Atterbury geniet ons borgskapbetrokkenheid by Akademia se Sakeplankompetisie geweldig, want die sakestories van entrepreneurs wat inskryf is behoorlik ‘n inspirasie. Willie Hamman het vanjaar die toekenning vir die beste bestaande sakeplan gewen vir sy onderneming wat ys-lollies verkoop, en daarmee ‘n prys ter waarde van meer as ‘n halfmiljoen rand ingepalm. Ons het met hom gaan gesels oor Star Pops

Vertel ons meer oor jou onderneming.
Star Pops is nou ses jaar oud, en het begin in Pietersburg, net so skuins voor die Wêreldbeker. Ys-lollies is nie nuut nie, maar ek het ‘n gaping in die mark gesien omdat die gehalte van wat daar in die platteland beskikbaar was nie baie hoog was nie. Ons het sedertdien gegroei tot ons nou ook ‘n tak in Pretoria het. Ons het twee fabrieke waar ons die lollies vervaardig, en ons verskaf dit aan die groot onafhanklike “Cash and Carry” groothandelaars, van waar kafees, smouse en ander kleiner handelaars dit dan aankoop.”

Wat het jy voor Star Pops gedoen?
Ek was oorspronklik in die konstruksie-bedryf, en was betrokke by siviele projekte, onder andere die Gautrain en Lynwood Bridge. Daarna is ek vir ‘n ruk Mosambiek toe, waar ek alles van kroegman tot nutsman was. Die idee vir Star Pops is in daardie tyd gebore, en ek is toe Pietersburg toe waar ek en my neef daaraan begin werk het.

Wat is jou verspreidingsgebied – waar kry mense Star Pops te koop?
In en rondom Polokwane, Shoshanguwe, Limpopo, Gauteng en die oostelike dele van Noordwesprovinsie.

Hoeveel mense werk nou vir jou?
Ons is nou ongeveer 60, maar het destyds begin met vier – dit was ek, ‘n masjienoperateur en twee pakkers! In daardie stadium was my neef en oom nog redelik betrokke so ons het almal om die beurt al die rolle gevul. Ek is van middel 2010 alleen in beheer, so as daar ‘n pakker gekort het, het ek self gepak, en as die masjienoperateur iets anders moes doen, was ek masjienoperateur.

Het jou produk enigsins verander sedert jy begin het?
Die verpakking en handelsnaam nie, maar ons resepte wel. Ek het dit oor die jare aangepas soos ek slimmer geword het oor voedsel-bestandele. Meestal om die kwaliteit nog te verhoog, en om voor die kompetisie te bly. Ek is nie bang om te eksperimenteer nie maar net die beste veranderinge eindig in die produk op. Ons het nou al sewe geure, en ek probeer om elke jaar ‘n nuwe een by te voeg. Ek het ook ‘n paar idees om die reeks uit te brei, sonder om te ver af te wyk van my ys-lollie fokus.

Wat is die gewildste geur?
Druiwe loop nog steeds voor, maar lietsjie, wat ek verlede jaar ingebring het, is kort op sy hakke!

Wat is die grootste uitdaging omtrent jou besigheid?
Die struktuur van die mark is ‘n definitiewe uitdaging. Die informele mark is baie uniek, in terme van hoe dit werk, en hoe verhoudinge werk. Net om jou ‘n idee te gee, ek kry meeste van my bestellings per Whatsapp of SMS. In ‘n formele mark het jy kontrakte en reëls, maar hier sal ek by ‘n kliënt se winkel kom, en dan het hy nie spasie vir die produk wat hy bestel het nie, of nie geld nie. Nou moet ons ‘n plan maak, want as ek daardie produk terugry fabriek toe is my wins daarmee heen. Jy moet dus baie goeie verhoudings opbou en reg wees om heeltyd in ‘n veranderende omgewing te werk wat elke dag nuwe interessante uitdagings oplewer.

Hoe het jy by die Sakeplankompetisie uitgekom en hoekom het jy ingeskryf?
Ek het eintlik al verlede jaar van die kompetisie gehoor, en toe die werkswinkel bygewoon. Ek het toe reeds besef ek het ‘n sterk behoefte aan mentorskap (ek is al een in my familie met ‘n entrepreneuriese streep), en die werkswinkel van verlede jaar het my ook bietjie gelei om te sien waar kom my besigheid kort.  So ek het toe ‘n jaar se harde werk ingesit onder leiding van ‘n mentor, en toe die kompetisie dié jaar aanbreek, gevoel ek is reg om in te skryf.  Ek het hoofsaaklik ingeskryf, omdat ek wou hoor wat sê ouens wie se opinies ek respekteer oor wat ek reggekry het, en tweedens, ek is maar ‘n swak netwerker, en hierdie is ‘n goeie geleenteid om blootstelling aan top sakemanne te kry.

Jy het meer as R500 000 in pryse gewen. Hoe gaan jy dit aanwend?
Die beste ding omtrent die prys is die sakeleiding wat mens kry – dis van onskatbare waarde om toegang te hê tot kenners wat met heeltemal ander oë na jou besigheid kyk en nuwe geleenthede raaksien, asook kan uitwys waar jy meer effektief kan werk. As mens so naby aan die ding staan is dit baie moeilik om perspektief te hê. Ek het reeds bietjie terugvoering gekry en sien baie uit na die samewerking. Die kontant-deel van die prys gebruik ek vir uitbreiding, en om ons huis bietjie op te knap.

Wat is in die toekoms vir Star Pops – wat is jou droom vir jou besigheid?
Ek sal baie graag lollies met bygevoegde vitamiene en/of minerale wou formuleer, sodat daar ook ‘n gesonder opsie is. Baie van die verkopers is in gebiede waar mense nie baie geld het nie, so kinders kry nie altyd die gesondste kos nie. Ek sal hou daarvan om iets lekker te verskaf wat ook voedingswaarde het; dis beslis iets waarheen ek werk vir die toekoms. En dan wil ek graag uitbrei, eers na die res van die Suid-Afrikaanse mark en daarna die res van Afrika.

Vir meer inligting oor Star Pops, skakel Willie Hamman by 087 654 4910 of e-pos [email protected]

 

star-pops