Uitvoerende trustee Zahn Hulme het vroeër vandeesmaand ’n uitmergelende Robbeneiland swemtog aangepak om geld in te samel vir ’n baie goeie doel. Sy vertel ons meer van GrootSwem 2023:

 Wat is GrootSwem presies, en wat kan jy ons vertel oor die goeie doel waarvoor julle geswem het?
GrootSwem is ’n inisiatief wat deur King Price versekeraars geïnisieer is, en wat vanjaar vir die tweede keer plaasgevind het. Dit behels ’n groep-swem van Robbeneiland tot by Bloubergstrand, ’n afstand van 7.5km in die koue Kaapse see! Die oogmerk is om mense in te lig oor en geld in te samel vir die bestryding van groeibelemmering of “stunting” van klein kindertjies in hul mees belangrike vormingsjare, voor hulle vyf word. Daar word gereken dat 27% van Suid-Afrika se peuters en kleuters aan hierdie totaal voorkombare, maar onomkeerbare toestand lei. Groeibelemmering behels dat hulle weens wanvoeding nie fisies of intellektueel volkome ontwikkel nie, en dus vir die res van hulle lewe ’n agterstand het, en nooit hul volle potensiaal kan bereik nie. Ouers is soms onkundig en daar is boonop wydverspreide armoede in ons land en gevolglik kry kinders dan nie ’n gebalanseerde dieët met kos wat genoeg van die regte voedingstowwe bevat wat hul brein en lyfie nodig het om reg te ontwikkel nie. Inani Startwell is ‘n wonderlike organisasie wat ’n ontbytkos ontwikkel het wat al die nodige voedingstowwe bevat, juis om hierdie probleem aan te spreek.  Die pap word aan kleuterskole en skole verskaf en een maaltyd ’n dag van Inani se pap gee vir ’n kind al die broodnodige voedingstowwe wat nodig is. En die beste is dat dit net R700 kos om een kind vir ’n hele jaar hiermee te voed!

Hoe het jy en die Trust daarby betrokke geraak, en wat was jou einddoel as deelnemer?
Atterbury Trust se stigtertrustee Francois van Niekerk het via die Atterbury Trust saadkapitaal verskaf om Inani Startwell van die grond af te kry en dis hoe ek die eerste keer van Startwell gehoor het. Dit was ook so inspirerend om vir Org van der Wath, die brein agter Inani Startwell, te ontmoet – sy produk kan só ‘n groot verskil in ons land maak.

Ek is deel van die InVia geloofsgemeenskap op Stellenbosch wat aktief besig is om borge en befondsing te kry en ook ander geloofsgemeenskappe mobiliseer om die uitrol van Startwell in kleuterskole te doen.

Ons het dus regtig vir so ’n goeie doel geswem! Elkeen van die 14 swemmers het probeer om ten minste R25 000 se donasies in te samel. Die see is definitief my “happy place” en die video’s van verlede jaar se swem waar ’n rob ’n lang ent saamgeswem het en die swemmers ook ’n groot skool dolfyne en selfs ’n walvis raakgeswem het, was verdere inspirasie! Ek swem al van kleinsaf en dit was nog altyd ‘n droom van my om die Robbeneiland-swem te doen.

Hoe berei mens voor vir so ’n uitdaging? Wanneer het jy begin oefen?
Ek het in Januarie begin oefen, net nadat ek ingestem het om deel te neem. Ons het ‘n intensiewe oefenprogram van agt weke van Coach Mo gekry en ek het probeer om sover moontlik daarby te hou. Ons woon tussen Wildernis en Stellenbosch waar Atterbury Trust Wes-Kaap nou ’n kantoor het, so behalwe in die oop see by Wildernis en die Touwsrivier het ek in die see by Gordonsbaai, Kampsbaai en Clifton geoefen, en ook in die Coetzenburgdam en die Welgevallendam op Stellenbosch, en ’n paar keer in Virgin Active se swembad op Stellenbosch. Ons het in die week voor die GrootSwem ’n bosberaad naby die Cradle of Humankind gedoen en selfs daar het ek ’n lieflike groot dam gevind vir een van my laaste oefensessies… ek het letterlik later oral waar ek my bevind het die naaste stuk water gesoek en daar ingespring om te oefen!

