Elvis Blue het sy doelwit van R1 miljoen oorskrei danksy oorweldigende ondersteuning uit baie velde vir Elvis Ry vir Skoolgeld. Ons hoor meer van die lang reis by die man homself
Baie geluk met die suksesvolle veldtog, hoe voel jou sitvlak na so ’n uitmergelende reis, en hoe herstel ’n mens na so iets?
Alles voel darem heel lekker. Dit was ’n belewenis en ek weet selfs my sitvlak sal weer herstel. Daar is min dinge wat ’n mens beter laat herstel as om weer rustig saam jou gesin by die huis te wees.
Hoeveel geld het jy toe op die ou end ingesamel, en het jy gedink jy sal die teiken bereik?
Ek dink dis so rondom R1,2 miljoen. Ek het verseker gehoop om die miljoen te bereik, maar ek sou nie sê dat ek seker was daaroor nie. Daar is baie mense wat help om die geld in te samel, en as dit nie was vir hul kreatiewe werk nie, sou ek verseker nie daar kon uitkom nie.
Wat was die moeilikste dag van die fietstog, en hoekom, en hoe het jy dit oorleef?
Ek dink die laaste paar dae dié jaar was nogal taai. Buiten vir die liggaam wat teen daai tyd nogal moeg was, was daar ook weersomstandighede wat dinge moeilik gemaak het. As ’n mens wind van voor af kry, voel selfs ’n plat pad soos ’n opdraande, en daar was baie wind op daai laaste paar dae voor die eindstreep.
Dit het darem ook gelyk of jy baie pret gehad het – wat was twee van die hoogtepunte vir jou?
Daar was sommer baie! Die groep kinders wat saamgery het op die laaste dag was sekerlik heel bo. Op die tweede laaste dag het een van Atterbury Trust se huidige beursstudente ook saamgery, en in die proses van dié gedeelde ervaring het ek uiters bewus geraak van die impak wat so ’n beurs op ’n jong persoon se lewe het. Dit was vir my goed om saam met hom tyd te kon spandeer.
Hoeveel mense het deel van die rit saam met jou gery; en is daar een storie daar wat uitstaan?
Vanjaar was daar heelwat mense wat saamgery het, veral die eerste paar dae en dan ook weer die laaste ent. Daar was ’n paar manne wat in Namibië saamgetrap het wat ’n klomp vulstasies in die land besit, en as hulle in hul stywe kleertjies saam met my by een van hulle stasies ingery het was daar groot gedansery en opgewondenheid – dalk omdat hulle die base is! Dit was nogal jolig.
Wat is die een les wat Elvis Ry vir Skoolgeld vir jou geleer het, wat jy met jou saamdra?
Daar is drie goed wat vir my uitstaan. Hulle klink moontlik soos clichés, maar ek ervaar hulle as ek op so ’n rit gaan:
- Hierdie tipe rit is ’n les in “vasbyt”. Dis verseker iets wat ek elke jaar weer moet leer.
- Iets anders waaraan ek altyd herinner word, is dat ooral waar ek gaan… dis waar ek is. Mens dink soms die dinge wat jy doen of die plekke waar jy gaan, sal jou gemoedstoestand kan verander. Dis waar tot ’n mate, maar ek glo dat as ’n mens ongelukkig of gestres is op een plek, sal jy nie sommer van daai gevoel kan ontsnap nie. Dit klink nogal morbied, maar die les is eenvoudig: mens se omstandighede verander nie sommer jou innerlike wêreld nie. Dis maar iets wat jy self moet doen… sommer net daar waar jy is – of dit nou by jou werk is of in die middel van nêrens op jou fiets.
- Die wind draai. Moenie dit vergeet nie. Soms voel dit of alles teen jou is… onthou maar net in daai tye: die wind draai, en môre kan anders wees.
Waarvoor word die geld wat ingesamel is, presies gebruik?
Die Atterbury Trust doen mooi werk. ’n Eenvoudige antwoord op die vraag is dat hulle jong mense gaan help met die geld – of dit nou studiebeurse is of dalk sommer net basiese behoeftes van kinders. Hulle het oor die jare bewys dat hulle ’n betroubare vennoot is, en ek sien uit om te sien hoe hulle die geld gaan gebruik in die lewens van jong mense.
Jy kan steeds ‘n bydrae maak tot Elvis Ry vir Skoolgeld, kliek hier: https://atterburytrust.org/product/elvis-ry-vir-skoolgeld
