Pasiënte by Triomf Kliniek het dié maand nie net ’n nuwe gesig leer ken nie – dié van verpleegsuster Hanneke Vallentgoed – maar betree ook ’n nuwe hoofstuk in die kliniek se verhaal. Met die hervestiging na Oaktreelaan 41 in Hazelwood breek daar ’n nuwe seisoen vir Triomf aan.
In 2025 hervestig Triomf Kliniek na ’n splinternuwe fasiliteit in Hazelwood. Die nuwe ruimte bied verhoogde kapasiteit, verbeterde infrastruktuur en ’n meer funksionele uitleg vir konsultasies, behandeling en gemeenskapsbetrokkenheid.
Vir die afgelope 12 jaar lewer Triomf Kliniek kwaliteit gesondheidsorg met waardigheid aan behoeftige pasiënte. Tot op hede is 9 633 pasiënte gehelp, met die ondersteuning van 18 aktiewe medici wat tans hul tyd en kundigheid beskikbaar stel.
Die kliniek bied primêre gesondheidsorg, ’n oogkliniek met basiese oogtoetse en brille, tandheelkundige sorg, asook spesialisdienste soos vroueklinieke, dermatologie en ortopedie.
Triomf Kliniek is meer as ’n gesondheidsfasiliteit – dit is ’n gemeenskap van mense wat glo dat toeganklike, waardige sorg lewens verander.
Suster Hanneke, vertel ons bietjie meer van jou loopbaanpad tot dusver. Wanneer het jy by Triomf begin, en hoe gereeld is jy daar aan diens?
Ek wou van kleins af ’n verpleegster word, en in 1988 het ek met my opleiding by die S.G. Lourens Verpleegkollege begin. Nadat ek gekwalifiseer het, het ek by die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal in ortopedie begin werk. Ek was vir sewe jaar daar die suster met oorsig oor buite-pasiënte. In 2007 het ek in privaatpraktyk begin werk by ’n dokter se spreekkamer, waar ek letterlik alles gedoen het, van ontvangs en pasiënte-voorligting tot wondsorg en die bestuur van teater en teaterlyste, skakeling met mediese fondse en meer.
Ek het op 16 Februarie by Triomf begin werk, en is nou weeksdae vanaf 7:00-15:00 hier aan diens.
Ek sal altyd ’n hart hê vir mense, en hier gaan ek voort met dít wat ek al oor baie jare doen: om te probeer ’n verskil maak. Ek wil ook uitleef waarin ek nog altyd baie vas geglo het, en dit is Mattheus 6:3-4: “Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees, en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”
Wat dink jy van die fasiliteite by die kliniek se splinternuwe tuiste?
Ek is seker ons gaan dit in ’n oase omskep waar ons baie waarde tot die gemeenskap kan toevoeg, en ’n tasbare verskil in baie pasiënte se lewens sal maak.
Wat was sover die besigste en uitdagendste dag by die kliniek sedert jy begin het, en hoe het dit afgeloop?
Dis nog vroeg in die jaar, so ek dink die besige tye lê nog voor, maar ek was reeds op 9 Februarie by die eerste ortopedie-kliniek wat Operation Healing Hands by Triomf aangebied het saam met Dr Helene Basson, en daar was omtrent 28 pasiënte. En nadat ek hier ingeval het, was daar ’n kliniek met Dr Herbst; toe het ons 12 pasiënte gesien het. My grootste uitdaging in hierdie vroeë stadium is dat ek nog nie alles uitgesorteer kry voor die dokter arriveer nie, maar ek sal daar kom!
Triomf is anders omdat pasiënte nie hoef te betaal vir die behandeling nie. Kan jy positiewe terugvoering deel wat jy van ’n pasiënt gekry het?
Ek het redelike wye kennis oor alledaagse probleme wat ek met pasiënte kan deel, en reeds met die kliniekdag op 17 Februarie het ’n pasiënt waardering uitgespreek oor hoe die voorligting vir hom ’n verskil gaan maak.
Wat reken jy is die grootste behoefte onder pasiënte wat die kliniek besoek?
Ek sal mettertyd sien wat die mense die nodigste het, maar ek het reeds agtergekom dat daar heelwat opvoedingswerk nodig is. Ek reken ons gaan pasiënte moet help met voorligting oor hul daaglikse voorsiening, soos om ’n groetetuin by die huis te begin en in stand te hou. Nie net sal dit wanvoedingsprobleme oplos nie, maar tuinwerk is so ’n positiewe manier om besig te bly, want met werkloosheid sien mens te dikwels hoe ledigheid die duiwel se oorkussing is!
Hoekom dink jy is dit aanloklik vir mediese personeel van alle dissiplines om by Triomf Kliniek betrokke te raak, en hoekom is dit belangrik?
Dit is bevredigende werk vir iemand met ’n hart wat graag van hul tyd gee, en ’n verskil in die samelewing wil maak. Ek glo daar is heelwat mediese personeel wat daardie eienskappe het, en al is dit nie vir almal nie, gee ek nie maklik op met die mensdom nie! Ek sal aanhou vra onder dié wat ek ken, en hopelik sal die getalle nog verder groei!
Wie is Hanneke as sy by die huis is? Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek het op ’n plaas grootgeword, en wou nog my hele lewe lank verpleeg. Ek is enkellopend en het ‘n dogter, Yoné en twee eie kleindogters, Dianè en Monè, asook drie ander wat ek help grootmaak. Die kleinkinders wens baie hard dat daar iemand op my pad kom wat ’n plasie het sodat hulle naweke kan plaas toe kom! Ek kook graag en kan enigiets inlê vir latere gebruik. Ek is ook ’n kranige 4×4 bestuurder en as die geld en tyd toelaat reis ek graag ons mooi land deur.
’n Uitnodiging om betrokke te raak
Terwyl Triomf reeds ’n betekenisvolle impak maak, bly die behoefte groot. Die kliniek nooi gesondheidsorgpersoneel uit om saam ’n verskil te maak in die lewens van mense wat andersins beperkte toegang tot sorg sou hê. Indien jy betrokke wil raak, kontak ons Triomf-span per e-pos by info@triomf.org.za.