Lig, lewe en ’n gees van omgee by Versnit 2025
25 Januarie 2025
Daar is verskeie wonderlike aspekte van Versnit wat ons elke jaar opval wanneer ons saam met ons Versnit Vriende in die gees van welwillendheid by Rust en Vrede byeenkom. Samesyn, heerlike gesels en opvang, inspirerende musiek, die aangesig van die asemrowende Helderberg as die agtergrond van die geleentheid, ’n glasie Stellenbosch en Rust en Vrede se beste en natuurlik die wete dat almal wat bydra, ’n werklike positiewe verskil in ’n menigte minder bevoorregtes se lewens aktiveer.
Hierdie jaar, op Saterdag 25 Januarie met die aankoms van ons gaste toe die son net so stadig, rustig sy wenteling begin afwaarts draai, was dit die lig van genoegdoening wat ons harte gevul het. Kleure, klere, glimlagte, bome, krismisrose by die duisend, die genoegdoening van lewens met ’n opbeurende ingesteldheid… alles was getooi in ’n sagte, sonderlinge sonlig, so asof Moeder Natuur haar eie bydrae wou lewer. Vir ons was dit weer ’n toonbeeld van wat kan gebeur in ons kollektiewe gemoed van behulpsaamheid wat ons eintlik die beste sou laat voel; die wete dat almal daar byeen omgee uitstraal as gemene deler.
Die aand se verrigtinge het afgeskop met Pierre Greeff en Die Heuwels Fantasties wat ’n energieke atmosfeer met passie, ritme en snarespel op die verhoog laat ontwikkel het. Toe het Frieda van den Heever ons beïndruk met haar innemende verhoogpersoonlikheid en sang, voor Jean Engelbrecht, Louis van der Watt en Lexus se Anton Falck verwelkomings gedoen en almal herinner het hoekom Versnit se omgee noodsaaklik is om Atterbury Trust se werk standhoudend moontlik te maak.
Toe het ons gereelde gunsteling Elvis Blue, Corlea met haar meesleurende en welluidende pragtige stem, asook Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock bewys dat ons Afrikaanse musiektalent werklik wêreldklas is.
Hierdie jaar se Versnit-toekenning vir ’n besondere bydrae tot Afrikaanse kultuur, is vir ’n tweede keer aan een van ons gunsteling skrywers oorhandig. Deon Meyer is vereer vir die wêreldwye reikwydte van sy skeppingsvermoë. Hy het in ’n uitnemende, kort maar kragtige toespraak sy diep dankbaarheid betuig. Deon en Coenie de Villiers het hulle aangrypende Fransman-storie uit die Karoo-Suite opgevoer. Later het hy selfs as agtergrondsanger saam met Die Heuwels opgetree en dít, liewe vriende, sien mens nie elke dag nie.
’n Verrassing van die aand was die energieke PJ Powers, wat die gehoor in vervoering gehad het met haar sprankelende treffers, insluitend Bette Davis Eyes. Nog hoogtepunte was Elvis Blue se treffende vertolking van John Hiatt se Have a Little Faith in Me en Corlea se opwindende, betowerende weergawe van Chris Isaak se aangrypende ballade Wicked Game. ’n Gepaste, gesamentlike afsluiting deur al die kunstenaars is vervolmaak met die saamsing van Johannes Kerkorrel se immergroen Halala Afrika. Verrigtinge het so tot ’n einde gekom en nog ’n Versnit is gevier; vog in die oog, liefde in die hart.
Halala, ewig is ons Afrika
Klik hier en skenk in die gees van Versnit aan Atterbury Trust deur ons Donasiewinkel.