Hoe het die swem op die dag toe gegaan? Was dit wat jy verwag het?
Die swem was ’n grootse ervaring. Ek het deur soveel emosies in die drie en ’n half ure gegaan en werklik God se krag en teenwoordigheid intens ervaar. Ek het so een met die oseaan en alles daarin gevoel. Al die skoonheid om my – met elke asemteug na regs die majestueuse Tafelberg aan die regterkant en die eindelose blou-blou see. Jellievisse ver onder in die blou. En toe ek eers my ritme kry het ek vir ’n lang tyd so moeiteloos geswem – gedink dis hoe ’n dolfyn moet voel wat saam met die deining net gly. Vir die laaste uur moes ons ’n yskoue systroom trotseer, by tye gevoel of ek nie vorentoe beweeg nie. “Dig deep” het ’n werklikheid geword. Ons het amper 1,5 m links van die beplande eindpunt by Big Bay klaargemaak.

En dan die wonderlike gevoel van klaarmaak! Sand onder my voete. Almal wat wag op Bloubergstrand – groot verligting en blydskap. Soveel waardering vir die Wes-Kaap Atterbury Trustspan, vir Surisa Schwalb wat raakvat, en vir Francois en Louise Van Niekerk, waar my verbintenis met Inani StartWell Foundation en Org van der Wath deur InVia Stellenbosch begin het.

Dit is nogal ’n vreesaanjaende gevoel om donkeroggend met die rubberbootjies tot by Robbeneiland te vaar. Ten minste het die dolfyne en walvis wat ons op pad gesien het, my moed gegee! Die bootjie laai ’n mens so 100m van die eiland af en dan moet jy deur die digte seewier tot by die eiland swem om van daar te begin. Die eerste paar honderd meter was angswekkend. Daar het soveel emosies deur my kop geflits – onsekerheid, vrees, amper ’n lamheid. Ek was so dankbaar vir my sterk swemmaat Angus Taylor. Sy sterk energie saam met my in die water het my beslis gedra daardie eerste ruk. My man Alten was ook in die ondersteuingsboot en sy gerusstellende kyk het my ook deurentyd aangemoedig. Elke halfuur het ons gestop vir ’n vinnige blaaskans om ’n paar slukke warm tee te neem.

Hoe lank het dit jou geneem? Wat was die moeilikste aspek daarvan, en wat het jou deurgaans gemotiveer om vol te hou?
My amptelike voltooiingstyd was 3 uur en 32 minute. Soos ek hierbo gesê het was die laaste twee kilometer uitdagend met die sterk, yskoue systroom. My bene het begin moeg raak, ek was bang dat ek nie sou kon staan as ek sand onder my voete voel nie!

Daar was regtig hierdie bonatuurlike gevoel dat ek krag van Bo ontvang om klaar te maak. Ek staan dankbaar vir die voorreg – vir my liggaam en dat ek die krag kon hê om dit aan te durf. En vir mense om my – ek is oorweldig deur die woorde van aanmoediging van mense; dié baie na aan my, Alten en ons seuns, my ouers Delarese en Reinhold Weiss, my sussies Reina Cullinan en Delarese Maartens maar ook soveel ander, al my vriende, my Atterbury Trust en Atterbury Property-familie wat bankvas agter my gestaan het, Marno Boshoff en die span van King Price Insurance wat al die reëlings behartig het, Derrick van BigBayEvents se professionaliteit en kundigheid op die dag, al 13 ander swemmers se inspirasie en kameraderie, Izaan Steenkamp van GROOTfm 90.5,  Johrné van Huyssteen vir jou malligheid en jou tweede kappie wat jy sonder huiwering afgehaal het toe ek dit nodig kry. Ek sal dit nooit vergeet nie. Die lewe is goed en God is groot.

Was die GrootSwem as inisiatief ‘n sukses?  Hoeveel geld kon julle insamel?
Ek glo die inisiatief was ’n groot sukses – om bewustheid te skep en ook die geld wat ingesamel is. Ek is oorweldig, ook deur die finansiële ondersteuning van soveel van my vriende en kollegas, Atterbury Trust en ook Atterbury Property.

Ons mikpunt was R500 000 met 20 swemmers. Daar was uiteindelik net 14 wat geswem het en ons is baie dankbaar dat ons tog die R500 000 mikpunt tussen ons bereik het.

Sal jy dit weer doen?

Ek sal dit beslis weer doen en wil sommer ’n paar ander swemmers mobiliseer! My droom sal wees as my twee sussies saamswem volgende jaar! Ons wil ook ’n paar groot name in die swemwêreld nader en hoor of hulle die uitdaging saam met ons wil aandurf.

As mense steeds wil skenk aan Inani Startwell Foundation se projek, kan jy dit hier doen:

Nika Capital NPC
Bank: FNB
Takkode: 204109
Naam van tak: RMB Corporate Cape Town
Tipe rekening: Corporate Cheque account