Atterbury Trust se Acappella-kompetisie is terug – groter, beter en sterker as ooit tevore!
Sedert hierdie unieke kompetisie se ontstaan in 2023 het dit vinnig gegroei tot een van die hoogtepunte op studente-acappella-groepe se landswye kalender. En vanjaar maak ons weer geskiedenis: ’n rekordgetal van 31 groepe het ingeskryf, wat die groot behoefte onder studente om hul stemme te laat opklink, deeglik weerspieël.
In die eerste jaar van die kompetisie het net vyf groepe meegeding, in 2024 het 15 groepe ingeskryf waar nege in die finaal om die gesogte titel meegeding het. Vanjaar se rekordgetal inskrywings wys duidelik dat die kompetisie nie net groei nie maar sy regmatige plek op die verhoog teruggeëis het.
Die Top-11 groepe wat vanjaar die Fairtree Atterbury Teater se verhoog gaan laat dreun, is:
- Poorboys
- Noordwes-Universiteit
- Braksters
- Universiteit van Pretoria
- Mags (Magrietjie)
- Universiteit van Pretoria
- House Ukuthula
- Universiteit van Pretoria
- Veritas Enkelsêr
- Noordwes-Universiteit
- Kasteel
- Noordwes-Universiteit
- Curelitzia
- Universiteit van Pretoria
- Dregeana
- Universiteit van Pretoria
- Eiffelkoor
- Stellenbosch Universiteit
- Madelief
- Universiteit van Pretoria
- Sonop – SA FBI Agents
- Universiteit van Pretoria
Die gala-aand vind op Saterdag 11 Oktober plaas en beloof om een van die onvergeetlikste musiekaande van die jaar te wees. Kaartjies sal binnekort via die Seatme-platform beskikbaar wees.
Die idee vir Atterbury Trust se Acappella-kompetisie het ontstaan by ‘n passievolle alumni Atterbury Trust beursstudent wat ’n vurige pleidooi gelewer het om studente-acappella – of sêr, soos dit algemeen bekend staan – weer op die verhoog te bring.
Atterbury Trust het dié geleentheid met entoesiasme aangegryp in lyn met een van ons kerndoelstellings: die bevordering van kuns en kultuur in Suid-Afrika. Die kompetisie bied ‘n waardevolle professionele platform vir jong musiektalent om hul liefde vir musiek en verhoogkuns ten volle uit te leef.