Die Atterbury Trust Acappella-kompetisie het vanjaar sy derde jaar gevier – met rekorddeelname, uitverkoopte vertonings en ongelooflike talent wat die Fairtree Atterbury Teater se verhoog laat dreun het. Ons hoor meer by Danelle Strydom, Atterbury Trust projekte- en bemarkingskoördineerder.
Hoe het Atterbury Trust Acappella ontwikkel sedert die eerste keer dat dit aangebied is? Dit is nou die derde jaar onder die vaandel van die Atterbury Trust, reg?
Dis reg. In die eerste jaar het slegs vyf groepe meegeding. Teen 2024 het dié getal gegroei tot 15 inskrywings, waarvan nege die finaal gehaal het.
Vanjaar het die kompetisie egter nuwe hoogtes bereik met 31 groepe wat ingeskryf het en waaruit ons tien finaliste kon kies. Die kompetisie was groter, beter en sterker as ooit tevore. Atterbury Trust Acappella is nou ’n gevestigde jaarlikse hoogtepunt op die kultuurkalender vir die studente.
Die groepe oefen so hard deur die jaar, dat dit wonderlik is om hul acappella-seisoen met hierdie kompetisie op ’n hoogtepunt te laat eindig.
Hoe werk die inskrywings – wat word van die studentegroepe verwag?
Atterbury Trust nooi jaarliks studente-acappella groepe uit om in te skryf. Dit het alles begin nadat Altus Bisshoff, een van ons beursalumni en self ’n liefhebber van sêr, ons genader het om te hoor of Atterbury Trust nie kon help om weer ‘n platform te skep vir studente acappella of sêr-groepe om nasionaal teen mekaar mee te ding nie. Dit nadat nasionale mededinging tussen universiteite weens hoofsaaklik politieke redes nie meer kon plaasvind nie en dat Afrikaans geen meer plek gehad het in die kompetisie nie. Een van die vereistes wat derhalwe in ooreenstemming met die mandaat van die Atterbury Trust gestel is, is dat elke sêrgroep se repertoire ‘n Afrikaanse verwerking, waarvoor daar ook ‘n spesiale kategorie is, moet insluit.
Die meeste van hierdie groepe spandeer reeds ure aan hul interne koshuis- of universiteitskompetisies, en die Trust het na oorweging ingestem dat ‘n nasionale platform belangrik is om hierdie groepe die kans te gee om hul talent met ’n breër gehoor te kan deel terwyl hul teen mekaar meeding. Só bevorder ons kultuur sowel as Afrikaans en verhoog ook die bewustheid van studiebeurshulp aan behoeftige studente.
Die groepe skryf in met ’n video-opname van een van hul verwerkings. Die inskrywings word slegs beoordeel op musikaliteit, aangesien die groepe op daardie stadium nog nie noodwendig heeltemal gereed is met hul optredes nie.
Wie was die beoordelaars, en waarvoor het hulle uitgekyk?
Die 2025-paneel het bestaan uit Revan Luus, Altus Bisshoff (Atterbury Trust beurs-alumnus), Francois Botha van GrootFM 90.5, Lushano Steenkamp en Marieke Buys, almal met sterk musikale of acappella-agtergronde.
Die groepe word hoofsaaklik beoordeel op musikaliteit en vermaakwaarde, met musikaliteit wat die grootste gewig dra. Ons wil hê die groepe moet weet dat hulle beoordeel word op hul eindproduk en dat die speelveld vir almal gelyk is. Vanjaar is daar ook oorgeskakel na ’n nuwe elektroniese beoordelingsstelsel, wat die proses merkbaar eenvoudiger en deursigtiger gemaak het.
Wat is dit wat die wenners na die verhoog toe gebring het wat hulle die eerste prys laat wen het?
Die terugvoer van die beoordelaars was dat Sonop die verhoog met selfvertroue oorgeneem het en hulle eie gemaak het; hulle verhoogteenwoordigheid was intens en tasbaar. Die choreografie is foutloos uitgevoer, en hul verwerkings het jou op ’n reis geneem. Buiten hulle sterk klank, was hulle ook baie vaardig met die beheer van die klank, van sag en gevoelvol, tot dinamies met groter volume.
Was daar enige besondere sangstuk/optrede wat uitgestaan het omdat dit besonder uniek was?
Die standaard vanjaar was uitsonderlik hoog, en die beoordelaars se taak was beslis nie maklik nie.
Wat die kompetisie veral lekker gemaak het, was die balans tussen musikaliteit, vermaak en die manier waarop groepe hul temas kreatief uitgebeeld het. Elke optrede het sy eie styl en energie na die verhoog gebring. Kostuums was pragtig en choreografie professioneel en die volgepakte Atterbury Teater-gehoor het hulle genoegdoening deurgaans hoorbaar gemaak!
Hoeveel aftrek het vanjaar se kompetisie by die publiek gekry, en wat was die reaksie van die gehore met die twee optredes?
Die belangstelling van die publiek het alle verwagtinge oortref. Die kaartjies vir die gala-aand was binne ’n dag uitverkoop, sodat die organiseerders besluit het om ’n tweede vertoning by te voeg. Ook dié middagvertoning was feitlik uitverkoop.
Die gehoor het selfs ’n kans gekry om deel te neem deur vir hul gehoorgunsteling te stem, wat ’n ekstra bietjie gees en gehoorbetrokkenheid aan die kompetisie toegevoeg het.
Jy het genoem wie die algehele wenners was; hoe het die finale telling gelyk?
Die aand se groot wenners was:
- Sonop manskoshuis, Universiteit van Pretoria: Algehele Wenners & Gehoorgunsteling
- Madelief Dameskoshuis, Universiteit van Pretoria: Tweede Plek & Beste Afrikaanse Verwerking
- Veritas Manskoshuis, Noordwes-Universiteit: Derde Plek.



















































