William Warren verfilm al die avonture op die gewilde TV-avontuurrreeks Voetspore, en hy is ook ‘n ou bekende by die Atterburyteater. Hy is gewoond om agter die kamera te staan en stories te verfilm, maar vandag nooi ons hom voor die lens in!
Jy stap al ‘n lang paadjie saam met Atterbury. Vertel ons daarvan?
My paadjie met Atterbury het eintlik begin met die onstaan van die Atterburyteater. Ek en Matthys Maree van die Atterburyteater is baie jare lank al vriende en ons werk op musikale vlak ook saam. Hy het my eerste Afrikaanse CD, wat so pas vrygestel is, se verwerkings en produksie gedoen. Die Atterburyteater is ’n wêreld-klas teater en het natuurlik my eerste keuse van platform geword om my musikale passie as sanger uit te leef. Ek doen ook redigering vir TV en besighede – en het onder andere vir die Atterbury Groep werk gedoen. Dan doen ek sommer so nou en dan bietjie kamerawerk by die teater ook.
Wie is William as hy by die huis is?
Ek is ongetroud, het twee susters in Pretoria en ’n broer in Auckland. Ek is baie na aan my susters en hul gesinne en ons maak die meeste van ons tyd bymekaar. En dan is daar my goeie vriende!
Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is gebore in Zeerust en het ook daar gematrikuleer, hoewel ons tussenin ook in Groot-Marico en Pietersburg (Polokwane) gewoon het.
Voltooi die sin: Ek weet ek is ‘n Afrikaner want… Afrikaans is dan my taal! Ek het baie gereis in my lewe en selfs in die buiteland gewoon. Elke keer as ek terugkom en ek weer Afrikaans praat, weet ek, ek is nou weer myself!
Wat is die vreemdste ding wat jy op Voetspore se omswerwinge aangebied is om te eet? Het jy?
Op Voetspore eet mens lekker, want die ouens kan kos maak – ek nie! Ons het sopas teruggekom van die reis deur die Skeurvallei van Afrika. In Ethiopië het almal Injera geeet. Dit lyk soos ’n pannekoek maar het ’n suur smaak. Ek het geproe, maar kon dit nie in my lyf kry nie! Dieselfde met bokvleis, dit maak my naar… ek het geproe maar stilletjies weggegooi!
Wat is jou gunsteling herinnering van al die Voetspore-reise?
O, daar is baie! Ek is lief vir die stad, ek hou van my eie bed en hou nie van kamp nie, maar ons het meeste nagte onder die sterre geslaap. Ek mis alreeds die koel wind in die nag en die menige dagbreek-oomblikke wanneer ek wakker word.
Ek dink daar is ten minste 30 000 ander mans wat dink hulle sou met my wou plekke ruil om op ’n Voetspore-reis te gaan. Dit is nie ’n vakansie nie. As kameraman hardloop jy van dagbreek tot laatnag agter die aksie aan, en het dan nog die admin-takies om te verseker dat die beeldmateriaal veilig gekopieer en bewaar word. Vroeg-vroeg op die reis is jy moeg, en die aksie hou nie op nie. Kort voor lank maak jy foute wat mense teleurstel en trap julle op mekaar se tone en jy wens jy was eerder by die huis! In my laagste oomblikke hoor ek my pa: “My kind, dan tel mens jou kop op en jy gaan aan…”
Nog ’n ding wat ek geleer het: ek pak te veel goed en meeste van wat ek pak is te duur om saam te karwei deur Afrika. Week een op ons reis verloor ek my leesbril (ek is oor 40), ook my BMW sonbril en toe sit ek sowaar my spaar sonbril ook stukkend (nogals ’n Prada). My baie spesiale sjampoe lê iewers in ’n veld en my iPad se skerm het gekraak…
By Uganda se grenspos is ek gearresteer omdat ek video geneem het van Johan Badenhorst wat praat met ’n man by sy voertuig se venster. Toe ek uitklim op bevel van die beampte, sien hy my gekamoefleerde kortbroek. Op daai oomblik verander ek van toeris in terroris! Hulle boender my toe in ’n kamertjie vir ondervraging. Hulle was my nie goedgesind nie, maar het my op die ou end darem vrygelaat. Afrika is pragtig, maar dikwels laat die die burokrasie ’n wrang smaak in die mond…
Noem drie bekendes wat jy graag saam met julle sou wou nooi op Voetspore.
Neil Diamond – sodat hy in die aande om die vuur vir my sy lewensverhaal kan vertel; en natuurlik so ‘n bietjie sing ook.
Nigella Lawson – sy hoef nie te kook nie, ek sal maar net vir haar sit en kyk.
Nataniël – ek wil sien hoe hy lyk as hy vir ’n week nie bad of skeer nie en hoe hy ’n 4×4 hindernis sou aanpak…
Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Iets wat my soos ’n voël kan laat vlieg – ek droom gereeld ek kan vlieg en niemand anders nie!
Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Ag, die impak van die Eerste en Tweede Wêreldoorloë. Ek kan nie by ’n dokumentêr of fliek oor oorlog verbyblaai nie. Dis vir my verstommend tot watter dade die mens in staat is. Wat my aangryp is dat mense aan albei kante maar eintlik dieselfde is. As hulle mekaar sou ken, sou hulle dalk vriende kon wees… Dan is daar ook die kameraadskap in oorlog wat my fassineer. Ek was self in die weermag, en weet dat saam swaarkry blywende vriendskappe kweek.
Atterbury Trust help graag om mense se drome waar te maak. As jy enigiemand wat jy op jou omswerwinge raakgeloop het se droom kon laat waar word, wie en wat sou dit wees?
Ek hoef nie ver te kyk nie. My huishulp, Sophie Flink, beskryf haarself as Swazi, maar sy het Afrikaans grootgeword. Haar tweede taal is Zulu. Haar ouma en oupa was Afrikaans en sy het by hulle grootgeword – vandaar die van ‘Flink’. Sy is in haar dertigs en haar man is oorlede. Sy het ’n seuntjie van nege. Craig is in ’n dubbel-medium skool (Afrikaans en Engels). Sophie wil natuurlik vir haar seun die beste moontlike geleentheid tot geleerdheid gee en ek sou dit ook wou sien!
Voetspore in Afrika se Groot Skeurvallei is pas klaar opgeneem. Dit is tans in naproduksie en sal vanaf Augustus 2015 op SABC2 te sien wees. Volg hulle op www.voetspore.co.za