Pretoria Studentefunksie: Welkom in die Atterbury Trust-familie!
‘n Fees van ‘n Wes-Kaapse Trust beursfunksie
Atterbury Trust Facebook blad
Atterbury Trust se Wes-Kaap beursfunksie is op 11 April by Stias by die Universiteit van Stellenbosch gehou. Dit was ons grootste Wes-Kaapse beursfunksie tot op hede waar ongeveer 70 beursstudente, ‘n paar senior MOI-leerders, Atterbury Trust alumnistudente, Atterbury Trust personeel uit Pretoria en Stellenbosch, Atterbury Trust trustees, Atterbury Property Foundation NPC direkteure en ander Stellenbosse vriende van die Atterbury Trust byeengekom het. Daar was selfs ‘n belangstellende gas uit Swede, Daniel Grahn, wat as deel van die Sweedse inisiatief waarby die Atterbury Trust betrokke is, die funksie bygewoon het om spesifiek ook met die MOI-leerders te gesels. Dit bly ‘n groot vreugde as alumnistudente terugkom “huis toe” en ons is so trots op alles wat hulle bereik en vermag in ons mooi land. Voorwaar ‘n aand van dankbaarheid en feesviering vir groeiende bande wat in die Wes-Kaap gebou word om die Atterbury Trust se voetspoor van omgee en hoop skep in ons land verder uit te bou.
Studentefunksie by die Klubhuis
Ons jongste groep Pretoria beurshouers is in die Atterbury Trust-familie verwelkom by ons jaarlikse studentefunksie by die Klubhuis. Ons ondersteun vanjaar 140 studente, en verwelkom alle donasies om drome waar te maak.
Atterbury Trust vier 25 jaar by beursfunksie
Atterbury Trust Facebook blad
’n Groep van 130 huidige en voormalige Atterbury beursstudente en Atterburymense het Atterbury Trust se Pretoria beursfunksie in die Trust se 25ste bestaansjaar gevier. Ons was verheug dat Jacomien Rousseau, een van die heel eerste groep van ses wat in 1998 beurse ontvang het, sowel as ‘n hele aantal ander alumni van die afgelope 25 jaar ook daar was! Daar is lekker gesmul aan paella aan ’n lang tafel op die dak oorkant die Klubhuis, die nuwe 2023 beurshouers is verwelkom, spekboompies is uitgedeel aan die 2022 graduandi, en die 25-jaar herdenkingsvideo is vertoon. Altyd lekker as ons studente huis toe kom!
Atterbury Trust Studentefunksie, Pretoria 2022
‘n Aand van samesyn wat hoop gee
Met die wêreld ‘n warboel, was die onlangse, jaarlikse Atterbury Trust Studentefunksie in die hoofkantoor van Atterbury in Pretoria ‘n oase-geleentheid waartydens ‘n mens weer hoop kon kry. Hoop vir ‘n toekoms beter as die hede en hoop dat, wanneer jy omgee vir ander, dit dubbel en dwars terugbetaal. Nie in materialisme nie, maar in die emosionele gerustheid dat iemand anders ‘n kans gekry het en dit ten volle aangegryp het.
Ontvangers van Atterbury Trust studentebeurslenings is jongmense met die wil en vermoë om ná skool verder te studeer, maar sonder die finansiële vermoë om dit te kan bekostig. Met die trust se hulp kry hierdie studente die hupstoot wat hulle nodig het. Die resultate spreek vanself en dít was duidelik tydens die funksie.
Hierdie jongmense nie net op pad na ‘n suksesvolle loopbaan nie, maar na ‘n beter, volle lewe vir hulself en hul naastes.
Dit is alles moontlik deur middel van Atterbury Trust se onbaatsugtige ondersteuners en donateurs.
As jy ook wil help, besoek asseblief Atterbury Trust se aanlyn Donasiewinkel met die skakel hieronder en skenk gerus. Want ons weet jy gee ook om.
https://atterburytrust.org/shop/studentebeursborgskappe/
’n Aand van viering en inspirasie
Atterbury Trust Facebook blad
Só lyk die sakeleiers van môre… Ons Wes-Kaapse beursfunksie was ’n heerlike aand van samesyn met ons beursstudente en -alumni en die Kaapse span van Atterbury Property by die immergroen De Volkskombuis op Stellenbosch. Met sulke dinamiese jongmense op die drumpel van hul beroepslewe kan ’n mens hoop hê vir Suid-Afrika se toekoms in Atterbury Trust se 25ste bestaansjaar.
