Atterbury Trust se werk word soveel makliker gemaak danksy ’n goue netwerk van mense wat omgee en instansies wat altyd daar is om te help. Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) is ’n gewaardeerde vennoot wat bydra om die diens wat ons aan Triomf Kliniek se pasiënte kan bied sommer met ’n hele stel trappe op te hef. Ons gesels met ZAH hospitaalbestuurder Robert Jordaan.

ZAH vier vanjaar sy 117de bestaansjaar, wat dit een van die oudste hospitale in die land maak, en ’n ikoniese landmerk in Pretoria. Hoe het ZAH by die Atterbury Trust betrokke geraak?
ZAH is inderdaad die oudste privaathospitaal in Pretoria. Twee van die direkteure wat op die ZAH-raad dien, is betrokke by Atterbury, en ons het deur hulle te hore gekom van die goeie werk wat Atterbury Trust verrig. Die raad het toe die besluit geneem om die Trust te ondersteun.

Julle borg onder andere studiebeurse vir mediese rigtings, en vanjaar het twee verpleegsters wat danksy ZAH en Atterbury Trust kon swot, daar by julle begin werk. Is dit deel van julle beplanning – om te belê in studente wat dan by die hospitaal kan kom werk? Waarna is julle spesifiek op soek wat personeel betref?
Ja, ZAH se oogmerk is dat ons graag ons vakante poste wil vul met studente in wie ons belê het; ons belê graag in jongmense wat ’n roeping het vir medies of verpleegkunde. Zuid-Afrikaans Hospitaal het ’n spesifieke kultuur en waarde-etos waarna ons streef; daar is ’n rigiede proses waarvolgens ’n kandidaat geevalueer en met die hand uitgesoek word om deel te word van ons toegewyde span. Só verseker ons dat ons die uitmuntende pasiëntesorg waarvoor ons bekend staan, kan handhaaf. Zuid-Afrikaans Hospitaal belê in menslike kapitaal deur groei, ontwikkeling en die behoud van ons sleutelvaardighede.

Is daar tans ook ander beursstudente wat julle befonds, en is daar enige planne om hulle in diens te neem?
Ja, die hospitaal is wel betrokke by die ondersteuning van kern- mediese dissiplines met die oog op langer-termyn opvolg-beplanning.

Dan is ZAH ook baie betrokke by Triomf Kliniek, beide met die skenk van medisyne en teatertyd. Hoe bepaal julle wie gehelp word met teatertyd?
ZAH skenk nou al vir byna twee jaar maandeliks ’n beduidende hoeveelheid medisyne aan Triomf Kliniek volgens hulle behoefte en ons vermoëns. Dis meestal oor-die-toonbank medikasie, vitamines, maskers en handsaniteerder, en dan toerusting soos pleisters, naalde en verbande. Ons skenk ook teatertyd en pasiëntesorg aan behoeftige pasiënte wat nie mediese fondse het nie, maar dringende sjirurgie nodig het. Die operasies word gereël deur die bemiddeling van ’n paar welwillenheidsorganisasies wat die pasiënte identifiseer en dan die ingewikkelde koördinasie doen om al die spelers – hospitaal, spesialiste, verskaffers van medikasie en toerusting – bymekaar te kry om die operasie te laat plaasvind. Operation Healing Hands (OHH) is in die geval van die Triomf-pasiënte meestal hierdie koördineerder.

Dit is werklik ’n wonderlike diens om iemand wat nie private mediese sorg kan bekostig nie, wêreldklas behandeling te gee wat hulle niks kos nie. Kan jy dalk een pasiënt-storie uitsonder, van iemand wie se lewe totaal verander is deur die operasie wat julle gedoen het?
Dit is ’n voorreg om deel te wees van ’n ketting van omgee wat ’n verskil kan maak, want ons weet die behoefte is so groot. As ek een storie moet uitsonder wat via Triomf Kliniek gekom het, dink ek aan Mnr Koos Moolman, wie se heupe hom soveel probleme gegee het dat hy later nie meer kon werk nie, en in permanente pyn was. Hy was byvoorbeeld vir vyf jaar op ’n waglys vir ’n heupvervanging by ‘n staatshospitaal sonder enige einde in sig. Hy het deur OHH onder ons aandag gekom en is gekeur vir twee heupvervangingsoperasies hier by ZAH, wat albei in 2019 uitgevoer is. Sy herstel was uitstekend; hy het sy mobiliteit herwin, en ek verneem hy kan weer heeltemal normaal leef. Sulke stories maak dit alles die moeite werd.

ZAH is een van Discovery se Top 20 private hospitale. Wat is die geheim van julle sukses?
Die geheim van ons sukses is grotendeels gevestig daarin dat  ons ’n maatskappy sonder winsoogmerk is. Ons kan dus fokus om gehalte sorg ons eerste prioriteit te maak en alle opbrengste word teruggeploeg in die opleiding van personeel, die fasiliteit en wêreldklas- kliniese toerusting. Die aanstelling van personeel wat met die hand uitgesoek word, verseker uitnemende kundigheid en vaardigheid, ’n passie vir ons medemens en hoë-kwaliteit resultate.

As julle nie besig is om welwillendheidswerk te doen nie, vir watter soort dienste is ZAH bekend? Wat hou julle teaters die volste?
Die kerndienste wat die hospitaal bied sluit kardiologie, kardiotoraks-, spinale-, ortopediese-, algemene-, oor- neus- en keelsjirugie in. ZAH is geakkrediteer vir bariatriese sjirurgie en bied ook pediatriese en interne medisyne aan.

Loader Loading...
EAD Logo Taking too long?

Reload Reload document
| Open Open in new tab

Download [2.12 MB]

Loader Loading...
EAD Logo Taking too long?

Reload Reload document
| Open Open in new tab

Download [525.43 KB]