Skip to content
Menu
Menu

Van hardekole wat brand tot Halala Afrika, is ons meegesleur op trappe na die hemel

Versnit 2026 herinner ons waarom omgee ’n werkwoord is

Die ritseling van ’n ligte aandwind oor die voet van die Helderberg was nie die oorsaak van ons koue rillings nie. Eerder die magiese, meesleurende ervaring van ons land se merkwaardige vermaak-talent uitgestal oor die groen grasperk van Rust en Vrede tussen krismisrose van liefde. ’n Aand van genoegdoening en vrede. Van die wete dat wanneer ons wat baie het saamspan om dié wat minder het te help, omgee ’n werkwoord word.

Versnit, wat in 2012 deur hegte vriende Jean Engelbrecht en Louis van der Watt geskep is as motivering vir omgee-weldoeners om Atterbury Trust se fondse van verandering te hupstoot, het gegroei tot ’n toonbeeld van talent. Elvis Blue wat Mac The Knife uitbasuin soos min hom kan nadoen. Corlea met ‘n respekvolle, energieke interpretasie van Stairway to Heaven. Halala Afrika stylvol vermeng met When the Saints Go Marching In deur Roan Ash en Margaret Motsage. Hey Jude, as hoogtepunt van die aand deur almal saamgesing.

Van die rowwe eerbetoon aan Leon Schuster en sy Chuck Berry-geïnspireerde liedjie Swem Jannie Swem en ander sulke gunstelinge tot die volmaakte uitvoering van Don McLean se Vincent deur Corlea en Beloofde Land deur Elvis Blue. Só ‘n wye reeks style, genres, tempo, instrumentasie en lekkerkry is waarlik uniek aan die Versnit-ervaring.

Hierdie jaarlikse tradisie van die vermenging van musiek-wyn-en-vriende het reeds baie miljoene rande vir behoeftige studente se studies en talle ander omgee-projekte ingesamel.

Om te “versnit” is om te gee

Daar is iets besonder gepas daaraan dat Versnit op ’n wynplaas gestalte kry. ’n Versnit in wyn beteken ’n noukeurige mengsel, iets wat deur kundigheid en geduld ’n nuwe smaak skep. Versnit doen dieselfde met mense, stemme, genres en herinneringe. Met die jare het daar selfs ’n nuwe betekenis ontstaan: Om te versnit het ’n manier geword om te sê ons kies om om te gee, met opset, met oop hande en met oop harte.

En hierdie omgee is nie net woorde nie. Atterbury Trust se hulp wat werk strek wyd, oor studente en opvoeding heen, sorg met waardigheid, algemene hulpverlening, voedsel-ondersteuning vir nood en die bevordering van Afrikaanse kuns en kultuur. Hierdie is nie los projekte nie. Dit is ’n netwerk van hoop wat net so sterk is soos die mense wat saamstaan en omgee.

’n Program wat jou deur jou hele lewe kan neem

Van die eerste note af was dit duidelik: Versnit 2026 se repertoire is saamgestel met ’n fyn oor vir kontras. Musiekmeester Matthys Maree en sy span het weer ’n musikale meesterstuk geskep. Die eerste helfte is kragtig met Stef Bos se Lied Van Ruth – My Land Is Jou Land geopen, voordat Ricus Nel met Hardekole die grasperk aan die brand wou steek.

‘n Paar liedjies later kom Ruhan du Toit in met met ’n Afrikaanse vermenging wat soos ’n hartklop deur die aand pols: Bloed, Hillbrow en Kinders van die Wind. Liedere wat nie net gesing word nie, maar onthou word omdat dit iets van ons almal se gees, tyd en ons verandering verteenwoordig.

Die Versnit-toekenning: Nederland kom Afrikaans vashou

Die tweede helfte het met ’n noemenswaardige oomblik begin. Vanjaar se Versnit-toekenning is aan die legendariese Nederlandse kunstenaar Herman van Veen oorhandig vir sy alombekende bydrae tot die Afrikaanse taal en uitvoerende kunste. Dat hy self by Versnit 2026 op die verhoog kon staan, het aan die aand ’n ekstra betekenis gegee. ’n Kulturele handevat wat nie elke dag gebeur nie.

Daar was iets ontroerend aan daardie oomblik toe ’n buitelandse stem nie as buitestander sou klink nie, maar as iemand wat verstaan. Van Veen se sang was ’n soort rustige middelpunt. Nie ’n skouspel vir die oog nie, maar ’n eerlike, opregte gesprek uit en met die hart, soos wanneer ’n mens in ’n stil kamer sit en iemand se storie hoor en besef menslikheid is groter as grense. Compère Johan Badenhorst, ’n Versnit-getroue van die heel eerste aand af, het die oomblik met sy kenmerkende warmte onderskraag.

Waarheen die musiek lei

Dis maklik om by Versnit te praat oor die vriende, kunstenaars, oor die wyn, oor die mooi. Dit is alles waar en dit is deel van dié magiese mengsel. Maar onderliggend aan die wêreldklasprogram lê die eintlike rede hoekom die aand bestaan: Om vir ander ’n kans te skep wat hulle nie vanselfsprekend sou hê nie.

Atterbury Trust se beurslenings, mentorskap en ondersteuning het reeds honderde jong uitblinkers gehelp om verder te studeer. Hierdie soort werk gebeur nie as gevolg van goeie bedoelings alleen nie. Dit gebeur omdat mense kies om te gee. Na die laaste noot gespeel is, die finale strofe gesing is, is dít die verhaal van Versnit. Vir mense met harte van goud is dit hul geleentheid om hand in die sak te steek en te help. Dié mense is ons Vriende van Versnit, want hulle gee om.

‘n Spesiale dankie aan Jean Engelbrecht en sy uitmuntende span by Rust en Vrede. Sonder julle kan Versnit nie plaasvind nie. Ons eer julle. Aan die getroue Versnit-borg Lexus en Toyota Suid-Afrika, ons bedank julle uit die diepte van ons hart. Dit is handelsname en maatskappye soos julle wat omgee en daarom werklik ’n verkil in ons land maak.

Ons gee om en ons weet jy ook

As jy ook deel wil wees van iets groter, van ’n welwillendheidsaak van hulp wat werk, dra by in die gees van Versnit. Besoek ons Donasiewinkel, kies Versnit en skenk die bedrag wat vir jou sin maak.

Want ons weet jy gee ook om.

Versnit 2026: Waar omgee musiek word Facebook album