Studente samesyn in Stellies
Atterbury Trust Facebook blad
Die jaarlikse Atterbury Trust Wes-Kaap beursfunksie-geleentheid is onlangs weer by De Volkskombuis in Stellenbosch aangebied. Die funksie is vanjaar deur ongeveer 50 gaste bygewoon, beduidend van ons groei in die provinsie. Gedurende die pragtige Bolandse herfsaand het ons gemaklik saam gekuier op die groen gras van die restaurant om te gesels oor geleenthede en wat dit beteken om te kan studeer.
Huidige studente, alumni, die Atterbury Trust-span, sowel as ‘n paar Atterbury Trust trustees was daar. Dit was aangenaam om een van ons oprigtertrustees, Francois van Niekerk, asook Pieter Faure en Zahn Hulme as trustees te verwelkom.
Verteenwoordigers van die Mergon Ontwikkelingsinisiatief (MOI) en Prof Leslie van Rooi, Direkteur Sosiale Impak en Transformasie van die Universiteit van Stellenbosch (US) het die geleentheid bygewoon. Ander gaste was Fiona von Kerwel en Jeneen Wallow van die Woorde-Open-Wêrelde (WOW)-kantoor van die US.
Dit was ook ekstra spesiaal dat 12 van die studente wat deur die Karoo Suite inisiatief van Coenie de Villiers en Deon Meyer ondersteun word, vir die eerste keer die beursfunksie kon bywoon.
Tydens die geleentheid is ses van die Wes-Kaapse graduandi van 2020 gelukgewens en ons gevestigde tradisie is voortgesit deur ‘n spekboompie wat eg Suid-Afrikaanse wortels, deursettingsvermoë en groei verteenwoordig, aan elkeen te oorhandig.
#OnsGeeOm
Atterbury Trust Beursstudente Geselligheid 2021
Atterbury Trust Facebook blad
Tydens ’n heerlike en gesellige funksie met ’n inspirerende inslag, het Atterbury Trust huidige en alumni beursstudente en Atterburypersoneel by Die Klubhuis, Hazelwood, Pretoria onthaal.
Louis van der Watt, Atterbury se Groep HUB het op opbeurende wyse die jongmense toegespreek oor hoe om hulself vir loopbaan-sukses voor te berei. Die trust se uitvoerende trustee, Zahn Hulme het vertel oor die vele maniere hoe beursstudente te hulp gestaan word en die studente en alumni uitgenooi om deel te bly van hierdie unieke netwerk.
Na ’n lekker shawarma-maaltyd en iets te drinke is die gaste daar weg met ’n gevoel dat, met die regte ingesteldheid van welwillendheid, ’n positiewe verskil verseker moontlik is, soos wat deur die suksesvolle Atterbury Trust beursprogram bewys word.
Atterbury Trust Beursfunksie 2019
#onsgeeom vir ons studente
In 1998 is die heel eerste onderhoude vir Atterbury Trust se beursprogram
gedoen. In 2019, met ons 21ste verjaarsdag, is meer as 650 beurse reeds
toegestaan, en het ongeveer 430 studente hulle grade behaal.
Stellenbosch Omgee Vriendskapgroep funksie
Stellenbosch Omgee Vriendskapgroep funksie van ons Facebook blad
Atterbury Trust Vrouevriendskapoggend saam met ons Wes-Kaapse studente en vriendinne van Atterbury by De Volkskombuis in Stellenbosch. #LizeBeekman deel haar inspirerende storie van heling en hoop. Dankie ook aan Isabel Roos en die professionele span van #Isacarstens vir julle vrygewigheid en die spesiale pamperlang.
Atterbury Trust Beursfunksie 2018 – Pretoria
Atterbury Trust Beursfunksie 2018 van ons Facebook blad
Ons jaarlikse beursfunksie by die Klubhuis was ‘n aand van opvang, heerlike samesyn, en hope inspirasie saam met alumni en huidige beursstudente!
Atterbury Trust Beursfunksie 2018 – Stellenbosch
Atterbury Trust Beursfunksie 2018 van ons Facebook blad
Atterbury Trust se beursfunksie verlede week by Rust en Vrede Wine Estate was ‘n wonderlike aand van gemeensaamheid en bande bou met 35 beursstudente en alumni!
