daardie visie werklik gestalte kry in mense se lewens.
“Elke student verteenwoordig ’n verhaal van geleentheid, groei en hoop – en om te weet dat ons ’n rol speel in daardie reis, is ongelooflik betekenisvol.”
’n Belegging wat bly voortleef
Die Trust volg ’n streng keuringsproses om te verseker dat studente ook die wil en vermoë het om hul studies suksesvol te voltooi, ondanks die finansiële behoeftigheid.
Studiekoste — insluitend klasgelde, registrasie en handboeke — word deur middel van ’n rentevrye leninggedek. Terugbetaling geskied eers wanneer die student werk kry. Die terugbetaalde fondse word dan weer aangewend om nuwe studente te ondersteun.
Hierdie model maak dit moontlik dat een student se sukses uiteindelik weer ’n ander student se geleentheid word.
Meer as net finansiële ondersteuning
Die Atterbury Trust se ondersteuning strek egter verder as finansiering alleen. Mentorskap en gemeenskapsbou vorm ’n kerndeel van die organisasie se benadering.
Studente kry toegang tot netwerkgeleenthede, werksblootstelling en ander inisiatiewe wat hulle help om praktiese ervaring op te bou en ’n inkomste te genereer terwyl hulle studeer.
’n Lewensafrigter stap ook die pad saam met studente om persoonlike ontwikkeling te ondersteun en ’n positiewe, gebalanseerde uitkyk op hul toekoms te vestig.
’n Vennootskap met die gemeenskap
Volgens Boshoff wys die Trust se mylpaal ook op die belangrikheid van samewerking tussen organisasies, donateurs en gemeenskappe.
“Vir die gemeenskap wys hierdie mylpaal dat die Atterbury Trust ’n betroubare en volhoubare vennoot is wat werklik ’n verskil maak. Ons ondersteun nie net individue nie, maar help ook om ’n sterker, meer vaardige en meer veerkragtige gemeenskap te bou.”
Hy beklemtoon verder dat die Trust se werk nie moontlik sou wees sonder die volgehoue ondersteuning van donateurs nie.
“Donateurs is die stil vennote wat die fondament lê waarop hierdie sukses gebou is. Hul volgehoue betrokkenheid maak dit moontlik om steeds meer studente te bereik en nuwe geleenthede te skep.”
Die impak in studente se eie woorde
Die ware waarde van die Trust se werk word egter die beste deur oud-studente self verwoord.
Vir Boshoff simboliseer die 1 000-student-mylpaal uiteindelik iets veel groter as net ’n getal.
“Dit is ’n simbool van die Atterbury Trust se rol as katalisator vir verandering en draer van hoop. Dit gee jong mense ’n kans op sukses wat hulle andersins nie sou gehad het nie.”