Die klok tik die sekondes af na die opening van die nuwe Triomf Kliniek. Ons hoor by Ananja Koen wanneer die voordeur oopgegooi sal word.
Is daar al ’n oopmaakdatum? Wat moet nog gefinaliseer word voor die groot dag?
Ja, die nuwe Triomf-fasiliteit by 41 on Oak open amptelik op Lentedag, 1 September! Dis simbolies van ’n nuwe seisoen vir Triomf en ons sien met groot opgewondenheid uit na alles wat die nuwe fasiliteit moontlik maak – om meer pasiënte te help sowel as om nuwe vrywilligerdokters en mediese vennote in ons gemeenskap te verwelkom.
Watter aspekte van hierdie nuwe kliniekruimte maak julle opgewonde?
Die ligging is ideaal – sentraal en veilig in Hazelwood, Pretoria – wat dit baie toeganklik maak vir dokters en pasiënte. Ons glo dit gaan meer medici aanmoedig om betrokke te raak. Die afgelope 11 jaar se sukses van Triomf was te danke aan elke dokter en organisasie wat hul tyd en dienste gratis beskikbaar gestel het. Met hierdie nuwe fasiliteit wil ons dit moontlik maak dat die kliniek elke dag optimaal benut kan word om op dié manier nog meer mense in nood te kan ondersteun.
Daar is ook plek vir ander, ekstra medici… hoe gaan dit werk, en hoeveel plek is daar?
Die voorgebou is beskikbaar vir uitverhuring as spreekkamers of kantoorspasie. Hazelwood is ’n gesogte buurt vir sake- en mediese fasiliteite, met The Club Retail, Hazelwood Village en Club Surgical, asook uitstekende restaurante en winkels in die omgewing. Ons fasiliteit is splinternuut opgeknap en maklik bereikbaar vanaf die N1 (Atterbury- en Garsfontein-afritte).
Het julle al ander private medici as huurders bygekry – en waarvoor is julle op die uitkyk?
Ons het reeds belangstelling van moontlike huurders, en die spasie is ideaal vir dokters of besighede wat ’n professionele kantoor of spreekkamer soek in die hartjie van Hazelwood. Huurders kry toegang tot ’n gemeenskaplike ontvangsarea met ’n ontvangsdame wat pasiënte professioneel ontvang, veilige parkering en uitstekende sekuriteit, asook pragtige tuine en netjiese gemeenskaplike areas. Dit is die perfekte oplossing vir ’n huurder wat ’n volledig funksionele ruimte wil hê, sonder die las van administrasie en instandhouding.
Kan julle al die eerste maand se skedule by die nuwe kliniek deel?
Ons open met ’n Velsorgkliniek op 1 September waar Dokter Claudia Moloabi pasiënte gaan sien. Die skedule vir die res van September word tans saamgestel en sal binnekort bekendgemaak word – dit is vir ons belangrik om al die diensverskaffers en vrywilligers se insette mooi te balanseer, sodat ons van dag een af ’n volhoubare ritme kan vestig.
Watter spesialiteitsorg is tans die grootste behoefte by Triomf Kliniek?
Ons gratis kliniek het ’n dringende behoefte aan tandarts-, oogarts en sielkundige en psigiatriese dienste, asook ’n algemene praktisyn. Indien medici in hierdie of ander velde bereid is om hul tyd te skenk, kan ons vir nog meer mense in nood hoop en genesing bring.
Om meer uit te vind oor die beskikbare kantoor- en spreekkamerruimte, kontak ons per epos ananja@atterbury.co.za of skakel 081 493 5452. Sien ook die brosjure by https://heyzine.com/flip-book/cb1e3e5fa6.html