Atterbury Trust het vanjaar Madiba se verjaardag op ’n nuwe manier gevier. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel hoekom.

Hoekom die besluit om Mandelamaand die hele maand te vier eerder as net die 67 minute op Madiba se verjaardag? Wat wil jul bereik met die meer tyd?
Mandeladag is al vir ‘n hele paar jaar ’n gevestigde tradisie tradisie by die groter Atterburyfamilie. Ons poog elke jaar om op Mandeladag ’n ekstra verskil te maak by een of meer van die organisasies waarby ons betrokke is. Weens die wesenlike impak op mense se beweeglikheid sedert die Vlak 4-inperkings aan die einde van Junie weer ingestel is, asook die sluiting van skole en ook die impak van die derde vlaag infeksies in veral Gauteng, het ons besluit om die tydperk van insamelings te verleng om meer mense ’n kans te gee om deel te word van ons inisiatief.

Van waar die idee om spesifiek toiletware in te samel?
Ons span het deur middel van die uitdeelsessies van ons Terugploeginisiatief nog meer direk op grondvlak in kontak gekom met gemeenskapsorganisasies asook die begunstigdes van daardie betrokke instansies. Hulle is baie dankbaar vir enige vorm van kos wat hulle ontvang, maar ons het agtergekom dat daar ’n groot behoefte aan toiletware bestaan. En as mens mooi daaraan dink, het persoonlike higiëne en toegang tot basiese toiletware ’n wesenlike invloed op iemand se menswaardigheid. Die hartseer is egter dat dit ’n luukse is vir baie behoeftige mense. Covid het die lys behoeftes net langer gemaak met ekstra seep, saniteerders en maskers wat nou ’n moet is vir almal.

Wie gaan die begunstigdes wees?
Ons harte gaan uit na kelners wat weer sonder ’n inkomste was onder Vlak 4 – ons kon die swaarkry eerstehands sien by heelparty van die kelners by Atterbury se Old Village en Castle Gate sentrums. Ons het besluit “charity begins at home”, en wil hulle graag help. Dan is daar ook ‘n hele paar skole en ander gemeenskapsorganisasies wat altyd op ons lys begunstigdes is.

Julle het vanjaar ook een van julle organisasies by ’n Mandeladag werkskeppingsinisiatief betrek. Vertel meer daarvan?
Ons het gedink aan iets eg-Suid-Afrikaans wat Mandeladag kan versinnebeeld en het toe op die gedagte van Shweshwe-sakkies gekom wat dan met toiletware volgemaak kan word. En iemand moes dit vir ons maak! Die gedagte aan ’n werkverskaffingsprojek vir een van ons gemeenskapsorganisasies het toe daaruit gevloei en die flukse naaldwerkspan van Eljada-huis is genader. Eljada ondersteun maandeliks ongeveer 50 behoeftige gesinne met kos en ander noodsaaklikhede en hulle bedryf ’n aantal werkverskaffingsprojekte waar hulle eie mense by betrokke is.

Eljada het vir ons 200 sakkies gemaak wat dan verder aan Atterbury se personeel, Atterbury Teater, GROOTfm en WeBuyCars uitgedeel is om met toiletware vol te maak. Enige lid van die publiek is ook welkom om ’n sakkie by Atterbury se kantore by Die Klubhuis kom optel. En as die Shweshwe-sakkies opraak het ons spesiale Mandelamaand bruinpapiersakke wat mense kan kom haal om vol te maak. Mense is ook welkom om hulle eie sakkies vol toiletware te kom aflaai.

Waarheen bring mense hulle toiletware-skenkings?
Versamelbokse is by Die Klubhuis, Atterbury se hoofkantoor in Hazelwood; by The Club Retail net buite Woolworths, by die Atterbury Teater by Brooklyn Bridge, by Castle Gate Lifestyle, GROOTfm 90.5 se kantoor, en WeBuyCars se Midstream en Silver Lakes-kantore.

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) het ook betrokke geraak by ons inisiatief en bemark ook onder hulle lede.

Mense kan ook via die Atterbury Trustwebwerf op ons Donasiewinkel ’n kontantskenking maak, of ’n sakkie by enige van die bogenoemde plekke gaan optel, om vol te maak.

Weet julle hoeveel julle reeds het?
Ons het al ongeveer R 5 000 se kontant via die Donasiewinkel ingesamel en ongeveer 50 sakkies vol toiletware is al teruggee. Ons is baie dankaar vir Karien van Staden van Dis-Chem by Castle Gate wat al twee keer ’n klomp produkte gestuur het. Ons het onder andere al elektroniese skale, doeke vir volwassenes, naskeermiddels, haarolie, handsaniteerder, waslappe, tandepasta, sonroom en seep ontvang.

Tot wanneer kan mense nog toiletware bring?
Die sluitingsdatum is 28 Julie en daar is dus net ’n week oor!

Is daar ’n lysie van die produkte wat die nodigste is?
Seep, sjampoe, reukweerder, tandeborsels, tandepasta, lyf- en gesigroom, sanitêre doekies, handsaniteerders en maskers is meer as welkom asseblief.