Atterbury Trust Beursfunksie 2017
Atterbury Trust Beursfunksie 2017 van ons Facebook blad
Ongeveer 160 Atterbury personeel, bestaande en alumnistudente het heerlik saamgekuier – mekaar leer ken en nuwe bande gebou by die onlangse Atterbury Trust beursfunksie. Die beursfunksie is ‘n wonderlike geleentheid om nuwe studente te motiveer, suksesse van bestaande studente te vier en ook te sien hoe ons alumnistudente op die loopbaanleer vorder. En vanjaar is ons weer nie teleurgestel nie. Mandie Human, tans ‘n Hons-student in Ondernemingsbestuur by die PUK was verlede jaar die topstudent in die hele Ekonomiese- en bestuurswetenskappe fakulteit. Sy het haar graad Cum Laude behaal. Daar was ook ‘n hele aantal ander Cum Laude-studente wat hulle grade in 2016 behaal het. Baie geluk aan hulle en die ongeveer 42 nuwe graduandi!
Atterbury Trust beursfunksie 2016
Atterbury Trust Beursfunksie 2016 van ons Facebook blad
Die jaarlikse Atterbury Trust beursfunksie is deur ongeveer 130 Atterbury beursstudente van die Pretoria-omgewing sowel as Atterbury en Attacq personeel bygewoon. Ons het die funksie by die Bloukransgebou by Lynnwood Bridge gehou. Tydens die geleentheid het studente mekaar ontmoet en ook die geleentheid gehad om alumni-studente en personeel te ontmoet wat as mentors gaan optree. Ons het ’n melkskommelkafee met gemaklike sitplekke en ’n sitkamer vir “nuuskierige gesels” geskep. Padkafeekos soos slaai- en hoendersosaties, kaas, beesvleis en agurkie burgers met Potato Café slap “chips”, mayonnaise en tamatiesous, mieliewarmbrakke, bloubessieterte en wafels is bedien. Twee alumni-studente, Wiehann Fourie en Percival van der Walt, wat in 2015 grade behaal het, het hulle ervaring gedeel van wat die Atterbury Trust en sy mense oor hulle studiejare vir hulle beteken het. Daar is vanjaar ongeveer 200 studente wat regoor Suid-Afrika met die hulp van die Atterbury Trust studeer. In 2015 het 56 studente grade behaal. Sonskyn se kleur is geel. Dit word met vreugde, geluk, intellek en energie vereenselwig. Geel verteenwoordig elke emosie en sosiale media status opdatering se “emoji” wat Atterbury Trust graag onder die studente wat hulle borg en ondersteun wil skep.
Atterbury Trust Beursfunksie 2015
Atterbury Trust Beursfunksie 2015 van ons Facebook blad
Ons studente lê ons baie na aan die hart.
By Atterbury Trust is ons baie erg oor ons beursstudente. Vanaf die aanvanklike aansoek en onderhoud tot by die gradeplegtigheid en daarna volg ons hierdie groep uitblinkers van heinde en verre.
Ons hou jaarliks ‘n beursfunksie waartydens ons die kans kry om op te vang, lekker te gesels en wedervaringe te deel. Hierdie jaar se geleentheid in ons nuwe Bloukrans hoofkantoor was iets besonders. Nie net om die verskil te sien wat opvoeding in ons studente se lewens maak nie, hoe hulle groei en ontwikkel in hulle menswees nie, maar ook om die kans waar te neem om dankbaar te wees oor wat ons het, maar ook wat ons kan gee. Want by Atterbury Trust gee ons om.
Potchefstroom studente beursfunksie 2015
Dit is altyd lekker in Potch! Atterbury Trust stel ons beursstudente in Potchefstroom aan mekaar bekend en verwelkom al die nuwe gesigte. 🙂
Atterbury Trust Beursfunksie 2014
Die Atterbury Trust hou jaarliks in Maart beursfunksies – die grootste een in Pretoria omdat die meeste studente hier en in Johannesburg studeer.
Die funksie by die Atterburykantore in Pretoria is deur 120 studente en Atterbury personeellede bygewoon. Atterbury personeellede raak toenemend betrokke as mentors by die Atterburystudente en speel so ‘n waardevolle rol in hulle ontwikkeling.
By Showroom in Stellenbosch het die 13 studente saam met Leonie en Zahn ‘n heerlike aand rondom ‘n groot tafel deurgebring.
Louise Viljoen is saam met Leonie Potchefstroom toe, waar almal lekker by Fine Things gekuier het.
Ons studente
Atterbury Trust beurs-studente doen vakansiewerk by Atterbury as geleenthede beskikbaar is. Wiehan Fourie (B Com Ondernemingsbestuur 3), Gerrit van der Berg (Atterbury Projekbestuurder), Percival van der Walt (BSc Boubestuur 3) en Suane Cilliers (B Ing Bedryfsingenieurswese 2) hard aan die werk!