As jy regs van Rooikatstraat in Hesteapark, ʼn noordelike woonbuurt in die Jakarandastad, op ʼn grondpaadjie afdraai na die Wollies-diereprojek, sou jy nooit kon raai hier is ʼn veilige hawe vir sowat ʼn duisend vergete en verwaarloosde troeteldiere nie, skryf Esté Meyer Jansen op Maroela Media se webwerf.

Eers word jy begroet deur ’n vriendelike hondekoor bestaande uit seshonderd stertswaaiende brakke. Beslis iets om aan gewoond te raak. Daarna, sou jy gelukkig wees, sal ʼn kat of twee van die skuiling se vierhonderd inwoners ook darem gou kom hallo sê deur teen jou been verby te skuur waarna hulle weer vinnig ʼn plekkie op ʼn strooibaal in die son gaan opsoek.

Deesdae is daar selfs twee donkies wat Wollies nou hul tuiste noem. Die twee donkies het aanvanklik sleg deurgeloop onder hul vorige eienaars wat hulle gebruik het om swaar werk op ʼn bouterrein te verrig. Dié twee lyk jare ouer as die drie winters wat hulle beleef het.

Kallie sukkel steeds om op te staan en Lallie het brandmerke in haar nek. “Dit gaan al baie beter met hulle, maar ons het nog ʼn paadjie om met hulle te stap voordat hulle heeltemal gesond sal wees,” sê Cilla Trexler, stigter van Wollies.

Die skuiling het in Mei sy vyfde bestaansjaar gevier, vertel Cilla trots.

“Ek het nog altyd met diere gewerk en dié skuiling het alles begin by ʼn sterilisasieprojek. En ja, ek weet ek moes sekerlik al lankal opgehou het om diere in te neem, maar nou ja, hoe kan ʼn mens nee sê…” sê sy met haar skouers opgehaal.

Van Maroela Media se personeel en hul kinders het tydens die Julievakansie ʼn oggend by die diereskuiling ʼn draai gaan maak en tyd saam met die hawelose troeteldiere bestee. Die spannetjie het nie net die kans gehad om saam met ʼn paar oorgretige honde te gaan stap nie, maar het ook ʼn paar sakke honde- en katkos, asook ander troeteldierbenodighede, geskenk.

En bring jy ʼn dag saam met Cilla en haar span by dié hawe deur, dan verstaan jy hoekom sy nog nie haar deure kon sluit vir die hawelose diere wat steeds byna daagliks op die skuiling se voorstoep land nie.

In die paar uur wat Maroela Media daar was, was daar twee gevalle van honde wat by die skuiling opgedaag het. Die eerste geval het ʼn gelukkiger einde gehad: dit was net die bure se honde wat verdwaal het en hulle kon gou terugbesorg word. In die ander geval is die hondjie deur ʼn motor raakgery. Gelukkig het ʼn besorgde gesin hom op die straathoek opgetel en Wollies toe gebring, maar hy het dringende aandag van ʼn veearts benodig.

Vir Wollies se personeel en vrywilligers is dit maar net die normale verloop van sake. Honde en katte, groot en klein, word dikwels by die ingang na die skuiling afgelaai. Baie mense doen nie eens die moeite om self in te loop en te vra of Wollies kan help nie – hulle verdwyn maar net en die diere bly agter.

Cilla staan ook behoorlik bont soos wat sy die selfoon moet beantwoord met navrae oor die dienste wat die skuiling bied. Sy kan nie lank gesels nie, dan is daar weer ʼn mens of dier wat op haar knoppie druk vir aandag.

Hier word een munisipale asblik van 240 liter per dag katkos gegee en vyf munisipale asblikke van dieselfde grootte elke dag vir honde.

Maar elke dier wat by Wollies opdaag, kry ʼn naam. Die volwasse katte wat hier opdaag, kry elkeen hul eie tuiste in opgedolliede houthuise wat jou herinner aan die mooiste kleuterskole waar jy al ʼn draai gaan maak het. Hier kry elke troeteldier ʼn tuiste terwyl hulle wag vir ʼn vir-altyd-huisie – al neem dit dalk vir altyd.

Dit is skoon en netjies en ʼn mens kan sien hier word moeite met die hawelose diere gedoen.

Hoe hou ʼn skuiling soos hierdie sy deure vir behoeftige diere oop? Met genade en gebede, maar ook met die hulp en ʼn oop hand van die publiek wat maandeliks bydraes maak vir dierekos, veeartsrekeninge en ander benodighede, asook die sowat 20 voltydse personeel wat hier werk.

Sonder diereliefhebbers se hulp sal hierdie diere op straat moet rondswerf, want hulle het geen ander heenkome nie.

Hoe kan jy die Wollies-diereprojek ondersteun?

Besoek gerus Wollies se webwerf (https://wollies.org/index.php) or hul Facebook-blad (https://www.facebook.com/WolliesAnimalProject/) vir meer inligting oor die werk en unieke geldinsamelingsprojekte wat hierdie diereskuiling aanbied.

Andries du Toit, ʼn fotograaf, het ʼn wonderlike projek namens Wollies aangepak. Hy het honde, wat deur Furrytails Dog Training opgelei is, saam met ʼn paar ballerinas afgeneem en dit in A3-grootte kalenders omskep wat ten bate van die diereskuiling verkoop word. Diereliefhebbers kan hul eie kalenders uit ʼn keuse van ongeveer 25 foto’s saamstel en die kalender kan op enige maand van die jaar begin. Al die wins van die kalender word vir die skuiling geskenk. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek Wollies se Facebook-blad (https://www.facebook.com/WolliesAnimalProject/posts /1287191454750303) vir meer inligting hieroor.

Hierdie storie het oorspronklik op Maroela Media se webwerf, www.maroelamedia.co.za verskyn.