Onderwysers kan nou met hul vaardigheid en kennis deur Maroela Media se Afrikaans op Wikipedia-projek die kans staan om een maand se salaris te verdubbel.

Wanneer mens iets op die internet soek, is die kans baie goed dat jy ʼn artikel daaroor op Wikipedia sal kry. Dié bron word wêreldwyd gebruik en word in verskillende tale aangebied. As dit kom by Afrikaanse artikels op Wikipedia, is dié egter dun gesaai. Daarom het Maroela Media saam met ander liefhebbers van Afrikaans besluit om Wikipedia in Afrikaans uit te brei – nie net om Afrikaans te help bevorder nie, maar ook om leerders te help met navorsing vir skooltake en huiswerk.

Ons het jou hulp nodig om ʼn bydrae tot hierdie Afrikaanse biblioteek op Wikipedia te maak. Daar is reeds byna 68 000 artikels in Afrikaans op Wikipedia beskikbaar, maar dit skiet nog ver te kort aan die behoefte van Afrikaanse skoliere.

Maroela Media wil onderwysers aanspoor om soveel as moontlik artikels op die Afrikaanse Wikipedia (https://af.wikipedia.org/wiki/Tuisblad) te publiseer, sodat ons ʼn nalatenskap van kennis in Afrikaans vir ons kinders kan bou.

Onderwysers kan met hulle kundigheid en ervaring inligting in Afrikaans aan skoliere beskikbaar stel.

Die onderwyser wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 die meeste artikels op die Afrikaanse Wikipedia gepubliseer het, staan die kans om sy of haar salaris vir een maand te verdubbel, en boonop as die Wiki-onnie gekroon te word!

Dié video wys jou hoe om te werk te gaan om ʼn artikel op Wikipedia te publiseer. Onthou om die vorm te voltooi as jy vir die prysgeld in aanmerking wil kom. Stuur enige navrae per e-pos aan [email protected].

 

 

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.