Skip to content
Menu
Menu

’n Taal wat bloei, en blom, in boekvorm!

Met die viering van Afrikaans se 100ste jaar het die Fairtree Atterbury Teater onlangs die bekendstelling aangebied van ’n besonderse koffietafelboek wat op eiesoortige manier hulde bring aan ons moedertaal. Atterbury Trust, saam met Bloudruk media, Pallidus, Fledge en Remgro was die hoofborge van hierdie ambisieuse projek. Bloei + Blom se uitgewer, Ingeborg Pelser, vertel meer oor hierdie pragtige boek.

Waar het die idee vir Bloei + Blom vandaan gekom? 

Matthys Maree van Bloudruk Media en Nataniël wou iets indrukwekkend, inspirerend, inklusief en positief doen (verwyderd van enige politiek), in die jaar wat Afrikaans 100 jaar oud word. 

Hoekom het jy besluit om betrokke te raak as uitgewer? 

’n Boek soos hierdie is ’n geweldige uitdaging. Nie net om die proses te bestuur om by ’n finale lys uit te kom van wie ingesluit gaan word nie, maar ook om skrywers te vind, en veral foto’s van mense wat meer as 100 jaar terug hulle merk gemaak het. Daar is nog nooit so ’n boek in Afrikaans uitgegee nie, so ek wou baie graag deel wees van so ’n boek en proses. Dit was ook baie opwindend om nie net te gaan soek na legendes en beroemdes waarvan almal weet nie, maar veral na mense wat onder die radar is en wat plaaslik en internasionaal wondere vermag, of dit deur kuns, kos, mode of sake is. 

Wat was die stappe om dit van ’n idee te laat ontwikkel tot die pragtige koffietafelboek wat die eindresultaat is?  Hoe lank was dit in wording en wie was almal betrokke by die proses? 

Ons eerste ontmoeting was in September 2024 waar ons probeer het om die kriteria saam te stel van wie in die boek behoort te wees. Oorspronklik sou ons 100 mense insluit, uit alle era’s en velde, maar dit het vinnig gegroei na meer as 200 mense. En glo my, ons kon maklik nóg soveel ingesluit het, want sodra mens begin krap, vind jy net meer en meer mense waarvan baie nie weet nie, wat soveel vermag het, grense verskuif het of iets eerste gedoen het. 

Die publiek het ook vir drie maande gestem vir die legendes en uitskieters wat hulle in so ’n boek sou wou sien. Saam met al daardie stemme, het ek met verskeie redakteurs en joernaliste gepraat wat ’n goeie oorsig het oor die laaste 100 jaar. Toe ons ’n rowwe lys het, het ek,  Nataniël en Elmari Rautenbach begin om skrywers te soek vir elke profiel wat iets sal kan vasvang van die uniekheid en gees van elke mens. Dikwels het bekendes of familie oor legendes geskryf, wat soveel wonderlike anekdotes opgelewer het. 

Die volgende stap was om goeie foto’s te kry, wat geweldig uitdagend was. In baie gevalle was daar eenvoudig nie foto’s van veral ouer mense nie, of die kwaliteit was nie goed genoeg om in so ’n groot koffietafelboek te gebruik nie. Ek wou ook nie foto’s plaas wat al deur baie gesien is nie, so ek het foto’s van reg oor die wêreld gewerf en aangekoop, van  Vogue in New York tot by die Royal Ballet in Engeland. 

Hierna het uitleg begin. Nataniël wou nie ’n kronologiese boek hê nie, maar ’n boek waar mense van verskillende era’s en dissiplines op ’n interessante en organiese manier op mekaar volg. Daar moes ook besluit word op die papier, die omslag en soveel meer, om op die ou end ’n gesogte eindproduk te hê wat mense vir jare gaan wil bewaar.  

Image-1

Hoe sal jy die boek opsom vir iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie? Waarna kan mense uitsien as hulle die boek lees? 

Bloei + Blom; ’n Viering van Afrikaans, bevat die stories van meer as 200 Afrikaanse baanbrekers en mavericks van die afgelope eeu – mense wat onopsigtelik, of skouspelagtig en ten aanskoue van die ganse wêreld grense verskuif het. Onder diegene tel uitvinders en entrepreneurs, skrywers en kunstenaars, sjefs, tuiniers, argitekte, wynmakers, botaniste en boere, modeontwerpers en operasangers, filosowe, opvoeders, medici en akteurs en nog vele, vele meer, geskryf deur meer as 70 joernaliste, bekende én onbekende skrywers, familielede, oudstudente of vriende. Die boek sluit meer as 250 foto’s in en is ’n prag koffietafelboek. 

Hoe het die bekendstellings by Atterbury Teater daar uitgesien, en kan jy ’n hoogtepunt daarvan met ons deel? 

Nataniël het die twee wonderlike funksies gereël en dit soos ’n konsert aangebied. Daar was verskillende mense vanuit die boek wat op die verhoog gepraat het oor hulle lewens en bewonderde loopbane, onder andere die wonderlike akteur Tobie Cronjé, die visioenêre argitek Peter Matthews, die internasionaal beroemde beeldhouer Angus Taylor, Suid-Afrika se jongste Steinway pianis Charl du Plessis en nog meer! 

Kan jy ’n gunsteling uittreksel uit die boek met ons deel? 

Dit is moeilik om te kies want daar is soveel profiele wat mens hardop laat lag of hoendervleis gee. My persoonlike gunstelinge is Kobus van der Merwe se teks oor die koskenner en skrywer Louis Leipoldt; Deborah Steinmair se profiel oor die skrywer Jeanne Goossen, Elsabé Brits se profiel oor die eerste vroulike mediese dokter, Petronella van Heerden en Pieter Dirk-Uys se profiel oor Evita. 

Waar is die boek te koop, en vir hoeveel? 

Die boek is te koop by alle Bargain Books, Exclusive Books, Wordsworth Books, Graffiti, Reader’s Warehouse en ander onafhanklike winkels. Ook by dieboek.com teen R850 (BTW ingesluit).

Image-2