Skip to content
Menu
Menu

’n Skoolhoof met visie en hart

Juli Maritz is die hoof van Laerskool Generaal Nicolaas Smit, een van die skole onder die ondersteunende vlerk van Atterbury Trust. Sy vertel ons hoe haar agtergrond haar gelei het tot hierdie belangrike rol, waarin sy elke dag met vreugde aanpak.

Goeie matriekuitslae begin nie in graad 12 nie; dit begin met die regte en vroeë ondersteuning.. Wat is jou siening hieroor, en hoe pas jy dit toe in jou rol as skoolhoof?

Ek glo vas dat ’n leerder se akademiese sukses reeds in die grondslagfase begin. By Laerskool Generaal Nicolaas Smit fokus ons sterk op basiese vaardighede soos leesbegrip, taalontwikkeling en getalbegrip. Deur konsekwente ondersteuning, vroeë identifisering van leerhindernisse en noue samewerking tussen onderwysers en ouers, bou ons ’n stewige fondament waarop leerders later kan voortbou.
As skoolhoof sien ek dit as my verantwoordelikheid om ’n kultuur van sorg, hoë verwagtinge en volgehoue ondersteuning te vestig.

Hoe het jou beroepspaadjie jou gelei tot by juis dié skool en hoe lank is jy nou al daar?

Ek was self ’n leerder aan Laerskool Generaal Nicolaas Smit, en my eie grondslag is hier gelê. Ek was hoofmeisie van die skool, en dit is vir my besonders spesiaal om vandag steeds deel te wees van hierdie gemeenskap.

My onderwysloopbaan het my blootgestel aan verskeie rolle binne die skoolomgewing, wat my ’n breë perspektief gegee het op die behoeftes van leerders, onderwysers en ouers. My oorspronklike plan was om slegs vir een kwartaal in ’n aflospos te help, maar Jesus het ’n ander plan met my lewe gehad.

Ek het by Generaal Nicolaas Smit begin as ’n P1-juffrou en elke geleentheid aangegryp om te groei. Ek is reeds ’n geruime tyd hier betrokke, en dit is vir my ’n groot voorreg om deel te wees van die skool se groei en ontwikkeling. Ek voel werklik geseënd.

Vertel ons hoe jy Atterbury Trust se betrokkenheid by die skool ervaar – enige hoogtepunte wat jy wil uitlig?

Atterbury Trust se bydrae is van onskatbare waarde. Hulle ondersteuning strek veel verder as net hulpbronne – dit bring hoop, strukture en volhoubare ontwikkeling. Wat vir my uitstaan is die span se opregte betrokkenheid by ons leerders se leerervaring en welstand, asook hul langtermynvisie vir skole soos ons s’n.

Ons het verskeie studente wat tans onderwys studeer met ondersteuning van Atterbury Trust en wat reeds groot sukses in hul studies en loopbane toon. Verder wil ek ook verwys na die Triomf Kliniek, waar onderwysers weer hul tande kon laat herstel en sodoende hul menswaardigheid en selfvertroue teruggekry het. Daar is geen geld wat selfvertroue en menswaardigheid kan koop nie.

Deur Terugploeg-projekte word ons ook in staat gestel om kospakkies aan ons gemeenskap en leerders te voorsien – ’n ware seën.

Hoe pas julle Atterbury Trust se Leersaam-projek by Generaal Nicolaas Smit toe, en wat glo jy is die voordele daarvan?

Die Leersaam-projek word doelgerig geïntegreer in ons daaglikse onderrigpraktyke. Dit ondersteun onderwysers met waardevolle hulpmiddels en strategieë om leer meer effektief en betekenisvol te maak.

Ons leerders se sosio-ekonomiese omstandighede maak hierdie program broodnodig en van onskatbare waarde. Die een-tot-een-benadering, waar leerders ekstra ondersteuning ontvang, maak ’n tasbare verskil – iets wat ons as onderwysers daagliks sien. Leerders ontwikkel meer selfvertroue, raak aktief betrokke by hul leer en is beter voorbereid vir die hoërskool.

Wat is die spesifieke uitdagings by jou skool, en hoe spreek jy dit aan as skoolhoof?

Soos baie skole staan ons voor uitdagings soos uiteenlopende leerbehoeftes, sosio-ekonomiese faktore en beperkte hulpbronne. Ek glo egter dat oop kommunikasie, spanwerk en strategiese beplanning die sleutel is.

Deur saam met my personeel, ouers en eksterne vennote te werk, soek ons voortdurend oplossings in die beste belang van ons leerders. Ons het onder andere ’n Affie-kombuis waar ongeveer 600 leerders daagliks ’n bord kos ontvang. Die skool voorsien ook kos aan vyf ander skole in die gemeenskap en ondersteun maandelikse voedselprojekte.

Partytjies vir behoeftige kinders lê my besonders na aan die hart. By Generaal Nicolaas Smit glo ons ons is Jesus se hande en voete.

Wat is jou droom vir die skool en die kinders wat graad 7 by julle voltooi?

My droom is dat Generaal Nicolaas Smit altyd ’n baken van hoop in ons gemeenskap sal wees, en dat Jesus se werk hier voortdurend sal voortgaan. Mag ons altyd bereid wees om die pad oor te steek na waar daar ’n behoefte is.

Ek wens dat elke leerder wat graad 7 by ons voltooi, nie net akademies gereed sal wees nie, maar ook emosioneel sterk, selfstandig en waardegedrewe. Ek wil hê hulle moet die skool verlaat met selfvertroue, respek vir ander en die moed om hul volle potensiaal te bereik. Wie weet – dalk kom die volgende staatspresident van ons skool af. By ons leef ons die beginsel: “Everybody is a somebody.”

Om af te sluit, vertel ons iets meer oor jouself – wie is Juli by die huis?

Buite die skool is ek ’n gesinsmens wat groot waarde heg aan balans en gehaltetyd. Ek is getroud met Anthony Maritz en ons het vier pragtige dogtertjies van sewe, ses en ’n vyfjarige tweeling. Hulle is ’n ongelooflike seën in ons lewe.

Ons gesinslewe is beslis bedrywig, maar ek geniet dit vreeslik om ’n mamma te wees en ’n vrou vir my man, wat my onvoorwaardelik ondersteun. Ons doen graag alles saam as gesin en waardeer mekaar opreg.

Hierdie balans help my om elke dag met vars energie en ’n oop hart my rol as skoolhoof aan te pak. Dit is genade dat ons elke oggend ons oë kan oopmaak. Dit is ’n seën om by ’n skool soos Generaal Nicolaas Smit te wees. Dit is vir my ’n groot voorreg om deel van hierdie span te wees.

Atterbury Trust se werksaamhede by skole soos Laerskool Generaal Nicolaas Smit word moontlik gemaak deur die groothartige skenkers wat die Trust elke jaar ondersteun. Jy kan saam met ons ’n verskil maak:  https://atterburytrust.org/donasiewinkel/